Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Hierdie tyd van die jaar bly ’n Karoo-boer by die huis. Die res van die land kan met hulle fietse en koekblikke en Venter-waentjies in die vroeë oggendure deur die Karoo landskap jaag om by die see uit te kom, maar vir ons wat die vreugde het om elke dag die spasie en stilte van hierdie wêreld te geniet – is dit ons laertrek tyd. Dit is dan wanneer ons soggens vroeg opstaan voor die son met sy genadelose brand toeslaan om die skaap se waterkrippe om te ry. Dis ’n ou sê-ding met baie waarheid. Die windpompe kies mos juis die Groot Dae om sy nukke en streke uit te haal en dan… wel, dan staan die skaap sonder water en alles kom knersend op jou plaas tot ’n halt!

Dus, die enigste goeie outydse raad is om tuis te bly en seker te maak die windpompe bly werk om water en lafenis in die snikkende hitte vir diere te bly gee. Dis ’n wonderlike ding, die windpomp. Hy word nie verniet die blom van die Groot Karoo genoem nie! As dit nie vir hierdie geniale ingenieurswonder was nie, was daar verseker nie vandag landbou- of voedselproduksie in die land van ons nie. Maar hierdie pragtige stuk staal met sy toring, stert, kop en ritmiese silinderslag, bly vir my ’n baken van hoop en krag in sy suiwere eenvoud.

Deesdae sien mens die wysheid van die windpomp oral. Hy gaan soek nie die wind nie, hy staan en wag en weet dat die wind hom sal kry. Hy draai sy stert dat die skeppers vol in die wind staan. Eers dan kan die stange op en af beweeg en die water – die lewensbron van mens en dier – diep uit die aarde optrek.

Vir my is die windpomp ook ’n metafoor van ’n Christen se lewe. Sien, die windpomp gaan nie water kry as hy nie direk op die wateraar staan nie. Net so met die mens. Ons moet direk op God se Lewende Water staan om by Hom te drink. Ons moet met ons gesig vol in die Heilige Gees se wind staan en Hom toelaat om te waai soos Hy wil. Ons wag op die Here, want Hy weet wat om op die regte tyd te doen. En glo my, windpompe moet gereeld gediens word – daarsonder kreun en kraak hulle en trek hulle stange uit. Ons moet ook nie die samekoms van gelowiges en die bywoning van kerk nie versuim nie. Dan kom die water! Strome helder soet water wat ander om jou sal laaf en verkwik en vir jouself oorgenoeg sal los om nooit weer dors te word nie…

Wees ’n voorbeeld vir jou kind

  • Staan op God se Woord.
  • Hou jou gesig in die rigting wat die Heilige Gees waai.
  • Besoek jou kerk/selgroep gereeld en kry vars inligting vir jou geestelike groei.
  • Deel jou talente en gawes met ander.

Lees meer: “Are my kids on track?” deur Sissy Goff, David Thomas en Melissa Trevathan. Uitgegee deur Baker Book House. Meer oor die 12 emosionele, geestelike en sosiale mylpale wat kinders moet bereik.

2017-12-01T11:08:53+00:00