‘Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!’ Lukas 2:14

Kersfees kan nie net aan die boom plaasvind, of ónder die boom nie – al is die persente hoe pragtig en die versierings hoe stylvol. Kersfees kan ook nie net om die tafel gebeur nie, al is die tafel hoe feestelik en die kos hoe heerlik. Kersfees is ook nie net waar ons uit welwillendheid iets ekstra gee of in die kerk, waar ons aan die betekenis van die fees herinner word en Stille Nag sing nie.

Nee, Kersfees begin in die hart. Dis in die hart waar God-in-die-hoogste-hemel ere moet ontvang en in die hart waar die vrede-op-aarde moet grondvat. God se welbehae in die mens moet God se welbehae in híérdie mens word! Híérdie hart moet engele hoor en híérdie hart moet agter die tekens aan na God gaan soek – en Hom dan op die mees onwaarskynlike plekke vind! Hierdie hart, so onwaardig en ongeskik soos ’n stal, moet óópgegooi word vir die Koning.

In hierdie hart moet daar ’n Kind gebore word! Al gebeur dit stil-stil, een heilige nag in ’n hoekie van die ryk, sal die gevolge radikaal wees: die Kind sal die Koning word, die Koning sal regeer en die hele gang van jou geskiedenis verander! Ja, Kersfees moet in jou hart begin. As die fees dáár gebeur, sal dit oorloop na die huis, die tafel, die boom – kerk toe, die strate in! Vier nie net die eendag, lank gelede nie, vier die HIER en die NOU! Vier Immanuel – God met JOU!

Gebed

U leef in my hart, Here! Dít is die fees!

‘Daar was net één Kersfees – die res is herdenkings – en dis nog nie verby nie!’ GK Chesterton

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2017-12-01T11:26:37+00:00