Ek deel my hart

“Die Here is genoeg vir my”

Deur Judith Kamffer | Foto’s Hanneri de Wet

Aktrise Carine Rous moes haarself sewe jaar gelede afvra: ‘As ek nooit weer toneel speel nie, is God genoeg vir my?’ Vandag sê sy sonder twyfel: “Ja!”

Op die hoek van 7de straat en 4de Laan, voor The Whippet in Linden, bid sy vir my. Met haar hand op my skouer sou verbygangers ons misgis vir ou vriendinne – knus in mekaar se geselskap. Voor God, koffie-snobs en karwagte smeek sy opreg Sy seën op my af. En sy bid soos sy lag – met spontane oorgawe. Sonder vrees en sonder skroom. Met die volheid en kennis van wie sy is: dogter van die Almagtige.

Dit is ’n soel oggend in Oktober en die Jakarandas hang purper sag teen die pad. Die mooiste maand. Die koffiewinkel is stampvol en ons moet vooroor leun om mekaar mooi te hoor. Oor haar beroep as aktrise sê sy laggend: “Ek het altyd gedink dis vir ander mense. Ek voel werklik geseënd. Asof ek in ’n droom lewe.” As jong dogtertjie het haar verbeeldingsvlugte karakters in haar My Little Ponies aangewakker. Haar ambisie om ’n juffrou te word soos haar ma en later ’n prokureur het haar van een ding oortuig… dat sy meer as net één ding wou wees. “Ek het besef dat ek meer daarvan hou om die rol van ’n juffrou te vertolk. Of ’n prokureur.”

Agter die skerms

Carine het aan die destydse Pretoria Tegnikon drama studeer vanwaar sy haar eerste rol in Villa Rosa losgeslaan het. “Ek het nie die rol gekry waarvoor ek oudisie het nie. Daar was nie ’n manier dat ek dit sou kry nie, maar toe bied hulle vir my ’n ander rol aan.” Vandaar het Carine saam met Christel van den Bergh kinderteater produksies by skole opgevoer en veel later die rol van Nina van Rooyen in Fiela se kind losgeslaan teenoor die befaamde Sandra Prinsloo. Nadat sy in 2008 met Luke Rous van Rous House Productions getroud is, het hulle na Johannesburg verhuis en het sy agter die skerms inbeweeg. “Ek was vir lank behind the scenes. Dit is baie goed. Dit hou jou voete plat op die aarde… ” vertel Carine, wat kort daarna in ’n SABC 2 komedie Askies gesien kon word.

Na haar rol as die sekretaresse Susan Steyn in die 2012 film Semi Soet het sy in ’n SABC 3 produksie van Rous House, High Rollers toneel gespeel. Dié suksesvolle drie jaar lange TV reeks is skielik gekanselleer in Desember 2016. “Toe ons hoor van die kansellasie, het ons ook God se voorsienigheid beleef. God het ’n plan vir almal en het ook aan diegene voorsien vir wie ons verantwoordelik gevoel het. Dit het my werklik geleer om verantwoordelik en verantwoordbaar te wees vir my finansies, maar ook te vertrou dat God voorsien. Vandag weet ek dat ek geseën word om ’n seën te wees vir ander. En ek glo dat as mens aanhou werk, God die regte deur sal laat oopgaan.”

So het deure ook oopgegaan vir Carine by SABC se Isidingo. “Dit was die moeilikste teks wat ek al in my lewe moes oudisie het. Ek het oudisie vir die rol van ’n joernalis so die teks was verskriklik tegnies. Na my eerste oudisie het hulle gevra dat ek vir die uitvoerende vervaardiger gaan oudisie. Ek het dadelik vir haar in ’n produksielokaal oudisie, maar voor ons begin het, het ek gevra of ek maar my skoene kan uittrek. Tot vandag toe nog vertel mense vir my hulle was in daardie oudisie toe ek my skoene uitgetrek het!” Ongelukkig is haar karakter later uit die storielyn geskryf, maar kon sy voortgaan om in Getroud met Rugby te speel en het sy die Here se voorsienigheid eerstehands beleef deur haar betrokkenheid in Pick ’n Pay advertensies.

“Jou werk is nie jou roeping nie. Jy het ’n roeping en jou werk is net nóg ’n manier om jou roeping uit te leef.”

Roeping is veel groter as jou beroep

Carine se geloof staan sentraal tot haar lewe, huwelik, roeping en werk. Sy voel verantwoordelik vir die stories wat sy vertel en die rolle wat sy vertolk. Meer as dit, glo Carine dat hoe jy agter die skerms optree, boekdele oor jou lewe as Christen spreek. Sy vertel: “Jy preek deur jou lewe. Ek vra myself af: hoe praat ek oor my man, is ek betyds vir werk, hoe hanteer ek kritiek, is ek eerlik met mense en staan ek by wat ek glo? En dit is baie moeilik op ons stelle. Mense laster. Dit is nie altyd so in die Afrikaanse industrie nie, maar in die Engelse industrie is dit moeilik wanneer iemand laster, want sjoe, daardie Naam beteken so geweldig baie vir my. Ek probeer dan mooi aan my kollegas verduidelik: ‘Ek sal nooit só oor iemand vir wie jy lief is of jou geloof praat nie.’

Ek word ook altyd gekonfronteer met die vraag: het ek ’n oop hart om vir mense iets te leer of hou ek Jesus vir myself? Ons het ’n ruimhartige Vader en daarom moet ek ook vrygewig te werk gaan. En ja, ’n mens is ook verantwoordelik vir die stories wat mens vertel en vertolk. Jy moet mense speel soos mense. En mense het foute. Daar is altyd die potensiaal vir verlossingswerk in enige karakter se verhaal. Sou ek ’n karakter speel wat egbreuk pleeg, het ek die verantwoordelikheid om die verwoesting wat dit aan verhoudings aanrig te vertolk. Ek raak werklik betrokke by die karakter en die storielyn. Jy het die reg om te vra waarheen die karakter gaan. En soms moet mens wegstap wanneer die Heilige Gees mens waarsku. Jou werk is nie jou roeping nie. Jy het ’n roeping en jou werk is net nóg ’n manier om jou roeping uit te leef.”

’n Kragtige openingsmonoloog het Carine laat oudisie vir die rol van Anna in die Kyknet reeks, Elke skewe pot. ’n Maand nadat die reeks tot ’n einde gekom het, het die geleentheid om te oudisie vir ’n rol in Thys en Trix, onder die gewilde regisseur Quentin Krog oor haar pad gekom. “Jy wíl saam met hom werk” sê Carine. “Ons het dit verfilm in Mosselbaai en ek is so lief vir Mosselbaai! Dit was werklik ’n bederf om in Mosselbaai en saam met almal op stel te werk. Met Thys en Trix het ek eintlik vir die eerste keer besef dat God, wanneer ons bid kan sê ‘nee, ja of nie nou nie’, maar dat ons steeds moet vra. En ek het gevra dat as dit moontlik is ek baie graag dié rol wil speel.”

“Ek is nie net een ding nie. Ek is ’n vrou en ’n sussie en ’n dogter van God.”

God se keuse

“Sewe jaar gelede het ek voor die vraag te staan gekom: As ek nooit weer sou toneel speel nie, is die Here genoeg vir my? En ek het geantwoord, ‘nee’. Ek moes dit as afgod neerlê. Ek het al God se beloftes in die Bybel gaan opsoek en dit onderstreep. Dit as my eie geneem en op Hom vertrou. ’n Jaar daarna is my pa oorlede in ’n fietsongeluk, en as ek nie daardie tyd met die Here gehad het nie, sou ek dit nie kon verwerk nie. Die dood is nie van God af nie. Hy gebruik dit tot Sy eer, ja, maar dit is nie van Hom af nie. En daarom het ek Hom nie bevraagteken nie… Hy het dan Sy Seun vir ons gegee om ewig te kan lewe. Ek het God op daardie tydstip geken. Ek weet Wie Hy is. Dankie tog vir daardie tyd!”

Carine het in die swaar tye en die tye sonder rolle geleer om haar identiteit in Jesus te vind. Om soos brooddeeg te rus en te verrys. “Soms kom ek op stel en dan het drie mense die rol al van die hand gewys. En dan voel ek soms soos die laaste keuse, maar ek weet: ek is God se keuse. En ek is nie net een ding nie. Ek is ’n vrou en ’n sussie en ’n dogter van God. Ek was altyd bang dat mense my vra wat doen ek vir ’n lewe – veral as ek nie op daardie tydstip in iets verskyn nie. Ek is uiteindelik op ’n plek waar ek vrede daaroor het, want dit is nie my identiteit nie. Vir baie lank het ek gewonder wat om vir mense te sê… Wie is ’n aktrise wat nie act nie? Ek ontmoet almal wat nooit televisie kyk nie, maar ek het geleer dat dit okay is as mense nie weet wie jy is nie… want dit is nie jou identiteit nie. Jesus weet wie ek is. Ek moet getrou wees met dít waarmee ek geseën is.”

Oor een van haar seëninge, haar man sê Carine: “Luke is ’n mentor. Hy doen soveel om sy geloof in hulle besigheid uit te leef. Hy stel gereeld nuwe mense aan. Lei hulle dan op om hulle die kans te gun op ’n beter toekoms.” Gevra oor die industrie, bieg Carine: “Ek sien nie Christene op skerm, soos ek hulle ken nie. Ek glo in wat die Bybel sê, want ek sien dit. En ek werk aan ’n projek om dit aan mense te wys. Die idee is dat mense kan sê: dit is hoe ek ook voel. Dit hoef nie ’n Box Office hit te wees nie, maar mens doen dit vir die Here so mens wil dit goed doen. Die film industrie gaan deur ’n baie moeilike tyd. Tog sien ek die goedheid van God. God voorsien elke dag ons manna.”

Soek God se hart

Voor ek sien is my koffie koud. Ons gesels so lekker oor die toekoms, dat die tyd vir ons gaan stilstaan het. “Ek is oop vir wat die Here in my toekoms wil doen. Ek weet nie werklik wat gaan gebeur nie. En daar is rus-tydperke, maar God gaan voorsien. Soms op die vreemdste maniere. Ek dink dit gaan my asem wegslaan! En nie omdat ek spesiaal is nie, maar omdat Hy ’n plan het vir almal.” Ek vra haar oor haar raad aan jong vroue soos ek, en diegene wat droom oor ’n lewe in die vermaaklikheidsindustrie. “Hou jou kop oop. Veral as jy glo die Here druk iets spesifiek op jou hart. Daar is baie verskillende maniere om jou talente uit te leef. Vra God. Woeker met jou talente. Skryf jou drome neer. Wees gehoorsaam en wees getrou. Wees ’n entrepreneur en ’n pionier. Stel nuwe standaarde. Bo alles – soek na God se hart.”

2017-12-07T07:26:39+00:00