Boekgesprek

Lééf gesels met Stephan Joubert, prediker en skrywer, oor sy jongste boek God se wil vir jou lewe.

Vraag: Stephan, waar het jou liefde vir skryf begin?

Jong, ek wens ek kan ’n maklike antwoord hierop gee. Skryf het maar so half en half begin toe ek gevoel het as leraar en later as ’n jong proffie by TUKS dat die waarheid meer kante het as wat ons soms in die kerk hoor, en dat ons ook ander tipe boeke kort as dié waaraan ekself blootgestel was.

Vraag: Wat inspireer jou en wat beskou jy as die moeilikste aspek van die skryfproses vir jou?

Kreatiwiteit inspireer my. Alles aan skryf is lekker en dis in dieselfde asem ook harde werk. Veral die vind van idees waaroor ander dalk nie dink of praat nie en die uitdaging om dit dan interessant te verpak en te deel! Nooit is skryf vir my maar net ’n “kreatiewe vonk” en siedaar, dan kom alles vanself nie. Ek moet eers een of ander vars idee of konsep raakboor oor ’n bepaalde tema. Iets nuuts in God se skatkamers moet ontdek word. Ek onthou die woorde van Hemingway dat mens eenvoudig net voor jou skryfmasjien (in sy dae ’n tikmasjien) moet loop sit en bloei. Maar as ek moet kies vir die moeilikste deel hiervan, dan is dit die konsepsualisering-fase. As enige idees uiteindelik nie met my hart resoneer nie, al het ek soms ’n hoofstuk of wat hieroor gegriffel, dan moet dit uit die manuskrip uit! In sulke tye onthou ek ook Hemingway se bemoedigende woorde: “It is none of their business that you have to learn to write. Let them think you were born that way”. Maar ook onthou ek dan ’n stukkie wysheid van W. Somerset Maugham: “There are three rules for writing a novel. Unfortunately, no one knows what they are”.

Vraag: Kom ons gesels bietjie oor jou boek God se wil vir jou lewe – Waarom het jy hierdie tema aangepak?

Ek skryf nog altyd oor God se wil. Die eerste boek wat ek ooit op my eie geskryf het doer in 1990, het hieroor gehandel. Dit was getiteld: In pas met God. Toe volg daar later jare ’n Bybelstudie oor God wil, asook ’n groot dagboek hieroor getiteld: My lewe in God se wil. En toe weer ’n verwerking van die eerste boek met die titel: In pas met God se wil. Hierdie nuutste boek is ’n herskrywing en herverpakking van al die voorgenoemde boeke. Toe my uitgewer vroeër vanjaar genoem het hulle wil een van hierdie boeke her-uitgee, was dit my voorstel om almal saam te voeg en te herskryf. Daarom is hierdie nuwe boek in sowel ’n nadenkende as ’n Bybelstudie-formaat gegiet. Die beste manier om oor God se wil te leer, is om nie net hieroor te lees nie, maar om ook self in die Bybel rond te delf.

Vraag: Vir wie is hierdie boek geskryf?

Ek dink dis vir ’n ieder en ’n elk bedoel wat nadink oor God se wil en wat dit wil uitleef.

Vraag: Hoekom is hierdie boek juis van belang vir Christene vandag en nou?

God se wil is ’n brandpunt-vraag in enige situasie wanneer dinge sleg gaan. Dan wonder almal skielik waar is God. Wat is Sy plan? Is Hy in beheer? In sulke tye is daar heelwat self-aangestelde advokate vir die hemel hier op aarde met kits-antwoorde soos dat die Here dit of dat toegelaat het om mense te straf, terug te kry en wat nog alles. Sulke eensydige en skeefgetrekte reaksies kort lig, Bybelse lig. Daarom sou dit sinvol kon wees om nadenkend deur die Bybel self te werk op soek na God se wil.

Vraag: Wat wil jy graag met hierdie boek bereik?

Ek bid dat mense ’n Bybelse kyk op God se hart sal kry as hulle Hom opnuut as Hemelse Vader ontdek en raaksien en vanuit verhouding-aangedrewe roetes oor sy wil begin dink. Meeste nadenke en gesprekke oor God se wil gebeur langs oorsaak-gevolg roetes. Dit word gegiet in beheer-en-kontrole taal. God se wil word in meeste gesprekke geproblematiseer terwyl die eenvoud van Sy wil, soos wat Jesus dit in Johannes 6:38-40 verwoord, misgekyk word. In ingewikkelde taal gesê te veel mense dink rasioneel oor God se wil en nie vanuit ’n verhoudingsoogpunt nie. Hulle dink kop-aangedrewe en nie hart-aangedrewe hieroor nie. Familie-taal is die Bybelse taal wanneer God se wil ter sprake is. Om vanuit hierdie familie-beelde aan God se wil te dink, soos wat die Nuwe Testament met name doen, verander letterlik alles rondom ons eie verstaan en belewenis van Sy betrokkenheid in ons lewens en in die wêreld.

Vraag: Wat was vir jou die moeilikste en wat was die maklikste aspek van die skryf van die boek God se wil vir jou lewe?

Ek dink die moeilikste was om die Bybel suiwer tot spreke te bring te midde van verskillende misverstande wat oor God se wil wat op lukrake idees en losstaande teksverse gebaseer word. Dit was veral uitdagend om eensydighede en stereotipes oor God se wil, wat gebaseer word op gewilde stellings soos “daar is ’n doel met alles”; “jy sal later verstaan”, of: “alles gebeur met ’n rede” (en wat nie in die Bybel voorkom nie), reg en met deernis aan te spreek.

Vraag: Jy hou nie boek van die hoeveelheid boeke wat jy gekryf het nie. Hoe dan so?

My pa het ons groot gemaak om nie boek te hou van ons lewe en van enige sogenaamde prestasies nie. Van kleins af het ek geleer om my oog op die Here te hou en nie te dink ek is iets as ek dalk presteer nie. Vandag nog volg ek hierdie roete. Ek weet eerlikwaar nie hoeveel boeke ek al geskryf het nie en probeer ook nie tel nie. Maar elkeen van hulle is my geestelike kinders en ek sien elkeen as ’n geleentheid om die Here mee te verheerlik en nuwe insigte oor Hom met ander te deel

Vraag: Is daar ’n volgende boek in beplanning waarna ons kan uitsien?

Hmm, my kop is vol idees. Miskien ’n dagboek oor vreugde…

Stephan Joubert is ’n spreker, prediker, leierskapkonsultant en skrywer. In 2010 is een van sy boeke, Jesus ’n radikale sprong, bekroon met die Andrew Murray-prys. Stephan is buitengewone professor in Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat en Noordwes-Universiteit, ’n navorsingsgenoot in Teologie aan die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland, redakteur van ’n groot e-kerk op die internet, en deeltydse leraar.

God se wil vir jou lewe word uitgegee deur CUM Boeke. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/om-te-leef-in-god-se-wil-sagteband

2017-12-01T10:32:11+00:00