Lééf as gesin

Om ’n enkelma te wees

Deur Erina Ludwig | Foto Hanneri de Wet

Geen vrou kies om alleen haar kinders groot te maak nie. Laat ons haar dan met liefde omvou, eerder as om haar te verwerp.

Ek het ’n vriendin in ons gemeente. Haar naam is Linda en sy is die ma van Bea en Herman. Haar kinders het verskillende pa’s en sy is nie met een van hulle getroud nie.

Skok dit jou? Jy is nie die enigste een nie.

Vir baie mense beteken Christenskap ’n netjiese volgorde of ritme. Ons gaan hoërskool toe, dan universiteit toe, waar ons ons man ontmoet. Ons voltooi ons studies, ons trou, trek in ons eerste huis in en kry dalk ’n hond; en dan het ons kinders.

Gelowiges wat by dié volgorde hou, word gewoonlik ten volle ondersteun en dra die goedkeuring weg van hul kerk en gemeenskap. Dié wat nie by die volgorde hou nie, word alte dikwels erg gekritiseer, of selfs erger, kry die skuld vir alles wat fout is in ons gemeenskappe.

Die pad na enkelouerskap

Linda is slim en werk in die kantoor van ’n premier. Ja, sekere keuses het sy self gemaak, en in ander gevalle het die lewe namens haar gekies. Bea is gebore toe Linda 19 was en van haar huislike omstandighede probeer ontvlug het. Sy wou haar verhouding met Bea se pa laat werk, maar uiteindelik wou hy nie ’n gesin hê nie.

Die manier waarop Bea se pa teenoor Linda opgetree het, en die skeiding wat gevolg het, het haar van haar naïwiteit ontneem. Tog, soos so baie enkelma’s oral, het sy gehoop om iemand te ontmoet wat vir haar sal lief wees, vir altyd.

Linda het aan Herman se pa verloof geraak toe sy weer swanger geword het, en kort voor lank het sy met die donker kant van sy persoonlikheid kennis gemaak. “Sy slegte buie was altyd op my gemik en nooit op Bea nie, daarom het ek gedink dis oukei. Dit was immers beter as die isolasie en die selftwyfel waarmee ek so geworstel het.”

Maar dit was nié beter nie en uiteindelik het die verhouding met Herman se pa kort ná hul seun se geboorte skipbreuk gely. Vandag is Linda ’n werkende enkelma van twee kinders. En sy is nie die enigste een nie.

Miskien hoop God dat ons sal uitreik na enkelma’s wat net soos Hagar verwerp is en geen uitkoms meer het nie.

’n Wêreld vol Lindas

Linda verteenwoordig ’n vinnig groeiende demografie in die wêreld: die enkelouer.

En tog is enkelouerskap nie ’n nuwe verskynsel nie. Enkelma’s word in die Bybel genoem, en baie van hulle was weduwees. Om in die Bybelse tyd ’n man aan die dood af te staan, was ’n reuse- sosiale en finansiële terugslag.

Vandag kom enkelouers steeds voor ’n reuse-uitdaging te staan. Dis ’n uitmergelende taak om kinders groot te maak, selfs met ’n huweliksmaat aan jou sy. Julle moet geld verdien, ’n huishouding aan die gang hou, die kinders opvoed en hulle skool en universiteit toe stuur.

Dis geen wonder nie dat God in Eksodus 22: 22-23 verklaar: “Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie. As jy tog so iemand veronreg, en Hy na my roep, sal Ek na sy hulproep luister.”

Hagar: ’n Enkelma se krisis

Een van die bekendste enkelma’s in die geskiedenis is Hagar, wie verhaal in Genesis 16 en Genesis 21:8–21 vertel word. Dié dapper vrou se status as ’n enkelouer – ’n sosiale uitgeworpe op ’n veel erger wyse as enkelma’s vandag – kleur juis haar verhaal ongelooflik mooi in.

Hagar was die slavin van Sarai, die vrou van Abram. Ná ’n swakdeurdagte plan van Sarah om ’n ma te word deur haar man se verbintenis met Hagar, het laasgenoemde die lewe aan Ismael geskenk. Sarah was gou jaloers en het vir Abraham aangepor om haar voormalige dienskneg en haar kind weg te stuur.

Later sien ons dat Hagar en Ismael in die woestyn by Beersheba is, swak, hulpeloos en gereed om te sterf. Hagar was alleen saam met haar seun. Sy het geen uitgebreide familie gehad nie, geen man nie, geen ondersteuningsnetwerk nie. Die bietjie wat sy aan haar seun kon bied, was klaarblyklik nie genoeg nie. “God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: ‘Wat is dit Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor” (Genesis 21:17).

Hier sien ons hoe die Vader vir enkelouers en hul kinders intree. God voorsien water vir Hagar en Ismael, en belowe dat hy nie net sal oorleef nie, maar die vader van ’n groot nasie sal word (Genesis 21:18–19).

Hagar en haar seun is deur ander verwerp en in die steek gelaat – maar nie deur God nie. Ons sien nie deesdae veel van die wonderwerke wat Hagar beleef het nie. Dalk is dit omdat Jesus ons die opdrag gegee het om ander soos onsself lief te hê (Johannes 13:34). Miskien hoop God dat ons sal uitreik na enkelma’s wat net soos Hagar verwerp is en geen uitkoms meer het nie.

Ons wil elkeen gesonde, gelukkige, gebalanseerde kinders hê.

Die enkelma van vandag

Ma’s wat alleen vir hul kinders moet sorg, het dikwels nie werk nie, of verdien nie soveel soos hul manlike eweknie nie.

Daarom vrees soveel enkelma’s vandag steeds wat van hul kinders gaan word, net soos Hagar. Hulle bekommer hulle oor mediese rekeninge, om kos op die tafel te sit en hul gesinnetjie bymekaar te hou – en dan praat ons nie eens van die gewone ouervrese soos geldprobleme of skuldgevoelens omdat Ma soveel tyd op kantoor deurbring nie.

Navorsing het bevind dat 70% van die samelewing glo dat enkelouerskap sleg is vir die gemeenskap.

Dis geen wonder nie dat enkelouers ongemaklik voel oor dié etiket nie. Die meeste is hardwerkende ouers, net soos enige getroude paartjie wat ’n huis en ’n toekoms vir hul kinders probeer skep, maar hulle word dikwels as die “probleem” in ons gemeenskappe gesien.

Net so baie enkelpa’s

Johan is ’n boukontrakteur. Hy is ook ’n enkelouer. Hy deel toesig oor sy 8-jarige dogter, Dané, met Karin, met wie hy in ’n verhouding was. Hy besef hy is gelukkig omdat so baie mans nie deel van hul kind se lewe kan of mag wees nie. “Daar ís baie mans wat meer tyd by hul kinders wil deurbring, maar nie die opsie het nie,” sê hy.

Die getal enkelpa’s het ook die afgelope vyftig jaar drasties gegroei. Enkelpa’s is in die minderheid onder enkelouers, maar hul stryd is nie meer gering nie. Dié stryd lyk dalk anders as dié van ’n enkelma, soos dat hulle nog minder deur die gemeenskap aanvaar word, of glad nie met hulle kinders mag kommunikeer nie. Boonop gee howe meestal voorkeur aan die ma se regte in sake waar kinders ter sprake is.

Wat alle ouers wil hê

Die gesinne van vandag lyk nie soos gesinne van die jare vyftig of selfs die jare tagtig nie. Ouers lyk anders, maar hul hoop bly dieselfde. Elna is ’n enkelma wie se man gesterf het kort voor hul seun se geboorte. Sy sê: “Ek wil net hê dat my seun gelukkig sal wees, dat hy heel sal wees.” Elna se wens spreek van die hart van ouerskap. Ons wil elkeen gesonde, gelukkige, gebalanseerde kinders hê.

In Genesis 21:21 lees ons dat Hagar en Ismael hul ontberinge oorleef het. God het by Ismael gebly. Hy het ’n boogskutter geword en met ’n Egiptiese vrou getrou.

Hy het ’n lang lewe gehad, maar ongelukkig het die onmin tussen hom en Abraham se familie nooit tot ’n einde gekom nie. Vandag nog leef Ismael se afstammelinge in stryd met dié om hulle (lees Genesis 25:12–18).

Dit hoef nie vandag meer die geval vir enkelouers en hulle kinders te wees nie. Ons kan enkelouers help om vooruit te boer en negatiewe etikette af te skud. Ons kan aan hulle liefde betoon, hulle in ons kerke verwelkom en aanbied om hulle te help en te ondersteun soos ons met “heel” gesinne sou doen. Wanneer ons dít doen, is ons immers gehoorsaam aan Christus se opdrag om vir enkelma’s te sorg.

Die artikel het oorspronklik op www.todayschristianwoman.com verskyn. © Christianity Today International. Vertaal deur Dawid Yzelle.

2017-12-09T17:25:56+00:00