Goedvoel

O die vreugde!

Deur Lizette Murray | Foto Hanneri de Wet

Ons is almal op soek na diep, ware vreugde. Maar dit ontglip ons so dikwels…

Ek voel weer veilig, o God, ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing, ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies U lof besing, want U liefde reik tot in die hemel, U trou tot in die wolke.

Ons verval soms in pessimisme en praat saam met doemprofete oor aardverwarming, terrorisme, ons land, ons regering, geweld, armoede, onreg. Dan vergeet ons hierdie woorde van Psalm 108 wat Dawid reeds eeue tevore in verwondering uitgeroep het.

Dawid het bly sing, ten spyte van Saul wat hom vervolg het. Hy het op sy lier bly speel, ondanks lewensgevaar en vyande wat sy ondergang gesoek het. Hy het God bly loof, al het sy lieflingseun Absolom en sy hartsvriend, Jonatan, gesterf.

Ons is almal op soek na diep, ware vreugde. Maar dit ontglip ons so dikwels.

Laat elke omblik tel

Een van ons kinders het smiddae, wanneer hy van die skool af terugkom, sy tas neergegooi en reguit na ons trampolien gehardloop. Die volgende halfuur het hy al sy dag se opgekropte frustrasies uitgespring.

Ek het hom dikwels dopgehou. Gewoonlik was die eerste paar spronge stadig. Ritmies. Op en af, sy arms en bene vier windmeulspane wat lig en sak. Lig en sak. Stadigaan het die bewegings losser geword. Die arms skiet uitbundig omhoog wanneer die voete vastrap en opwip. Elke keer wanneer die klein springertjie op die mat land, bons hy met jubelende veerkragtigheid terug, die arms oopgesprei teen die blou lug, die bene reguit en gereed vir die volgende sprong. Wat my bybly, is die onbevange vreugde van ‘in die oomblik wees’. In daardie oomblikke was daar vir hom niks anders wat saak gemaak het nie. Die skooldag was vergete. Ook die huiswerk wat wag. En môre se toets. Hy was volkome in die nóú.

Ons wag so dikwels vir buitedinge om die vreugdevuurtjies in ons aan te steek. Vreugde is egter meestal in gewone oomblikke en gewone eenvoudige dinge te vind. Die kuns is om dit te soek.

Dis eintlik net ’n springmat ver.

In ons oomblikke van grootste hartseer ervaar ons soms onverwags ’n vonkie vreugde.

Die soet en die suur

Dis ’n lewenskuns om te leer dat hartseer en blydskap langs mekaar kan bestaan. Soms is ons vasgevang in ons eie pyn. Dan kyk ons die vreugde-oomblikke langs die pad mis. Want hulle is daar. Ons dink egter verkeerdelik dat ons eers moet wag dat ons hartseer opklaar voordat ons weer vrolik kan wees.

Vreugde en droefheid is reisgenote. Hulle loop saam-saam deur ons lewe – parallel soos die twee spore van ’n trein. In ons oomblikke van grootste hartseer ervaar ons soms onverwags ’n vonkie vreugde, en in ons oomblikke van grootste geluk is daar dikwels ’n ondertoon van weemoed. Tussen dié twee spoorlyne lê die dwarslêers van God se genade: eweredig, vas en seker.

Audrey Blignault skryf in haar essay, Om die son te aanskou, hoe sy na haar man se dood in ’n motorongeluk maande lank stom en verslae was. Sy het geleef sonder om regtig te ervaar dat sy leef. Sy het na haar nuwe kleinkind gekyk sonder om hom regtig raak te sien. Die lewensvreugde van vroeër was weg.

Een oggend het haar kleinkind in sy waentjie by haar op die stoep gelê. Toe Audrey sy koergeluidjies hoor en opstaan om te kyk, sien sy dat hy ’n sonstraal op sy hand ontdek het en dat dié enkele sonstrepie hom so fassineer dat hy skielik vrolik en borrelend lag, omdat hy die heel eerste keer die son op sy hand sien.

Die eenvoudige sonstraal op haar kleinkind se hand het haar die eerste keer in maande weer laat voel dat sy leef: … eers ’n ligte fladdering van bewustheid – toe die opstuwende wete: die son, die son is hier. Die son skyn op ’n mens se hand.

’n Mens kan hartseer of verlies nie aanjaag nie. Ongelukkig nie. Dit is deel van ons aardse bestaan. Wanneer die vlammetjie van hoop laag brand, is dit moeilik om blymoedig te wees.

In sulke tye is dit nodig om by die Here te gaan sit en eerlik met Hom daaroor te praat. Dan moet ’n mens ’n skuilplek vir jou hartseer bou en saam met jou hemelse Vader in daardie skuiling vertoef.

Om daarvan weg te hardloop en dit te ignoreer, help nie. Jy kan pyn nie weg lag of dood wens nie. Om dit in die oë te kyk is deel van die genesingsproses.

Al gaan dit nie noodwendig altyd goed nie, kies die blymoedige mens om gelukkig te wees.

Draai jou kop na die son

Ons hoef egter nie éérs beter te voel voordat ons weer kan begin lag nie. Wanneer ons ons pyn konfronteer en opreg en eerlik rou, kom daar onverwagse oomblikke van suiwer vreugde oor ons pad.

Ons moet ons koppe na die son te draai, al is die skadu’s dig op mekaar. Spreuke 15:15 lui: Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees.

Die woord ‘blymoedig’ beteken ‘bly’ én ‘moedig’. Die blymoedige is vrolik en terselfdertyd vol moed. Al gaan dit nie noodwendig altyd goed nie, kies die blymoedige mens om gelukkig te wees.

En dan, dan glip die lag soms vanself uit.

Die Prediker skryf dat lag ’n gawe van God is – ’n geskenk wat ons help om die lewe verteerbaar te maak. Hierby voeg Mark Twain: “Humor is dikwels lewensreddend. Die oomblik wanneer humor by ’n swaarwigtige gesprek inglip, verdwyn woede en knorrigheid en oordeel, en die son skyn weer.”

In dieselfde trant skryf Uys Krige: “Die lag is iets heerliks. Iets heiligs. ’n Gawe van God. Die lag is van die mens, die grond, die aarde. En hoe nader jy aan die aarde kom, hoe nader kom jy aan die hemel.”

Enersyds is blydskap soos die baldadige opwip van ’n kind op ’n trampolien. Andersyds moet ons diep daarvoor delf.

Ons soek soms verkeerdelik ons vreugde in vlietende oomblikke van verbygaande geluk. In prestasie. Of besittings. Of posisie. Net soos sjokolade ’n suiker- en energie-inspuiting gee wanneer die bloedsuiker laag is, bring hierdie dinge dikwels kitsverligting aan iemand wat smag na vreugde. Maar dis nie standhoudend nie. Dit lei elke keer tot ’n núwe, dieper hunkering – na nóg en béter en béste. Maar omdat hierdie soort geluk nie van binne af kom nie, kan dit enige oomblik van jou gesteel word.

Soos die Bybelse wysheid, moet ons ook vreugde najaag. Ons vind dit in onsself. In die najaag van dit wat edel en goed is. In musiek en mooi woorde. In die natuur. In kuns. In skoonheid.

In die boek, The Winter Vault van Anne Michaels, grawe ’n bejaarde egpaar ná die Tweede Wêreldoorlog tussen die puin na iets bruikbaars. Hulle vind ’n glas. Ongeskonde. Sonder ’n kraak of afgesplinterde randjie. Die man roep opgetoë uit: “’n Glas! nou kan ons daaruit drink!” Die vrou antwoord: “Kom ons sit blomme daarin. Ons kan nog steeds uit ons hande drink.”

Sy het vreugde in ’n klein stukkie skoonheid gevind, ondanks die puin rondom hulle.

Vreugde en veerkragtigheid loop hand aan hand. Dis ’n lewenstyl. Dis ’n kurkprop wat weer en weer opkom na oppervlakte, al word dit hoe diep ondertoe gedruk. Dis die uitbundige op-en-af-spring op ’n trampolien. Dis onbevange jubelkrete. Dis lag wat borrelend bruis soos water oor rivierklippe.

Maar vreugde is ook ’n diep, rustige rivier wat stil en blink en breed deur ’n landskap loop. Dit maak ’n pad oor rotse en afgronde en stroomversnellings. Dit verken nuwe loopplekke en vertak al wyer – soos ’n delta oor dorre aarde.

Vreugde is nie nét ’n gawe wat ons vir ons eie gewin van God ontvang, sodat ons self met lewenshoop gevul kan word nie. Dis ook ’n geskenk wat ons moet aangee. Vreugde is soos ’n vol rivier wat voortstu en dan oor sy walle breek en dor laagtes en droewe woestyne met jubeling vul.

Terwyl ons yl loflied hier op die aarde weerklink, vul God self die musiek aan met akkoorde van Sy liefde en trou.

Deur die poorte van lof

Vir ’n Christen breek vreugde altyd uit in lof. Wanneer ek my hande in lofsang na God uitstrek, raak my vingerpunte die soom van Sy kleed. Ek word uit die beperkinge van my eie liggaam gelig en word deel van iets veel groters as ekself. Die poorte van lof skuif voor my oop.

Want musiek is die taal van God se hart. Dis Sy geskenk aan ons. Deur musiek gee Hy ons ’n glimps van Sy heerlikheid. Soms is ons woordeskat te ontoereikend om werklik te kan sê hoekom ’n sekere lied ons diepste wese aanraak. Al wat ons weet, is dat God groot en ontsagwekkend is. En dat hy ons deur vreugde en lof aan Hom verbind.

Ons begin iets verstaan van Dawid se uitroep: Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies U lof besing, want U liefde reik tot in die hemel, U trou tot in die wolke.

Terwyl ons yl loflied hier op die aarde weerklink, vul God self die musiek aan met akkoorde van Sy liefde en trou. Die vreugdelied word ’n magtige simfonie van vreugde. Die klank trek verby alle grense. Dit raak aan die wolke en reik tot in die hoogste hemel…

Een mens wat met vreugde en hoop leef, kan nie alleen die somberte wat dreig om mense te oorweldig, lig maak nie. Elkeen van ons se taak is net om van die klein stukkie wêreld wat ons betree, ’n beter, vreugdevoller plek te maak.

Pablo Neruda skryf in sy gedig Bird:

Die een voëltjie het dit na die volgende aangegee, die blinkblou geskenk van die nuwe dag fluit vir fluit…

Met elke krom en skewe noot gee ons hoop en vreugde aan ’n dorre wêreld aan. Die vreugdeklanke styg op en weerklink ver en wyd – fluit vir fluit.

2017-09-30T09:18:16+00:00