‘n Kwessie van geloof

Waarom, Vader?

Foto Hanneri de Wet

Soms is dit moeilik om te verstaan dat ’n liefdevolle God Sy kinders oënskynlik in hul pyn verlaat…

Wanneer pyn buitengewoon intens, tragies en verskriklik is, wanneer dit altyd teenwoordig eerder as tydelik is, kom ’n gedagte soms by ons op waaroor ons nie graag praat nie, maar juis moet. Wanneer ons voel ons word verskeur deur pyn, vra ons dikwels: “Hoekom leef ek nog? Hoekom kan God my nie net laat doodgaan nie?” Hoekom verlos Hy ons nie van ons lyding nie, hoekom haal hy die lyding nie uit ons uit, of haal ons uit die lyding nie? Hoekom draai Hy Sy gesig weg wanneer Sy kinders in pyn is?

Te midde van swaarkry

Wanneer Paulus skryf oor die “dood” wat “aan die werk is” in hom en sy Christen-vriende (2 Korintiërs 4:12), praat van die daaglikse keuse om jouself te verloën en met vreugde en in vryheid die gekruisigde Christus te volg, selfs te midde van swaarkry en opofferings, selfs tot die dood toe. In dié stadium van Paulus se lewe was dit God se wil dat hy lewend bly en die Evangelie met vrug verkondig, al is hy selfs in die tronk gegooi en moes hy herhaaldelik onverklaarbaar swaar lyding beleef juis omdat hy God se Woord getrou met die wêreld gedeel het. Natuurlik leer God hom hoe om, te midde van sy daaglikse sterf aan die self, vír Christus en afhanklik van Christus te leef. Maar die “lewe” waarvan Paulus praat in dié vers, is nie die lewe wat “in hom” is nie, maar “in julle”. Hier gaan dit oor die Kerk.

In nog ’n brief, aan die Filippense, skryf hy: “Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins. As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste, maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in jul geloof kan hê. As ek weer by julle kom sal ek oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.” (Filippense 1:20–26).

So sal dit ook vir ons beter wees om by Jesus te wees – en wat ’n wonderlike dag sal dit nie wees nie!

Ter wille van ander

Hoe help enigiets hiervan die vraag wat brand in die hart van die gelowige wat swaarkry: “Hoekom kan God my nie maar net laat sterf nie?” Dink maar aan die kind van God wat in ’n oogwink weens ’n motorongeluk verlam gelaat word, en die res van haar lewe in ’n rolstol of bed moet deurbring. Of die slagoffer van ’n afbrekende siekte wat haar stadig maar seker van haar laaste bietjie lewenskwaliteit ontneem? En wat van die gelowige vrou wat vasgevang voel in ’n ongesonde verhouding waar sy emosioneel en dalk ook fisiek mishandel word, of in huislike omstandighede wat die een probleem op die ander lewer?

Wat van die vrou wat ’n geliefde te midde van ’n tragedie aan die dood afgestaan het nie kan sien hoe sy sonder hom langer kan leef nie?

As dit Paulus se begeerte is om saam met Christus te wees, waarom laat God hom steeds in sy liggaam, in hierdie wêreld, voortleef, met al die lyding en swaarkry wat daarmee saamgaan?

Die antwoord? Dit is so ter wille van die mense om hom. “Ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste, maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.” As ek my sin kon kry, was ek nou in die hemel saam met God! Dít is eintlik wat Paulus sê. Om by Jesus te wees is vir Paulus immers beter as om steeds lewend in sy aardse liggaam te wees. So sal dit ook vir ons beter wees om by Jesus te wees – en wat ’n wonderlike dag sal dit nie wees nie! En wat ’n wonderlike manier om na die dood te kyk. Om saam met Jesus te wees is by verre beter. Maar tog sê God dat wanneer ons steeds leef, in die liggaam, is dit omdat ons werk vir Hom nog nie afgehandel is nie.

Kind van God wat nou swaarkry en nie verstaan hoekom dit so moet wees nie, jy is vandag lewend omdat God ’n doel met jou pyn het – ’n doel wat ten goede meewerk vir ander en die eer van God se naam. Jy is dalk besig om aan jouself te sterf, maar in die Kerk is jou lewe in Christus besig om harte en lewens te verander.

Deur Kristen Wetherell and Sarah Walton; Die artikel het oorspronklik op www.todayschristianwoman.com verskyn. © Christianity Today International. Vertaal deur Dawid Yzelle.