Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Hoe meer jy in die oë van jou Vader kyk, hoe meer sien jy méér …

God is liefde! Dit weet ons. En tog is ons met tye so bang om in Sy oë te kyk. Skrikkerig oor wat ons daarin kan lees wanneer ons aan ons eie gebrokenheid dink. Ander kere weer gaan ons koponderstebo deur die lewe en vergeet ons eenvoudig om op te kyk na Hom omdat ons vasgevang is in ons eie voeteval… in die volgende tree wat ons moet neem. Dit terwyl Sy sagte oë van begrip, deernis en onvoorwaardelike liefde onverpoos op ons rus – ongeag of ons dit raaksien of nie.

Dalk moet ek en jy meer tyd maak om sommer net met sy Woord voor Hom te gaan sit, deur die Evangelies te blaai en te beleef hoe Jesus na mense gekyk het. Hoe Hy met ’n vergifnishart wegkruipmense na Hom toe geroep het, stukkendes beskerm het, seergekrydes heelgemaak het, banges kalmeer het, spelende kinders liefderyk op sy skoot getel het… Dalk moet ons hierdie verhale nie net lees nie, maar onsself verplaas na die gebeure van destyds en regtig beleef hoe die gebeure voor ons afspeel. In ons verbeelding sien hoe Hy Saggeüs tussen die vyeblare raaksien en hom vra om by hom tuis te gaan. Hoe Sy sagte hande die van ’n melaatse aanraak, hoe Hy die owerspelige vrou omarm, omdraai na die bloedvloeiende vrou, Petrus se ma met sorg uit die bed help. Hoe dieper ons kyk na die Jesus wat destyds die stofstrate van Jerusalem vir altyd verander het, hoe meer sal ons ook Sy soort liefde raaksien op ons daaglikse reis; sal ons beleef hoe Sy liefde ook in ons reflekteer. Die manier waarop ons na Hom kyk sodat ons dan vir onsself ánders lyk.

Wanneer jy in die spieël van God kyk, kyk ’n ander weergawe van jouself na jou toe terug. ’n Weergawe wat deur Sy liefde, goedheid en heelheid getransformeer is. ’n Mens wat heelgemaak is ten spyte van die krake in ons menslike spieëls. ’n Vrou wat nie anders kan as om Sy soort liefde ook te weerkaats nie.

Kyk meer in jou Vader se oë van liefde vir jou. Liefde wat jou – ten spyte van jouself – altyd meer en meer wil toevou.

Opkyk-mens

Geboë en inmekaar gekrimp was sy in die middel van die kring verwoede mans. Opkyk was nie ’n opsie nie, want in hul oë was haat. Verwerping. Verwyt. Dis toe wat Hy tussen hulle kom staan en sê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” (Joh. 8:7) Toe word hulle stil. Verdwyn hul skaam-skaam. Totdat net Jesus self voor haar staan en sy opkyk. Dis toe wat sy Sy oë sien. Oë wat sê: “Jy’s lankal vergewe. Want Ek is hier. Jy’s skoongewas. Want my naam is Rein. Ek het jou lief. Want jy is myne.” En dis toe wat sy met ’n ander beeld oor haarself kon wegstap. En ’n ander beeld kon gaan leef. God soek jou oë. Want Hy wil vir jou wys hoe lyk Sy oë. Hoe lyk Sy liefde. Sy goedheid. Sy heelheid. Kyk op na Hom: weer en weer. Totdat jy Hom sien soos Hy jou sien. Met liefde.

Liefgehê – dis ek!
Vader-God
Soms is ek bang vir U.
Skaam.
Onseker.
Omdat ek ek is:
’n Mens wat in ’n gebroke
spieël kyk en skerwe sien.
Vandag herinner U my weer aan
wie ek is
wanneer U na my kyk.
Hoe ek lyk
as U voor my staan.
Wat ek word
wanneer u liefde na my weerkaats.
Ek wil aanhou na U kyk
totdat ek myself kan sien.
Myself deur u oë van liefde
sien.

Boodskap:

Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou lief het. Jesaja 54:10