Geloof het ’n adres

’n Nuwe naam

Deur Jacqueline Leuvennink | Foto’s Claudia de Nobrega & Hanneri de Wet

Vir die musikant, Lize Hadassah Wiid, was dit die Vader se reddende liefde wat haar lewe eens en vir altyd op koers geplaas het.

As Lize Wiid haar bos blonde hare optel, is daar ’n lang snymerk as bewys van die breingewas wat vroeër vanjaar suksesvol verwyder is.

Sommige van ons kies om ons letsels waar moontlik vir die oë van die wêreld te verberg. Of jy kan, soos Lize, jou hare optel. Dit vir ander wys. Nie om aandag te trek nie. Maar bloot omdat die Groot Geneesheer dikwels letsels gebruik om ander, net so kwesbaar en verward soos ons, te bedien en te versterk.

Op 38 vertel Lize egter veral van ’n ander, veel groter genesing. Iets wat haar lewe ses jaar gelede so ingrypend kom verander het dat sy vandag bereid is om openlik te praat oor die smag en die soek in die donker doolhowe wat dit voorafgegaan het.

Haar verhaal soos vertel in haar boek Born for such a time is een waarmee baie jong mense van ons tyd kan identifiseer. Nie altyd mooi nie. Dikwels dwaas. Van ’n eilandjie wat weggebreek het van die vasteland af om haarself mettertyd op ’n al eensamer plek te bevind. ’n Afstand wat net die Here uiteindelik weer kon oorbrug.

Troos agter die klavier

In haar huis in die noordelike voorstede van Kaapstad vertel sy van haar kinderjare in Stellenberg as een van twee kinders in ’n huis met Pa en Ma albei onderwysers. “Ek was ’n hipersensitiewe kind wat dinge net meer intens as die gemiddelde kind ervaar het. My ouers is steeds die belangrikste mense in my lewe en ek sal altyd dankbaar teenoor hulle wees dat hulle my van kleins af van die Here geleer het. En veral dat hulle vir my deur my donker jare bly bid en ondersteun het.”

En tog het Lize van jongs af geworstel met gevoelens van verwerping. “My ma kry steeds trane in haar oë as sy vertel hoe sy my as eenjarige by ’n bewaarskool moes gaan aflaai. Ek neem hulle geensins kwalik nie – sy moes die pot aan die kook bly hou – maar dit het ’n erg negatiewe effek op my gehad. Teen die tyd dat ek pre-primêr toe moes gaan, het ek vreeslike skeidingsangs gehad.”

Sy was ’n besonder skaam laerskoolkind. “As ek in die klas iets moes antwoord, het hulle altyd gesê ek moet harder praat. Pousetye het ek meestal eenkant gesit en met niemand gesels nie.”

Iets waarmee sy wel ’n verhouding kon opbou, was die klavier. “Toe ’n ander kind een middag op ons klavier kom oefen het, het sy Für Elize gespeel. Ek het in daardie stadium nog nooit klavierlesse geneem nie maar nadat sy weg is, het ek gaan sit en dit van gehoor af gespeel. My ma het gedink dis steeds die ander kind.”

Daarna was dit omtrent al wat Lize wou doen. “Ek kon ure en ure die een liedjie na die ander speel en het lank voordat ek enige onderrig ontvang het reeds my eie liedjies begin komponeer.”

Sy het wel later les begin neem. “Maar teen graad 4 het dit my verveel. Ek het gereken ek kan in elk geval enigiets speel. Hoekom moes ek verder sukkel met musiek lees en teorie-eksamens skryf?”

Sy het opgehou. “Maar ek het nie ophou klavier speel nie.”

Agterna gesien, glo ek dit was net my ouers se gebede wat gekeer het dat ek nie ’n oordosis ingekry het terwyl ek later anoreksies geraak het nie.

Verkeerde keuses

Lize het in die hoërskool saam met haar beste vriendin, Marlize, tydens ’n uitreik hul harte vir die Here gegee. “Maar dit het my nie verhinder om van graad 11 af allerlei dinge agter my ouers se rug te begin doen soos om te veel te drink en te partytjie nie. As ek dalk meer geweet het van geestelike oorlogvoering sou ek moontlik beter keuses gemaak het, nie vir Satan so ’n vatplek in my lewe begin gee het nie. Ek was ook nie in ’n vaste verhouding soos party van my vriendinne nie en toe ek ’n tweede plek in ’n skoonheidskompetisie behaal het, het ek gevoel ek is nie goed of mooi genoeg nie. Ek het wel altyd gesê ek sal daarvan hou om eendag ’n aktrise te wees, waarskynlik omdat ek nie tuis in my eie vel gevoel het nie. Almal het dit dan net afgelag en gesê ek is hopeloos te skaam daarvoor. ”

Ná matriek het haar ouers besluit om ’n paar jaar in Taiwan te gaan Engels gee. “Ek het ironies genoeg gedink ek is nou uiteindelik vry, terwyl ek al meer vasgevang geraak het in ’n verkeerde leefwyse. Omdat ek nie die nodige musiekagtergrond gehad het om musiek te gaan studeer nie het ek maar vir ’n kursus in Skakelwerk by Stellenbosch College ingeskryf.”

Ná ’n jaar van baie laat nagte, dagga-sigarette en mans wie se belangstelling ná ’n week of twee opdroog, het Lize die volgende jaar in ’n surf shop gaan werk. “My gevoelens van rigtingloosheid en verwerping het my al meer rebels gemaak. Om voort te gaan met ’n kursus waarin ek glad nie belangstel nie het ook nie sin gemaak nie. Daar was ’n skrynende hartseer in my as ek ander mense sien musiek maak het.”

Sy is dus kort voor haar twintigste verjaardag soos baie van haar Suid-Afrikaanse tydgenote op ’n vliegtuig Londen toe om twee jaar daar te gaan werk. “Ek het in die proses darem oor my vrees vir Engels gekom en kon ’n foutlose aksent verwerf. Maar ek het met ’n klompie mans bevriend geraak saam met wie ek oor naweke dwelms gebruik het en heelnag in klubs rondgehang het. Omdat ek van werk tot werk rondgeval het, het ek toenemend minderwaardig en ontsettend onseker begin voel.

“Agterna gesien, glo ek dit was net my ouers se gebede wat gekeer het dat ek nie ’n oordosis ingekry het terwyl ek later anoreksies geraak het nie. My familie was geskok toe hulle my weer gesien het. My hare was stompkop gesny, pikswart gekleur en ek het ’n groot silwer ring in my neus gedra. Daar was gevaarlik min oor van die eens onskuldige meisie met die lang, blonde hare.”

Ek het eendag in ’n fliek in trane uitgebars. Daar was skielik ’n ontsettende verlange na die Here.

Die krag van gebed

Terug in Suid-Afrika het dinge relatief beter gegaan. Sy het klavier begin speel in restaurante en haar as skoonheidsterapeut bekwaam, waarna sy ses maande op Amerikaanse passasierskepe kon gaan werk. Maar haar hart was nie daarin nie en ’n kombinasie van destruktiewe, kortstondige verhoudings en die gebruik van kokaïen het haar weer al meer soos ’n uitgeholde boomstomp laat voel.

“Ek het eendag in ’n fliek in trane uitgebars. Daar was skielik ’n ontsettende verlange na die Here. ’n Paar dae later het my skoolvriendin Marlize my onverwags uit die buiteland gebel. Toe ek haar van my ervaring vertel, het sy gesê sy en haar gebedsgroep het presies op daardie tydstip vir my gebid. Dit het my gemotiveer om weer die versugtinge van my hart voor Hom te lê: ‘Here, al wat ek wil doen, is om musiek te maak…’”

Kort hierna is haar drome bewaarheid. Die Radio Kalahari Orkes het tydens ’n toer van twee weke in die Kaap ’n plaasvervanger-sangeres gesoek. Lize, nou 27, het niks van hulle geweet nie en was verbaas om by haar eerste oefening agter te kom dat die bekende akteur, Ian Roberts, die hoofsanger is. “Ek was erg onervare maar die gehore se reaksie was goed. Ek was in die wolke toe hulle my ná die Kaapse toer gevra het om permanent by hulle in Johannesburg te kom aansluit.

“Met al die opwindende geleenthede om nou saam met interessante mense musiek te maak, was my spirituele oplewing van korte duur. Ek was vir die volgende sewe jaar deel was van RKO en het ook die geleentheid gekry om saam met ander orkeste soos Die Kaalkop Waarheid op te tree en ander instrumente te leer bespeel. Synde die enigste vrou in hierdie orkeste het ek baie aandag van mans gekry. Maar ek het ’n obsessie met my voorkoms ontwikkel en my verhoudingslewe was chaoties. Ondanks talle voornemens om ’n skoner lewe te lei, het ek keer op keer teruggeval. Ek het toenemend besef ek het Jesus nodig om die leegheid in my te vul.

’n Sagte fluistering

“Een aand by ’n troue het die woorde verander jou lewe telkens by my opgekom. Ek was op ’n laagtepunt. By die huis aangekom het ek uit desperaatheid The Message Bible wat ’n vriendin vir my gegee het, oopgemaak. Ek kon op my rug val toe die opskrif van passasie in Joël 2 presies dit was: verander jou lewe…

“Kort daarna het ek die verhaal van ’n Joodse meisie Hadassah gelees. Dit het my diep geraak. Nadat ek egter een aand weer te veel gedrink het, het ek een miserabele naweek by Oppikoppi onbedaarlik begin huil. My lewe was ’n gemors. Dit was of iets my beheer het. Ek het my niggie, Annelize, in ’n toestand gebel.”

Hulle is saam na Annelize se kerk. Dit was die begin van Lize se pad na bevryding van alles wat haar gebind het. “Nadat drie vroue vir my gebid het en die Heilige Gees die een probleem na die ander aan hulle uitgewys het, kon ek hierdie sondes bely. My lewe het van daardie oomblik af radikaal verander.”

Lize het ’n jaar later uit die sekulêre musiekwêreld getree. Ses jaar later maak sy hier en internasionaal opgang as Lize Hadassah Wiid. Haar aanbiddingsmusiek, soms saam met ’n vriendin Sarah Jubilee, en ook haar optredes by kongresse soos dié van Eagles’ Wings dra ’n kragtige boodskap. “Ek is meer ekstrovert as vroeër omdat ek weet ek is nie wat ek doen of hoe ek lyk nie, maar wat ek in Christus is.”

Die brose fluit het ’n orkes geword, een wat mense se lewens aanraak. Jy kan haar kontak by www.Hadassahsong.co.za.

2017-12-09T17:20:19+00:00