Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Onlangs kuier ons kinders hier. Terwyl ek in die kombuis doenig is, luister ek onbeskaamd na die stories wat die volwasse manne vir mekaar oor hul kindertyd vertel.

“Onthou jy nog daardie keer… ?”

En dan dreun dit soos hulle lag. Hulle herroep gelukkige ervarings. Komiese insidente. Naelskraap-ontberings. Sommige stories hoor ek vir die heel eerste keer. Terwyl hulle vertel, kom staan hul grootwordtyd helder voor my. Vlietende onvervangbare jare.

Ek besef weer – soos dikwels tevore – dat een van die grootste geskenke wat jy vir ’n kind vir sy lewe kan saamgee, nie geld of aardse goed is nie. Dis hartsgoed. Belewenisse wat hul laat glimlag. Wat hul in moeilike tye help vorentoe beur. Wat hulle laat terugkom huis toe.

Daarom is dit nodig dat ’n ma sal weet: Wanneer ek kinders grootmaak, gaan hulle mors. Hulle gaan goed laat val en breek. Hulle gaan draai. En laat wees. En dinge verlê of verloor. Hulle gaan ’n vinger of toon sny en dalk ’n oogbank oopval.

Hy het hoër en hoër gegooi. En natuurlik – die oomblik toe hy misvang – tref die bal die glasblad. Flenters.

Een aand was ek en my man by ’n werksfunksie. Toe ons in die garage stilhou, wag ’n ontredderde klein seuntjie ons in. Voordat ons nog behoorlik kon uitklim, begin hy verduidelik.

“Pa. Pa. Ek is regtig baie jammer. Dit was nie aspris nie. Die krieketbal het… ”

Voor hy verder kan verduidelik, begin hy huil. So tussendeur die snikke kom die storie met rukke en stote uit. Sy broers vul aan. En hulle borduur lustig by. Boeta het sy vangskote in die sitkamer geoefen. Ouboet het ’n paar keer gemaan dat die tafel met sy glasblad gevaarlik naby is, maar die krieketman was so meegevoer dat hy net sy oog op die bal gehou het. Hy het hoër en hoër gegooi. En natuurlik – die oomblik toe hy misvang – tref die bal die glasblad. Flenters.

Die res van die aand is hy bang gepraat oor watter allerverskriklike pak slae hy gaan kry wanneer ons by die huis kom. En hoe sy sakgeld ingekort gaan word. Ook hoe hy self vir ’n nuwe blad sou moes opdok én hoe hy waarskynlik nie dié seisoen verder krieket sou mag speel nie. Vir ’n man wat sy krieket só ernstig opgeneem het, dat hy selfs ons Protea-paaltjiewagter se handtekening voorin sy Bybel gehad het, was dit ’n donker vooruitsig.

Die aand het heeltemal te lank geword. Teen die tyd dat ons by die huis gekom het, was die oortreder se senuwees aan flarde.

Hy het sy pa smekend aangekyk. Die straf moes nou maar kom.

Met sy hand vertroostend op die ontstelde mannetjie se skouer, het Pa begin praat: “Ek dink die lang wag vanaand was al klaar ’n groot genoeg straf vir jou. Môre kan ons ’n plannetjie met die glas maak.”

Boeta het met sy sakgeld help betaal vir ’n nuwe glasblad. Hy het nooit weer krieket in die huis geoefen nie. Hy het geweet sy pa vertrou hom – en hy wou daardie vertroue skend nie.

Hemelse Vader, dankie dat U toorn nie vir altyd duur nie. Wanneer ons ’n fout maak en opreg jammer is, staan U reg met vergifnis – al bly die straf nie uit nie. En al herinner die gevolge ons dikwels nog aan ons misstap. Dankie vir U liefde. Amen