Hartstog

Mooie Montagu

Foto’s Marsel Roothman & Marselé Prinsloo

Montagu is ’n dorp met ’n ryk geskiedenis, omring deur majestieuse berge. Jacqueline Leuvennink het daar ’n Kaapse draai gaan maak.

Tydens een van die ysigste dae van verlede winter bevind ’n groep van my familie ons een oggend op ’n oop trekker teen die berghange van die Koo naby Montagu. Op Arangieskop, 1 500m bo seevlak, begin ons verstaan waarom die Khoisan-woord vir Koo “koud” beteken. Langs die pad lê die sneeu soos strooisuiker in die proteas se krone. Neil Burger van die plaas Protea, ons gids vir die oggend, deel komberse uit en ons wikkel ons stywer teen mekaar vas. Almal is vol van die lekkerte van ’n paar dae by die warm mineraalbaddens in die helende omgewing buite Montagu. En nou wag die weelde van fynbos en nog lieflike uitsigte. Agterna onthou ek die vuur in ’n berghut. Die muskadel en die droëvrugte wat help laaf teen die koue. En die klomp tevrede mense wat die trekker aan die einde van die oggend met armsvol proteas by stomende potjiekos en kanne moerkoffie kom aflaai het.

Deur die berge

In die lente vanjaar ry ons weer vol afwagting deur die tonnel in Cogmans Kloof. Die natuurlike poort deur die majestieuse berge na Montagu en ook die toegang tot die Klein Karoo. Dit is as ’n Nasionale Monument verklaar. ’n Historiese Britse fort wat tydens die Anglo-Boere-oorlog in 1899 bo-op die tonnel as uitkykpunt gebou is, hou steeds die wag. Die spel van kleur teen die dramatiese hoë kranse wil ’n mens gevange hou. Ons weet egter ons moet aanstoot. Dis maar net die begin. Anderkant die tonnel wag Mareletta Mundey, hoof van die toerismekantoor in Badstraat en redakteur van die Montagu Mail. ’n Vrou wat dit haar taak en vermaaklikheid maak om soos ’n Alice in Wonderland te vra: How deep do you want to go down the rabbit hole? Die dorp is ryk aan geskiedenis. Die destyds afgeleë klein nedersetting in die Langeberg is eers “Agter Cogmanskloof” genoem. Baie van die latere ontwikkeling was danksy die versiendheid van ’n Britse Sekretaris van die Kaapkolonie, John Montagu. In 1845 het die gemeenskap die dorp tussen die Keisie- en Kingna-riviere uit erkentlikheid na hom vernoem. Montagu het onder meer gesorg dat daar met die hulp van die pad-ingenieur Andrew Bain en sy seun Thomas toegangsroetes deur die Kaapse berge geskep is. Hy het daarmee letterlik ’n nuwe wêreld oopgebreek wat deur veral boere en sakemanne aangegryp is. Vandag produseer die gebied ons land se meeste sagtevrugte en word twee derdes van alle Suid-Afrikaanse droëvrugte in die Montagu-son gedroog. Met ’n gemiddelde reënval van net 250mm per jaar is selfs die wintermaande meestal sonnig. Hier reën dit eerder konfyt, muskadel, rose en appelkose. Vroeglente ook vygies en bloeisels.

Die spel van kleur teen die dramatiese hoë kranse wil ’n mens gevange hou.

Landskap op landskap staan boordensvol belofte van nuwe groei. Klimaatsgewys is Montagu ver genoeg suid om te ontsnap aan die hitte van die Karoo maar terselfdertyd noord genoeg van die gebruiklike lang, nat Kaapse winters. Die sowat 15 000 inwoners van die dorp kla nie. Dis een van die baie redes waarom hierdie geskiedkundige dorpie tot 38 000 besoekers per maand ontvang wat die sake-en toerismebedryf stimuleer. Daar is dus te kies en te keur tussen die verskeidenheid restaurante en gastehuise. Die bekende warmbaddens bly ook ’n groot trekpleister. Volgens oorlewering was dit een van die vroeë trekboere wat Montagu se helende mineraalwater ontdek het. Die man se hand is beseer toe dit onder ’n wawiel beland het. Hy het ’n bergstroom gevolg tot waar dit begin warm word het. In die proses het hy sy hand herhaaldelik in die water gedoop. Toe die hand tot sy verbasing heelwat vinniger herstel as wat hy verwag het, het die nuus van Montagu se helende waters vinnig begin versprei. Daar is later vasgestel dat die omgewing inderwaarheid 20 sulke bronne het, party so warm soos 42 grade Celsius en die ander weer taamlik koud. Ons Europese voorsate wat hierheen uitgewyk het, was terdeë bewus van die medisinale kwaliteite van mineraalwater. Tydens die 18de en 19de eeu was dit hoog mode vir welvarende mense om jaarliks op te trek “to take the waters” – plekke soos Bath in Engeland en Baden-Baden en Carlsbad in Bohemia was veral gewild.

Van toeka tot nou

Op die hoek van Bad- en Kohlerstraat stop ons by die Montagu Country Hotel, die oudste een op die dorp. Hierdie bekende baken was van toeka se tyd af ’n gunsteling stop vir reisigers op pad na die warmbaddens net buite die dorp. Die huidige Art Deco hotel is in 1922 opgerig agter die oorspronklike Victoriaanse gebou wat daarna gesloop is. Vandag bied dit vir eienaar Gert Lubbe ’n ideale speel-en werkplek. Met sy liefde vir interieur kon hy die Art Deco tema deurvoer met allerlei sorgvuldig uitgesoekte items van oraloor. Besoekers aan die hotel word daagliks verras met ’n mengsel van unieke, ouwêreldse sjarme en onverdunde plattelandse hartlikheid. Gert is ook die vurige bemarker van Route 62. “Die pad tussen Beaufort-Wes en Worcester wat Route 62 insluit, is met sy mooi klein dorpies ’n aantreklike alternatief vir die N1 en slegs 70 kilometer langer.” PJ Basson, Gert se vennoot en ewe bruisende hotelier, toergids en storieverteller sluit hom by ons aan. Hy nooi ons vir ’n rit deur die dorp in een van die hotel se twee glansryke veteraanmotors, ’n 1956 De Soto Fireflight Pillarless S24 Sportsman. Die kar is duidelik ’n bekende gesig op Montagu want sover ons ry, stop mense waarmee hulle besig is om eers te waai. Die elegante ou dame het al die wêreld deurkruis. Oorspronklik van Detroit in die VSA spog sy ook met reise deur van Gibraltar, Cannes en Bordeaux tot verskeie lande in suidelike Afrika. Die dorp met sy leiwaterslote, skoon, netjiese strate, versorgde tuine en goed bewaarde argitektuur ís iets om te wys. Wat verslyt het, is met die jare opgekoop en verbeter. Orals vertel ou grasdakke en Victoriaanse “broekielace” verhale van eertydse inwoners en ook hul sin vir die estetiese.

Die dorp met sy leiwaterslote, skoon, netjiese strate, versorgde tuine en goed bewaarde argitektuur ís iets om te wys. Wat verslyt het, is met die jare opgekoop en verbeter.

Ons gaan loer in by Jouberthuis, ’n Kaaps-Hollandse juweel en die oudste bestaande huis in die dorp. Dit ressorteer nou onder die Montagu-museum en Don Woodford, geskiedenisliefhebber en reeds 15 jaar by die huis betrokke, is ons gids. Die huis het oorspronklik behoort aan Pieter Gideon Joubert, vrederegter van die dorp en ’n kleinneef van generaal Piet Joubert. Danksy die familieverbintenis het die groot eer die dorp te beurt geval om die generaal en die toekomstige president van die ZAR, Paul Kruger, een aand in 1880 hier te ontvang. Nadat die ete teen elfuur die aand afgehandel is, het die huiseienaar nog op eg Bybelse wyse buitentoe gegaan en die gewone mense van die straat af genooi om ook by die tafel te kom aansit. Joubert-huis het in later jare erg verwaarloos en die groot vloed van 1981 het dit verder beskadig. ’n Besoeker, Kenneth Birch, het gelukkig geld vir restourasie geskenk en plaaslike inwoners het ingespring om die rousteenmure te versterk, die rietplafon te vervang en nuwe vloerplanke te lê. Don wys vir ons onder meer ’n Victoriaanse vlieëvanger uit Japan wat destyds in vooraanstaandes se huise gebruik is. En stel ons ook later voor aan Estelle Cloete, plaaslike kruiekenner. Sy is gemoeid met die proses om die medisinale kruietuin agter die huis ook tot sy oorspronklike glorie te herstel. Montagu-distrik het ’n ryk geskiedenis van medisinale kruierate, ’n nalatenskap van die Khoisan wat hulle in die Langeberge gevestig het en uitmuntende veldkenners was. Baie van hul nasate was plaasarbeiders en het die rate op hul beurt aan die eerste boere oorgedra wat bykans geen mediese dienste gehad het nie. Danksy ’n uitgebreide navorsingsprojek wat in 1982 begin is, is daar vandag 51 soorte kruietees by die museum te koop. Daar is rate vir van ’n Montagu-maag tot die swakte van die ouderdom en die benamings is kleurryk: rugseerbossie, sewedaegeneesbossie, tandpynbos, ouvroubossie, dawedjieswortel, hongerteebos…

Montagu is ’n plek waar mense nie net hul erfenis koester en bewaar nie. Hulle koester ook mekaar.

’n Ryk oes

Teen hierdie tyd is ons reg ingestem vir tradisionele boerekos. By Die Boord koffiewinkel dra Johanna en Anna-Marie Nel, twee susters uit Calvinia se wêreld, huislikheid en wellewendheid saam met die borde stomende kos na jou toe aan. Ons verneem dis ’n plek waar jy op ’n Sondag ou gunstelinge soos Roly Poly en sagopoeding te wagte kan wees. Of Dinsdae in die winter blitsende brei-en hekelnaalde voor die kaggelvuur aantref wanneer lede van die hekel-en-haakgroepie vergader. En in vanjaar se somer sal die dorp se vroue weer oudergewoonte appelkose in die boord kom oes vir konfyt maak. “Die mense ry teen begin Desember sover as uit die Kaap uit om teen R4 per kilogram appelkose te kom pluk,” glimlag Johanna. Die aand vier ons saam fees by die bekendstelling van ’n nuwe bergfiets-roetekaart, nog ’n gunstelingaktiwiteit in hierdie wêreld. Vir stappers is daar wandelpaaie wat wissel van 2.4 tot 15.6 kilometer. En die kultuurlewe bly ook nie agter nie. “Montagu se mense klim graag op ’n verhoog vir ’n goeie saak,” vertel Mareletta. Ons hoor van Fiona en Mitya Sergeant wat met ’n eie balletgeselskap, Dancescape SA, op Montagu ’n groot verskil in mense se lewens kom maak het. Fiona het, ná vyftien jaar as professionele danser in beide die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika, begin om dansonderrig in van die agtergeblewe gemeenskappe in die Wes-Kaap te gee. Een van haar leerlinge, Tutu, kom uit die vallei en is nou ’n groot naam in Londen. “Die Sergeants is engele vir wie dit ’n roeping is om ook vir ander vlerke te gee,” sê Mareletta. “Fiona is terminaal met kanker. Een van haar grootste wense is dat die geselskap na haar dood moet voortgaan. Ons was almal in trane toe hulle onlangs ’n befondsing van $250 000 gekry het.” Montagu is ’n plek waar mense nie net hul erfenis koester en bewaar nie. Hulle koester ook mekaar.