Met sonsondergang op 22 Augustus het die 30 dae van Elul begin. Dit lei tot die Dae van Ontsag – Rosh HaShanah op 19 September – Tisrei 1, die begin van die Bybelse jaar 5778. Dan 10 dae later tot Yom Kippur, die Groot Versoendag.

Elul! In my gedagtes sien ek die eerste rooi granate hul wondermooi verskyning aan die bome in Jerusalem maak. Voel ek die swetende Augustus-hitte, hoor ek die weemoedige geluid van die shofar elke oggend, behalwe op Shabbat, in dié dae oor die Ou Stad skrei. Dis die maand van selfondersoek en berou. Maar dis ook die maand van genade en vergifnis. Die rabbi’s verwys na Elul as die maand wanneer “die koning in die veld is” in kontras met wanneer hy in sy koninklike paleis is, “iedereen wat daarna verlang word toegelaat om hom te ontmoet en hy ontvang hulle met ’n blye glimlag op Sy gesig.”

Geen wonder dat die rabbi’s dan ook leer dat Elul eintlik ’n letterwoord is nie. Die Hebreeuse letters alef, lamed, vav, lamed staan vir elke woord in die frase ani l’dodi vdodi li – Hooglied 6:3 “Ek is my beminde s’n, en hy is myne.” As ons ons harte oopmaak en soos Dawid bid: “Deurgrond my hart, o Here… ” kom daar ’n diepe bewussyn van ons Vader se liefdevolle nabyheid, wanneer ons in teshuvah/berou na hom toe draai. Die klank van die shofar maak ons harte wakker. Sodat ons kan verstaan dat die Koning inderdaad “in die veld is” vir ons. Dat ons met vrymoedigheid na Hom toe kan gaan vir vergewing.

Op die eerste erev-Shabbat van Elul gaan ek laat aand as alles rustig geword het na die Here toe. Buite hang die maan bokant Leeukop en flikker die stadsligte teen die berg. In my gedagtes gaan soek ek die Koning in die veld. Deur die geurige lang gras waar die papawers bloedrooi vlam nog nat van dou, loop ek. Hy is daar. Ek sien in my geestesoog die gestalte van Koning Dawid. ’n Man in ’n geweefde wol jurk, welige roesbruin krulhare, vriendelike donker oë. Hy lag.

Ek gaan in die grashalms by Sy voete sit en laat sak my kop verleë voor die liefde wat uit Sy gesig straal.

“Adonai, dankie dat ek hier en so nou na U toe kan kom. So erg skaam ek my oor die jaar wat verbygegaan het. My wiele het soveel maal afgeval. Ek was so keer op keer die verwilderde kalfie wat op en af teen die heining hol sonder om U daar by die hek te sien wag. Ek was so ongeduldig met my man oor hy nie meer alles kan wat hy vroeër kon nie. Ek was so skerp in my oordeel oor ander. So bitter en negatief oor die land. My geloof was kleiner as ’n mosterdsaad. Ek het my laat verlei om ander se doen en late te bespreek sonder dat ek geweet het wat agter hulle lewe lê. In die verkeer het ek vreeslik lelik gepraat met mense wat my nie kon hoor nie. Ek het nie die weduwees en die wese of die oues en siekes in die hospitaal besoek nie, ek was so besig…

Adonai, ek het so maklik vergeet dat al wat U van my gevra het, was: om regverdig te wees, om lief te hê en getrou te wees en bedagsaam voor U te lewe… O, ek het nie liefgehad nie! Vergewe my asseblief en skep vir my ’n rein hart in my binneste.

Ani l’dodi vdodi li,” herinner die Koning my toe, Sy oë is wonderlik sag.