Lééf gesond

Hoekom sukkel ek so met my gewig!

Deur Ina Nortjé | Foto Hanneri de Wet

Daar is nie net een rede vir oorgewig nie. Dit word beïnvloed deur genetika, wat en hoeveel ons eet, lewenstyl, oefening én emosionele gesondheid.

Jy het die beste voornemens om minder te eet maar as jy jou weer kom kry verdwyn ʼn stuk koek in jou keel af. Of jy probeer jou bes, doen self oefeninge maar die vetjies klou hardnekkig. Wees bedag, daar is moontik geestelike en emosionele redes waarom jy dit nie regkry om gewig te verloor nie.

Vroue in hulle veertiger- en vyftigerjare ondergaan baie emosionele veranderinge en sukkel baie om gewig te verloor en in stand te hou. Hierdie ouderdomsgroep word ook daagliks gekonfronteer met hoe hul uiterlik verander en veroorsaak ’n gevoel van broosheid veral in ’n samelewing waar soveel klem geplaas word op die fisiese.

Emosionele gevoelens wat jare lank onder druk was kom nou na die oppervlak. Egskeiding, finansiële uitdagings, aftrede, werksveranderinge en verhuising saam met onaangename menopousale simptome, geheueverlies, stadige metabolisme en veranderinge in seksuele aktiwiteite kan alles bydra tot onsekerhede.

Wat is emosionele stres?

Die meeste kundiges definieer stres as ’n reaksie op enige situasie wat spesiale fisieke psigologiese uitdagings plaas op ’n persoon om sy balans te versteur. Emosionele stres is moeilik om te meet aangesien dit baie subjektief is en beïnvloed word deur persoonlikheid en omdat mense verskillend reageer op dieselfde situasie.

Volgens Hans Selye wat stres die eerste keer beskryf het word die simpatiese senuweestelsel geaktiveer deur ’n hele reeks fisiologiese response wat die liggaam as bedreigend ervaar. Hormone word deur die bynierkorteks afgeskei waaronder kortisol en adrenalien om die liggaam voor te berei vir die klasieke veg-of-vlug reaksie.

In ’n studie deur Raikone, Matthews en Dkuller oor pre-, peri-, en postmenopousale vroue is gevind dat woede en angs die risiko vir metaboliese sindroom verhoog. Ander studies deur Bjornthop, Rossner & Udden het bevestig dat chroniese stres intra-abdominale vet verhoog. Volgens navorsers kan chroniese emosionele stres te veel suiker in die bloedstroom vrystel wat omgeskakel word na vet om die heupe en maag.

Om die hele situasie te vererger gebruik vroue kos as troos wanneer hulle hartseer, kwaad, bang, seergemaak, bekommerd, alleen, gefrustreerd of depressief voel. Hoewel daar besliste emosionele redes is vir oorgewig is daar ook fisiologiese redes. ’n Studie deur Dallman het getoon dat kos hoog in vet en koolhidrate mag selfs stres beveg deur kortisol te verlaag. Koolhidrate stel triptofaan ( ’n aminosuur), vry in die brein wat serotonien vervaardig. Dit het ’n impak op kalmte, rustigheid en algemene voel van welstand.

Wanneer die fisiologiese oorsaak aangespreek is en gewigsverlies nog steeds ’n probleem is, moet moontlike emosionele oorsake ondersoek word en die sneller(s) geïdentifiseer word.

Onthou, gewig wat jare geneem het om op te tel kan nie in ’n kwessie van paar dae of weke verloor word nie.

’n Lang lys verskonings…

Vir elke verskoning is daar ’n oplossing. Verskonings om nie gewig te verloor nie, is gewoonlik die volgende:

 Verskoning 1

Ek het nie tyd om kos voor te berei nie – ek is te besig:

Die meeste van ons is baie besig maar dit is nie ’n verskoning om nie gesond te eet nie. Vrugte en neute is net so maklik om in die hardloop te eet as ’n pakkie skyfies en dit sal moontlik minder tyd neem om ’n slaai te maak as om by ʼn kitskoswinkel in ’n ry te staan. Maak kos vooruit en vries byvoorbeeld rys, sop, selfs verskillende slaaie kan vyf dae vooruit gemaak word en in die yskas gebêre word tot dit benodig word.

Verskoning 2:

Ek het nie tyd vir oefening nie:

Gebruik ’n joernaal om vir ’n week presies neer te skryf hoe jou tyd spandeer word. Jy mag dalk vind dat jy ’n paar uur saans en naweke voor die televisie deurbring. Voordat jy voor die televisie neerval gaan stap of gaan ry saam met jou kinders op ’n fiets.

Verskoning 3:

Ek het nie toegang tot ’n oefenfasiliteit nie

Daar is dikwels oefenklasse by gemeenskapsentrums, organisasies soos Run /walk for life waar mense in groepe saam stap/draf. Sekere parke is ook veilig om te gaan stap of as jy nog steeds nie uit die huis wil gaan nie kry ’n oefenfiets/DVD en oefen by jou huis.

Verskoning 4

Gesonde kos is duur

Baie mense sê dat hulle nie kan bekostig om gesond te eet nie. Gesonde kos kan net so ekonomies wees as gemorskos. Die interessante deel is dat gesonde kos sal porsies laat krimp omdat meer voedingsware en vesel ’n hoër versadigingswaarde het. Ongesonde kos se porsiegrootte is dikwels uitermatig groot net om versadig te voel. Verruil die sjokolade vir ’n vrug en jy spaar geld. Verminder dus porsiegroottes wat klaar ’n besparing is en vervang vleis met bone en lensies vir vleislose dae. Koop in grootmaat, vries die oorskiet en jy bespaar op tyd, vermorsing en elektrisiteit. Gesonde kos sal jou langer versadig hou en minder aan ongesonde opsies laat peusel.

 Verskoning 5:

Diëte laat my onvergenoegd en ek is heeltyd lus vir soetgoed

Kyk na hoe jou eetplan uitgewerk is en bepaal waarom jy gewig wil verloor. Maak seker jou maaltye sluit ’n bietjie proteïne, koolhidrate en vet in om bloedsuiker te balanseer en eet nou en dan ʼn bietjie lekkernye sonder om skuldig te voel.

Verskoning 6:

Ek is te moeg om te oefen:

Jy hoef nie te begin om ure te oefen nie. Begin deur soggens vyf minute te strek of net ’n paar keer deur die tuin te stap al is dit op en af. Gebruik trappe pleks van hysers en parkeer verder in die parkade van die winkelsentrum se ingang. Begin met klein veranderinge en vermeerder geleidelik.

Verskoning 7:

Ek voel ‘af’ of depressief

Jou werkslading word net al hoe groter, jy het konflik by die werk en “jy het die trein/ bus verpas… maar die skyfies sal beslis nie daarvoor opmaak en al jou probleme soos mis voor die son laat verdwyn nie. Om te swig vor die versoekings sal net jou skuldgevoelens laat vermeerder, jou soos ʼn mislukking laat voel en jou laat met ’n opgeblase maag en moegheid. As jy weet dat jy ’n emosionele eter is, moet jy hulp kry oor moontlike onderliggende oorsake.

Veskoning 8:

Ek hou baie van gemorskos, suiker en koeldrank

Indien ’n gesonde eetprogram gevolg word, kan dae in gewerk word wanneer bietjie meer ongesonde kos geëet kan word sonder om die eetprogram omver te gooi. Eet gesonde maaltye maar as jy na die tyd lus is vir iets soet eet iets soos twee blokkies 70% sjokolade.

Verskoning 9:

Om met ’n gewigsverliesprogram te begin is oorweldigend:

Begin deur op een maaltyd te fokus en verander net eers die een maaltyd. Bou dan stadig daarop voort. Probeer om een ongesonde kossoort met ’n gesonde alternatief te vervang ten minste elke paar dae.

Verskoning 10:

Ek hou nie van oefening nie:

Vra jouself af hoe oorgewig jou gesondheid, selfbeeld en energievlak bevoordeel? Indien daar geen voordeel is nie hoekom saboteer jy jouself? Probeer verskillende soorte oefening totdat jy iets kry waarvan jy hou.

Verskoning 11:

Ek is sien nie kans om dit alleen te doen nie:

Kry die ondersteuning van ’n vriendin en pak saam die uitdaging aan.

Verskoning 12:

Ek is nie waardig om gewig te verloor nie:

Jy voel minderwaardig om liefde en respek van mense te ervaar. Vervang negatiewe woorde en denke met meer positiewe stellings soos “ek kan nie gewig verloor nie” met “ek is besig om gewig te verloor”. In God se oë is jy volgens Sy beeld geskape en altyd waardig.

Verskoning 13:

Ek kán nie verloor nie – ek het al alles probeer:

Onthou, gewig wat jare geneem het om op te tel kan nie in ’n kwessie van paar dae of weke verloor word nie. Dit gaan tyd neem om groot veranderinge te sien.

Verskoning 14:

Gesonde kos smaak sleg:

Al gehoor van kruie en speserye? Kos hoe regtig nie net afgewater en opgekook te wees nie. Onthou ook dat jou smaak versteur is met al die kosse wat jy vir baie jare geëet het. Jy gaan jou smaak moet ontwikkel om regtig kos te proe.

Verskoning 15:

Ek het nie deursettingsvermoë nie:

Dis dalk ’n area in jou lewe waar jy moet groei. Niks in die lewe kom sonder ’n mate van dissipline nie. Dié verskoning kan dalk deel wees van rebellie en jy gaan moet uitvind waar dit vandaan kom.

Verskoning 16:

Ek voel goed en is nooit siek nie:

Simptome beteken nie jy is nie siek nie. Ons staar ’n epidemie in die gesig waar mense vertikaal siek is byvoorbeeld oorgewig, cholesterol, diabetes, hoë bloeddruk ensovoorts. Deur te wag gaan ʼn siektetoestand ontwikkel en jy gaan nie daarvan uitvind totdat jy in die finale stadium van die siekte is nie. Moenie wag tot jy siek voel nie.

Verskoning 17:

Dis familietradisie:

Hierdie is moontlik een van die belangrikste verskonings wat mense gebruik. Hulle is nie bereid om af te sien van gewoontes en tradisies nie. Maak nie saak hoe ongesond dit is nie. As jou ouers aan seker siekte ly is die moontlikheid 80% dat jy dit ook sal ontwikkel, tensy jy jou lewenstyl en eetgewoontes verander. Gene kan aan- en afgeskakel word met oefening en eetgewoontes.

Ons is immers geïntegreerde wesens gemaak na die beeld van God. Hy wil hê ons moet optimaal funksioneer as gees, siel en liggaam.

Onbewustelike redes om oorgewig te wees

  •  Fisieke en emosionele mishandeling

Slagoffers van aggressie, konflik, fisieke en emosionele aanranding kan gewig optel. Gewig laat die slagoffer veiliger voel as die situasie nie beheer kan word nie. Dis interessant dat wanneer die slagoffer oorgewig raak die aanrander dikwels wegbeweeg van die slagoffer af. Dit kan in enige situasie gebeur – persoonlik of in ’n werksopset. Mishandeling kan jare gelede gebeur het maar indien dit nie hanteer is nie, kan dit nog steeds ’n invloed op ʼn mens se gewig hê.

  •  Om liefde te toets

Indien liefde nie onvoorwaardelik is nie maar eerder gegrond is op wat ’n ander persoon uit die verhouding kan kry, kan die oorgewig persoon haar maat/vriend/ familie se liefde toets of daar wel onvoorwaardelik liefde betrokke is. Oorgewig kan as ontsnappingsroete gebruik word as die druk emosioneel te veel raak. Nuwe ma’s wat voel dat hulle net ’n bietjie spasie/tyd vir hulself wil hê om te herlaai, kan dikwels in dié strik val. Vet is ’n buffer tussen jou en die lewe.

  • Trauma

Enige erge trauma kan die gevoel skep dat die wêreld onveilig is en emosionele oorgewig aanwakker.

  • Geestelike honger

Geestelike honger is die behoefte om met God kontak te maak. Ons probeer die leemte vul met kos. Wanneer ons ontkoppel voel, is kos ’n manier om met die buitewêreld kontak te maak. As jy eet, bring jy iets wat buite jou lyf is na binne op ’n baie intieme vlak. Kos begin om ’n surrogaat te word vir werklike konneksie met God. Die vetbergingsmeganisme kan ook aangeskakel word wanneer die lewe nie betekenis en ’n doel het nie. Daar is ’n statistiese korrelasie tussen ’n doelgerigte lewe en gesonde gewig. ʼn Betekenisvolle lewe is letterlik kos vir die siel.

Al die bogenoemde redes, sowel as moontlike fisiologiese redes, moet aangespreek word om sukses te behaal in die verloor van gewig. Ons is immers geïntegreerde wesens gemaak na die beeld van God. Hy wil hê ons moet optimaal funksioneer as gees, siel en liggaam.

Ina Nortjé is ’n dieetkundige van Randparkrif, Johannesburg. Kontak haar by 011 025 5541 of stuur ’n epos aan info@inanortje.co.za of besoek andersins www.inanortje.co.za vir meer inligting.