Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Ek sê dit sommer reguit: dit was ’n goor week. Die lammers het steeds in die weiveld gehuppel, die lug was steeds onmoontlik blou, maar diep in my binneste was dit grafstil en loodswaar. Saans wanneer ons mekaar vertel wat die lekkerste en slegste van ons dag was, het ek in die donker lê en staar. Stom. Die gebrokenheid van alles – ons land, die lewe, my lewe, het met vlymskerp skerwe om my hart versamel en my bloeiend in ’n bondeltjie agtergelaat. Dis ’n ellendige penarie om so in jou swakheid die gebrokenheid om jou te beskou. Verlatenheid kom skuif gou langs jou in. Ek lig my ken en beur deur die dae, vasbeslote om die aanslag te weerstaan.

Tot op ’n oggend, uit die bloute, wanneer die Vader my gesig na Syne draai. Ons stap elke more saam skooltjie toe. Dis nou twee seuns op fietse, twee honde, die hansbok en soms die hanskalf ook. Die seuns het rubber binnebande in om die dorings te weerstaan; die nadeel is dat die fietse dan ook moeilik trap. Dawid is maar klein van postuur en sukkel gewoonlik op die koue wintersoggende die meeste. So half pad raak Dawid ver agter, sy asem blaas wit stoomwolke die helder oggend in. “Mamma! Ek is moeg!” roep hy moedeloos. Ek draai om, stap met begrip terug na hom. Ek sit my hand sagkens op sy blad en stoot hom so effens aan. Ek loop die heelpad so met my hand op sy blad skool toe. Soms, as ek my hand wegvat dan sak hy weer uit, dan draai ek weer om en gaan haal hom waar hy is. “Dankie Mamma!” glimlag hy breed en vol na my toe. Waai vinnig en verdwyn dan die klas in.

Ek glimlag simpel op pad terug. Bly dat die eenvoudige daad vir my kleinste soveel kon beteken. Dit verg nie groter inspanning van my nie – bloot die saamloop en die momentum van my hand op sy blad gee die ondersteuning wat hy nodig het om sy reis te voltooi. Ek gaan staan botstil. Sien die stof om my tekkies in dampies versamel. “Net so stap ek met jou” wys die Here my daarop. Sy Hand is deurentyd op Sy Kinders se blad om te beur, te bemoedig, seker te maak die vermoeienis keer nie ons voortgaan nie. Ek lees Psalm 32:8. “Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees.” Vir almal wat Sy kinders genoem word, stap hy so mee. Nie met inspanning of moeite of verdriet nie; maar Sy hand stewig, vertroostend, warm op ons blad.

Leer jou kind:

  • Natuurlik vertel ek die seuns van God se boodskap!
  • Of ons sit en of ons staan en of ons loop – Hy is met dit alles vertroud.
  • God se karakter is dat Hy ons wil help en ondersteun, net soos ’n ouer sy kind wil help.
  • Jesus belowe dwarsdeur Sy Woord dat Hy ons nooit alleen sal los om self te loop nie.

Lees meer:

“Hiding from the kids in my closet” deur Lisa Terkeurst. Uitgegee deur Cook Publishers.