‘Die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.’ Romeine 5:5

As jy vroegoggend met jou koffie buite staan sal jy nie dink dat die planeet teen dertig kilometer per sekonde om die son spoed nie. Omdat die aarde met 23 grade kantel wys sy een kant soms son toe en – aan die ander kant van sy baan – soms weg van die son af. Wat ons as lente beleef is as óns kant nou begin son toe wys, begin hitte kry. Die les is dit: niemand kan lente keer nie! Lente kan eers ophou as die aarde ophou bestaan. Lente is ’n natuurwet, soos swaartekrag. Jy kan nie daarteen baklei nie! Die temperatuur sál begin styg, die bloeisels sál bont kleure maak, goggatjies sál rondzoem, voëltjies sál tjirp en die sonnetjie sál heerlik op jou gesig skyn.

Weet jy wat? Lente tref nie net die natuur om ons nie – dit tref ook binne ons. Lente se warm krag gaan regdeur ons. Jou hart sal warm word, nuwe lewe sal loskom, ’n lied sal vorm in jou siel. Niemand kan dit keer nie! Binnekort sal jy lus kry vir lente-skoonmaak! Wat die winter ook al meegebring het, dit gaan verby. Wat die swaarkry ook al behels het, beter tye lê voor. Lente bring nuwe lewe en nuwe hoop – en die hoop beskaam nie, sê die Woord. Vat die volgende maar as ’n geestelike wet: beter tye lê voor! Trouens, die beste lê nog voor – dis wat geloof beteken! Daarvan getuig die lente elke jaar. Laat dít jou opgewonde maak as jy soggens in jou lentetuin jou koffie drink!

 

Gebed

Here, bring lente in my hart!

‘Ons Here het die belofte van die opstanding nie net in boeke geskryf nie, maar in elke lenteblaar’ Martin Luther

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.