Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

God wil altyd méér gee. Arms vol genade déúr jou gee.

Oorloop-dankbaar. So voel ons wanneer die lewe se mooi ons lewe binnestroom en ons gelukkig en tevrede beleef hoe goed Sy liefde is. Dan gebeur dit weer dat ons deur tye gaan wat ons wonder of Hy nog van mý onthou? Of Hy dalk ophou gee het? Sy seën oor my lewe gestop het?

Miskien besef ons nie altyd hoeveel ons Vader werklik vir ons gee nie. Dalk gaan daar elke dag skatte van sy guns by ons verby omdat ons dit wat Hy uitdeel, miskyk. Mis-sien. Doof-hoor. Omdat ons na die aardse vorms van seën soek. Dink dat seën opgesluit lê in oorvloed op ons tafels.

Waarheid is dat God se seën nie noodwendig net in menslike rykdom-pakkies kom nie. Want Sy seën word dikwels ook opgemaak in klein wegsteek-oomblikke waar Hy ons siele raak met sy soort onaantasbare, maar lewensvervullende oomblikke. Kere wat ’n enkele prentjie, boodskap en woord vir ons sê: “Hier is Ek!” Of wanneer ’n spontane glimlag, onverdiende vergifnis of omgee van iemand anders vir ons bevestig: “Dis soos Ek is.” Of dalk wanneer jy sommer net diep ervaar dat sy Woord en Gees vir sê: “Ek is by jou.”

Genade-oomblikke is Hom-raaksien-momente. Tye wat jy beleef dat Hy Homself aan jou openbaar deur die groot wonderwerke maar veral ook deur die alledaagse: Die gebroke mense wat deel is van jou lewe. Die herstel van iets wat gebroke was. Die magiese hier-laat-Hy-dinge-gebeur-tye waar jy opnuut besef: “Hy leef. En Hy gee. Onophoudelik.”

Arms vol oorvloed. Dis wat ons versorgende Vader elke dag ook vir jou blý uitdeel – ongeag dit wat jy reeds het of nie het nie, wat jy raaksien of nie raaksien nie. Omdat Hy jou wil bederf. Maar ook omdat Hy sy goedheid déúr jou wil aangee. Wil hê dat jy ‘n deurvloei-ruimte van sy liefde sal wees. En hoe meer jy die fyn nuanses van Sy liefde raak-besef, hoe dieper word jy bewus van die oorvloed van Sy goedheid. Die onstuitbaarheid van Sy liefde. En die bewustheid dat Hy ook deur jou ander wil seën.

Dis in die raaksien met jou siel, wat jy oorloop-dankbaarheid ervaar… selfs wanneer die kruike van jou lewe nie so vol is nie. Dis in die aangee van genade-spatsels, wat jy nog meer kry.

Aangee-seën word altyd meer. Want dis hoe Sy liefde werk. Ook vir jou!

Onuitputlike liefde

Die Samaritaanse vrou wou maar net haar kruike vol maak. Net genoeg vir haar en haar huismense skep. Totdat die vreemde Man by die put met haar begin gesels. Wil hoor of sy nie vir Hom ook water sal gee nie. En dis dan, in die les van Sy dors en die aangee van haar water, wat Hy haar met iets soveel groter vul. Wat Hy haar bewus maak van sy onuitputlike lewenswater wat haar diepe dors ánders sal les. Toe sy hierdie oorvloed raaksien, word sy anders. Word sy self die draer van Sy lewende water. Sy gaan huis toe met kruike vol drinkwater. En met ’n bodemlose hart van en vol liefde. Kom ek en jy haal die bodems van ons harte uit. Sodat Sy genade vrylik deur ons kan vloei.

Hemelse helper
U gee so baie, Here.
En dan mis ek dit.
Omdat ek u seën
op die verkeerde plekke soek.
U genade in aardse dinge
probeer raaksien.
Maak my oë, ore en hart oop
sodat ek anders sal kyk
na die oorspoel-liefde
wat U elke dag gee.
En ek ’n draer sal wees
van u deurvloei-genade
Ja, maak my u
bodemlose liefdeskruik
hier waar ek elke dag leef.
Boodskap
U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het. Psalm 4:8