Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

 

Dagstukkies vir besige vroue

Saamgestel deur Christelle Webb-Joubert (Lux Verbi)

Van ’n vrou word in vandag se wêreld baie verwag. Hierdie dagstukkieboek is vir elke vrou wat maar alte goed weet dit is nie so maklik nie. Die lewe deel soms houe uit, en ook ma’s, ouma’s en ware staatmakers kan moeg, moedeloos en gefrustreerd voel. Bekende vroue deel in hierdie boek, wat saamgestel is deur Christelle Webb-Joubert, boodskappe van hoop. Hulle wil jou herinner dat jy nie alleen is nie, dat jy nie skaam hoef te voel wanneer die lewe jou oorweldig nie, en dat jy altyd kan vashou aan dié wete: Jou hemelse Vader ken jou, Hy weet wat jy nodig het en Hy sal jou nooit in die steek laat nie. R190.

Come to the family table

Deur Ted & Amy Cunningham (CUM)

Met die gejaagde lewe van vandag, word dit al hoe moeiliker om as gesin saam aan tafel aandete te geniet. Ted en Amy Cunningham maak in hierdie boek ’n beroep op ouers om hul lewens op so ’n manier aan te pas dat hulle doelbewus elke dag hierdie belangrike gesinstyd in hul skedules inwerk. As ’n rustige aandete ’n beplande prioriteit in die gesin se dag word, sal almal hul kos, mekaar se geselskap en Jesus meer waardeer en ontwikkel gesonde gesinsverhoudings en vind geestelike groei plaas. Hierdie boek is geïnspireer deur die slow food movement en moedig ouers aan om weer terug te keer na die tradisie van aandete en stiltetyd as gesin aan tafel. R244,95.

Kokkedoortjie

Saamgestel deur Errieda du Toit (Human & Rousseau)

Dié boek is ’n versamelstuk vir die derduisende aanhangers wat die Kokkedoortjies leer lief kry het, en wil bak en kook soos hulle. Kokkedoortjie is ’n gesinskookboek, ’n kinderkookboek, ’n kookboek vir die kind in ons almal. Dit verweef elke dag se staatmakeresepte met ’n unieke bestanddeel – ’n kind se verbeelding. Dit wissel van eiernessies vir ontbyt, die beste kosbliktoebroodjies ooit, koekies vir Entrepeneursdag, sportiewe hamburgers, slaai in flessies, poetsbak-poedings, plaatkoekies en pannekoek. Daar is kreatiewe visgeregte en die finaliste se wengeregte wat die land se monde laat water. Die beoordelaars deel ook hul gunstelingresepte in die boek. R310.

Die koning se wingerd

Deur F.A. Venter (Lux Verbi)

Een van die mees aangrypende hoofstukke in die Bybelse geskiedenis word in hierdie topverkoper meesleurend vertel. F.A. venter herskep die bewind van Agab met die gesag en oortuiging van iemand wat diep nagevors en nagedink het. Hy toon Agab as ’n man wat verslinger word tussen die ou Israelitiese waardes en die afvalligheid van sy tyd, waarin sy heidense vrou, Isebel, ’n leidende rol speel. Maar die verhaal is ook die verhaal van Nabot, godvresend, maar nie bereid om te erken dat God die God van alle mense is nie. En van die liefde van Nabot se seun, Johanan vir Ada, die dogter van hul heidense dienskneg. Ook die belangrikheid van Johanan in God se plan om Israel te verlos van Agab se slegte regering. R250.

Grom

Deur Jaco Jacobs & Karen Lilje (LAPA)

Party oggende voel Emma brommerig en grommerig. Sy is nie lus om op te staan nie. Sy is nie lus vir pap eet nie. Sy is nie lus om met haar boetie te speel nie. Een oggend toe Emma in die spieël kyk, sien sy iets vreemds. Sy het snorbaarde, haar hele lyf is vol kolle… Elke kleuter (en Ma en Pa!) sal identifiseer met hierdie prettige prenteboek oor daardie brommerige, grommerige oggende wanneer almal jou met rus moet laat! R120.

Verskuif jou grense

17 dinge wat jou vermoëns sal vlerke gee

John C. Maxwell (Struik Christelike Media)

Laat jou lewe verryk word en groei deur te leer hoe om jou grense te verskuif. Die wêreld se voorste leierskapskenner, John C. Maxwell, identifiseer 17 kernvermoëns wat hiermee sal help. Sommige is vermoëns waaroor ons reeds beskik, soos energie, kreatiwiteit en leierskap. Ander is vermoëns wat ons deur ons keuses beheer. Maxwell bestudeer en ontleed elkeen van hierdie kernvermoëns en gee duidelike en doenbare raad om jou te help om jou potensiaal te bereik. Die boek sal nie net die lewe van sake- en ander leiers verryk nie, maar ook diegene wat professioneel en persoonlik wil groei. R189,95.

Verskroeide aarde

Deur Fransjohan Pretorius (Tafelberg)

Die Britse verskroeide aarde beleid en konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog het bitter herinneringe en trauma veroorsaak wat dekades ná die oorlog steeds by Suid-Afrikaners spook. In dié nuut opgedateerde uitgawe van ’n topverkoper gee vooraanstaande historici ’n vars en sober blik op hierdie hoogs omstrede aspek van die oorlog. Dié volkleurboek verken die perspektiewe wat ná meer as 100 jaar moontlik is, en bring nuwe insigte oor hierdie deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. R395.

Gunsteling Suid-Afrikaanse kos

Deur Clover SA (LAPA)

Suid-Afrika is ’n wonderlike vermenging van kulture en nêrens is dit meer duidelik as in die verskeidenheid van tradisionele kosgunstelinge nie. In hierdie kookboek deel Clover SA iets van die verskeidenheid – soos Bunny Chow, romerige marog, smoorsnoek, soetsuurlewer, vetkoek, isidudu, koeksisters, wildspastei en botterhoender. Die resepte is toeganklik en getoets deur Marlo Carstens. ’n Persentasie van die boek se verkope word aan die Clover Mama Afrika-projek geskenk. R200.