Ek deel my hart

“Ons is wraggies beter saam”

 Deur Judith Kamffer  Foto’s | Anrie Swanepoel

Lindie Strydom gesels oor haar mense, haar nuutgevonde fiksheid en die groot Hoop wat in haar hart leef.

Dit is laat Juliemaand en die windjie is maar nog koud buite, maar Lindie Strydom straal ’n lente uit waar sy oorkant my sit in die besige koffiewinkel, Passi, in Centurion. Knus in ’n ligpienk wolserp en ligblou denimbaadjie gesels sy gemaklik – en met haar hande. Lindie is vanjaar vir die derde maal ’n ambassadeur vir die SPAR Women’s Challenge wat op 5 Augustus in Pretoria plaasvind.

“Wat lekker is van dié resies is dat jy dit kan draf, loop of kruip. Almal sal klaarmaak,” lag Lindie wat haarself ag as verteenwoordigend van die doodgewone ma en vrou. “Ek is nie ’n atleet nie. Ek is ’n gewone ma. Ek het ook vanoggend opgestaan en gedink ‘nee… ek weet darem nie… dis so koud buite!’. Ek het nie gehardloop op skool nie en ek is ook nie ’n natuurlike hardloper nie. Maar dis darem lekker!”

“As daar iets is waarvoor ek my lewe wil gee is dit om gekompliseerde goed te vereenvoudig. Of dit nou ma-wees of fiksheid is. Ek het al die gym-ding gedoen en steppie-klasse bygewoon dat ek nie weet waar ek moet trap nie…” Lindie lag uit haar maag uit. “Met draf is dit eenvoudig – jy trek jou tekkies aan en jy hardloop om die blok. Dit is selfs goeie oefening vir my gesin. Ons vyf kan almal ons tekkies aantrek en gratis die Parkrun op ’n Saterdag gaan doen. Of dit nou in Valhalla, Groenkloof of George is. Waar in die hele Gauteng-eleng kry ’n mens nog die geleentheid om gratis aan iets deel te neem as gesin? As jy drie kinders het – en veral as dit vakansie is – kos dit jou geld as jy jou voet by die deur uit sit. Hardloop is ’n bekostigbare gesinssport.”

Lindie vertel dat sy eintlik begin draf het om haar oudste seun – ’n landloper – aan te spoor. “Daar sit jy nou as ’n landloop-mamma langs die veld en van die tannies hier langs jou brei en ek dink ‘nee, ek is nog nie so oud nie…’ Toe trek ek my tekkies aan en begin solank stap. Nou kan ek hom ’n bietjie aanspoor as hy sê ‘Mamma ek is moeg’, wat dit is darem nie vir ’n seun lekker as sy ma hom moontlik kan weghardloop nie.”

“Ek is nie ’n atleet nie. Ek is ’n gewone ma.”

’n Kopskuif

“Ek moes ’n kopskuif maak rondom my eie gesondheid en oefening. Vroeër in my lewe het alles gegaan om maer-wees en ek het gewerk in ’n omgewing soos Egoli waar jy voor ’n spieël staan en die stiliste hardop beplan hoe om jou arms weg te steek. Daardie manier van dink moes eers weer reg getrek word en ek het besef ‘dis nou maar my liggaam en hierdie sterk arms het al my tweeling aan weerskante in hul snug ’n safe gedra. In ’n stadium het ek moeg geraak om te dink aan maer word. En ek moes myself afvra ‘is dit al waaroor dit gaan in die lewe?’”

Lindie vertel verder en meer ernstig: “My kopskuif het gekom so onlangs as einde verlede jaar. Ek en my seuntjie het die Parkrun in George gedoen. En hulle het altyd sulke ‘oulike’ fotograwe wat jou langs die pad afneem as jy op jou slegste lyk. Ek het na die foto gekyk en gedink: ‘lyk ek so?’” Lindie lag. “Dis nie ’n mooi prentjie nie. Maar wat ek daardie dag besef het is dat Romeine 8:11 sê dat dieselfde Gees van God wat Jesus uit die dood uit opgewek het ook in my leef. Daardie krag van God is met ander woorde in hiérdié liggaam. En ek moet hierdie voertuig wat die Evangelie moet neem tot aan die uithoeke van die wêreld oppas en versterk en fiks en gesond hou sodat ek dit met passie en gesondheid en energie en totaliteit kan doen! Daardie kopskuif was baie nodig! En dít is dan ook die boodskap wat ek aan my kinders wil oordra.”

Genade-tyd

Lindie is tans ’n voltydse mamma van drie. “Dit is asof die Here regtig vir my genade-tyd gee om in te haal. En ek wil niks mis nie… nie een gediggie, swem- of rugbyoefening nie!” Haar werk as Projekorganiseerder by GROOTfm gun haar genoeg tyd saam met haar gesin. Toe Lindie aanvanklik aangestel is as Handelsmerkbestuurder het die gedagte aan visitekaartjies haar nie aangestaan nie. “Ek het vir hulle gesê dat ek die GROOTfm handelsmerk voetspore sal gee in die gemeenskap sodat GROOTfm se vermaak ’n verskil maak. Ek geniet my gate uit!” voeg Lindie beslis by.

“Met Christus se hoop, poog ons om die stad te transformeer en bemagtig ons nie slegs behoeftige persone nie, maar ook hul gemeenskap én die luisteraar. Ons wil geensins ’n pawiljoenkultuur skep, waar luisteraars oorweldig word deur ander se ellende nie. Nee, ons wil mense bemagtig om te voel ‘wow, ek kan dit ook doen!’ Waar iemand self inisiatief en eienaarskap van hulle lewe geneem het, gaan gee ons so ’n bietjie meer as ’n hupstoot – ons gee ’n hoopstoot. Daar is baie mense wat iets met hulle lewe wil doen en ons moet húlle versterk. In húlle belê. En by húlle ’n verskil maak.”

“… ek moet hierdie voertuig wat die Evangelie moet neem tot aan die uithoeke van die wêreld oppas en versterk en fiks en gesond hou sodat ek dit met passie en gesondheid en energie en totaliteit kan doen!”

Beter saam

GROOTfm het met ’n blik op die Women’s Challenge – met Lindie aan die stuur van sake – ’n projek geloods, genaamd Jou mense, my mense. “In my vriendekring en my aksienetbalgroepie kan ons regtig getuig: ‘Ons is wraggies beter saam’. En ek is so bevoorreg om blootgestel te word aan verskillende projekte en organisasies. Dit waartoe ek toegang het, dit wat SPAR kan bied en GROOTfm se platform getuig ook daarvan. En dit is die hart van hierdie jaar se #Bettertogether.

“So het ons vir Hannelie gaan kuier by die Van Rensburg Tehuis in Danville. Hannelie het haar ma en pa verloor en sy het Brein Tuberkulose. Met ander woorde daar is niemand wat vir haar iets kon doen op haar verjaarsdag nie… Maar jou mense is my mense en daar rock ons klomp op met ’n hoed en ’n ballon en ’n groot koek. Hannelie was so bly dat sy vir almal kon koek gee op haar verjaarsdag. Sy het die personeel nader geroep en sommer vir almal koek uitgedeel. En hierdie samewerking met SPAR bewys darem net – ons is beter saam.”

“Ek dink by almal van ons wat help, sluip daar soms hierdie grootheidswaan in en dan dink ons ‘maar as ek nie vandag opstaan nie, wie sal die massas red?’ En dit is iets waaraan ’n mens daagliks sterf, want die Here is nóg meer besorg oor Sy kinders. En ek is maar een van die ratte, die pinkie of die kleintoontjie in hierdie Liggaam wat saam funksioneer. As ek nie vandag iets aan hierdie persoon se situasie kan doen nie, sal daar iemand in die Liggaam iewers wees wat kan help – we are better together.

2017-12-09T15:43:34+00:00