Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Na die onlangse dood van ’n bejaarde familielid woon ons haar dankdiens by.

Een na die ander staan haar kinders op en vertel staaltjies van hul ma. Hul eer haar en dank haar vir soveel dinge wat sy nagelaat het – en wat hulle nou op hulle beurt kan aangee. Hulle vertel van haar kombuis wat naweke na beskuit en varsgebakte brood geruik het. Hoe sy hulle bemagtig het om skynbaar onoorkomelike struikelblokke te oorkom.

Hulle is dankbaar vir haar voorbeeld van liefde en geduld en onselfsugtigheid. Hulle onthou Sondae se koek en koffie voordat hulle teruggaan koshuis toe. En haar gebede wat saam gegaan het.

Toe staan haar jongste seun op. Ons hoor van hul ma se unieke verhouding met elkeen van hul kinders en hulle eiesoortige reaksie daarop.

Hy sê dankie vir die feit dat sy nooit die een kind bo die ander voorgetrek het nie. Elkeen was in háár oë ’n enigste kind – met al die voorregte en aandag wat op ’n enigste kind uitgestort word. Of so het hulle gevoel.

“My sussie het gedink sy is die uitverkorene. Sy wou nêrens sonder my ma gaan nie, en my ma moes elke aand by haar lê tot sy aan die slaap raak.”

Wanneer ons kinders vroeg reeds kan weet dat God hul Vader is en altyd daar is om hul hand vas te hou, hoef hul nooit alleen te voel nie.

Hy herroep ’n insident toe hulle almal saam met hul ma dorp toe is. Sy het voor die droogskoonmaker stilgehou en gevra hulle moet wag, sy sal gou terug wees. Ongelukkig het sy vasgehaak (want hul ma het graag na ander se stories geluister en oral probeer help en raad gee). Na sowat ’n kwartier het die sussie onbedaarlik begin huil.

“Wat is dit met jou? Ma kom nou-nou terug!” het een ongeduldig laat hoor.

“Ek is alleen!” het sy tussen haar snikke deur laat hoor.

“Jy is nie alleen nie. Ons is mos hier by jou!” het ’n ander boetie laat hoor.

“Julle is óók alleen,” het dit van die ontroosbare dogtertjie gekom.

Die begrafnisgangers het gesnap wat hy wou sê.

Dikwels – selfs al is ons in die teenwoordigheid van ander – oorweldig ’n gevoel van verlatenheid ons. Sonder ’n geliefde wat ons aanvaar vir wie ons is en ons spesiaal en bemind en laat voel, is ons alleen.

Wanneer ons kinders vroeg reeds kan weet dat God hul Vader is en altyd daar is om hul hand vas te hou, hoef hul nooit alleen te voel nie. Ons as ma’s moet hulle van Jesaja 41 se versekering vertel: Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne! Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ons moet hierdie vaste sekerheid by hulle inskerp. En ons moet dit ook vir onsself toeëien – want voordat ons ons kan kry, is ons kinders uit die huis en word ons oorweldig deur die Groot Gemis en Die Groot Alleen.

God sê ook vir ons as ma’s: Moenie bang wees nie, Ek is by jou.

 

Liefdevolle Vader, dankie vir die versekering dat U altyd by ons en ons kinders is. Dankie dat ons veilig by U kan wees. Elkeen van ons is ’n geliefde, enigste kind vir U. Dankie daarvoor. Amen.