Goedvoel

Marta of Maria?

Deur Lizette Murray | Foto Hanneri de Wet

Uit die lewens van hierdie twee Bybelvroue leer ons om in die chaotiese rondskarrel-oomblikke net eers by Jesus se voete stil te raak. En dat ons tussen doen en bid ons ons ware roeping as gelowiges kan vind.

In elkeen van ons se herinneringe is daar ’n kombuis. En voor die stoof staan daar ’n ma of ouma of geliefde huishulp. ’n Dienende Marta. Sy knie brood, of roer ’n bredie, of haal ’n stomende gereg uit die oond. Wanneer sommige van ons terugdink aan die plaaskombuise van ons grootwordtyd, kom staan die Aga- of Esse-stoof reg in die middel van al ons dinke. Dié koolstowe was ’n metafoor vir geborgenheid en huis.

Ek onthou hoe my ouma die oonddeur oopmaak en die panne goudbruin beskuit een na die ander uit die oond lig en op die skoongeskropte kombuistafel omkeer. Terwyl sy die beskuit oopbreek, en die geur die kombuis vul, het sy dikwels gesê: “So lyk God se goedheid en sorg. Soos warm geurende beskuit. Ek wil mense innooi en uitdeel van die oorvloed wat ek in my kombuis ontvang.”

Om ander te dien

Ouma was ’n spreekwoordelike Dienende Marta. Maar sy het meer gedoen as kosmaak. Sy het haar huismense met liefde bedien.

So ook my ma. Ek sien haar buk om die swaar ysterpot met die skaapboud uit die oond te haal. Ons kinders staan gretig nader en stoei om die vassit-brandseltjies onder uit die pot te krap. Sy laat ons glimlaggend begaan. “Ons maak herinneringe vir anderdag,” sê sy.

Ek sien haar ook in my gedagtes by die eetkamertafel staan, terwyl sy ’n rokspatroon op ’n vrolike stuk materiaal uitlê en meet en pas om rokke vir ons dogtertjies uit te knip. In haar een mondhoek knyp sy ’n paar spelde vas. Sy stuur die skêr al knippende sekuur om die rand van die patroon. Onder haar hande word ’n blote stuk materiaal ’n lieflingsrok.

My ma wat doen, was ook kleintyd vir my my ma wat bid. Tegelyk Marta én Maria.

Lukas 10:38-42 vertel van Jesus se besoek aan Marta en Maria: Op hulle reis het Jesus in ’n dorp gekom waar ’n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het ’n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit het en na Sy woorde geluister het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Hierdie stukkie oor Marta en Maria volg net ná die gedeelte oor die Barmhartige Samaritaan. Christus se laaste woorde aan die skrifgeleerde is: “Gaan maak jy ook so.” Sy woorde is ’n opdrag. Christus wou Sy volgelinge leer van praktiese Christenskap. Van dóén wanneer ander terugdeins. Van dissipelskap ten koste van eie gerief. Of ten spyte van ’n gemeenskap se vooroordele. “Gaan maak jy ook so,” is ’n opdrag.

Jesus se reaksie teenoor Marta is dus des te meer onbegryplik, veral wanneer ons na die gebruike van daardie tyd kyk. Gasvryheid is in daardie tyd baie hoog aangeslaan, en Marta, as die oudste suster, se eer was op die spel. Sy móés eenvoudig haar Meester met haar heel beste oorlaai.

Boonop is vroue nie eintlik deur die Wetgeleerdes toegelaat om in geselskap aan die voete van ’n leermeester te sit nie. Maria het dus eintlik fouteer. Marta, verantwoordelik vir haar gas se welstand, was ergerlik teenoor Jesus dat Hy kon toelaat dat sy alleen in die kombuis werskaf. Dit was haar goeie reg om Hom daarmee te konfronteer dat Maria haar liederlik in die steek laat!

My ma wat doen, was ook kleintyd vir my my ma wat bid. Tegelyk Marta én Maria.

Doeners is nodig

Die realiteit van elke dag is dat daar doeners nodig is. In ons eie huise waar ons moet sorg vir daaglikse dinge, soos kos op die tafel en klere aan die lywe van ons geliefdes. Dis hier – aan die tuisfront – waar ons sonder vergoeding dien en liefhet en raad gee en tot uiterstes toe gaan om kinders betyds af te laai en op te laai en aan te moedig en te vermaan. En om hulle saans onder die komberse toe te maak en vir oulaas ’n soentjie op hul koppe te druk – voordat ons ons eie oorstaan-werk takel.

Daar is ook doeners nodig oral waar ons in ons gemeenskappe beweeg. Agter basaartafels. By skoolsnoepies. In ouerkomitees. By kerkdeure om pamfletjies uit te deel. By sopkombuise. Op gemeentebesture. In hospitale en dienssentrums vir bejaardes. En dan is daar die breër gemeenskap buite die grense van ons woon- en werkplekke. Mense het kos nodig. Hulle het skuiling nodig. Hulle het versorging nodig. Hulle het troos nodig. Nood ken geen grense nie. Waar daar mense is, is daar nood. Van Kayamandi tot Kokstad. Van Kalkutta tot Kaïro. Van Nepal tot Nairobi.

Dwarsoor die aardbol is daar Martas. Die weldoeners. Hoe nodig het ons hulle nie! Baie van hulle gaan stil-stil en ongeprys hul gang. Hulle dien, sonder om dank of erkenning daarvoor te soek. Hulle is gehoorsaam aan Jesus se opdrag om Sy hande en voete op aarde te wees. Hulle lees en verstaan Jakobus se woorde: ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Tog hoor ’n mens die sagte verwyt in Jesus se stem wanneer Hy Marta tweemaal op haar naam noem: “Marta, Marta”. Die bedoeling van Sy woorde aan haar is dat sy moet onderskei tussen wat wesenlik is en wat bykomstig is.

Ons moet leer om in die chaotiese Martha-rondskarrel-oomblikke net eers by Jesus se voete stil te raak… en te hóór. Dan word ons dade ’n uitvloeisel van ons intieme verhouding met Hom. Dit word dade van dankbare gehoorsaamheid.

Richard Rohr, ’n bekende geestelike skrywer en stigter van die Center for Action and Contemplation, sê: We need both inner communion and outer service to be “Jesus” in the world! The job of religion is to help people act effectively and compassionately from an inner centeredness and connection with God.

Tussen doen en bid vind ons ons ware roeping as gelowiges. Christus wil hê dat ons die Marta én die Maria in ons sal koester.

Hou op met skarrel!

Onlangs skryf ’n vriendin vir my: Ons moet onsself gereeld tot stilstand dwing en vir onsself sê: ‘Versorger, stop die geskarrel. In Mý teenwoordigheid is jý die een wat gevoed moet word.’

Soos Maria. Sy het soos ’n leerling aan haar Here se voete vertoef – honger na die woorde van haar Leermeester. Sy het alles wat hy gesê het, ingedrink. Sy kon nie genoeg van Jesus se wysheid kry nie. Die res was bysaak.

Die gevaar wat ons egter met Maria loop, is dat ons dikwels vanuit ons beskutte binnekamer na die wêreld daarbuite kyk. Die Maria in ons mag dalk krities en veroordelend – en selfs ’n bietjie geestelik verwaand – raak. Ons maak soms selfs met outoriteit uitsprake soos: “Die Here het vir my gesê”, terwyl dit wat ons sê, eintlik ons eie gedagtes is. Die gevaar met Maria is dat haar geloof by woorde kan bly, en nie tot dade oorgaan nie.

In die film Babette’s Feast, wat in die 19de-eeuse Denemarke afspeel, bied twee bejaarde ongetroude susters van ’n afgeleë klein dorpie aan die weskus van Jutland ’n veilige heenkome aan ’n vlugteling, Babette. Sy het nie geld om vir haar verblyf te betaal nie, maar onderneem om daagliks vir hulle kos te kook. Nadat sy ’n groot bedrag loterygeld gewen het, besluit Babette – ’n voormalige top-chef van die beroemde Café Anglais in Parys – om vir die dorpenaars ’n feesmaal voor te sit. Hoewel sy met agterdog deur die dorpenaars bejeën word en geen erkenning of dank kry nie, ontsien sy geen moeite nie. Sy sit nét die heel beste geregte aan die stuurs dorpenaars voor. Vir geen oomblik dink sy aan haarself of haar eie ongemak nie. Sy stort haar dankbaarheid in die voorbereiding van die maaltyd uit.

In Babette sien ek iets van die ware gesindheid wat in ons behoort te wees wanneer ons dien. Ons diens is ’n spontane dankbaarheidsgebaar teenoor God vir alles wat ons mildelik uit Sy Hand ontvang. Ons kan nie anders nie: Ons móét oorleun na ander en hulle seën. Op dié manier is ons tegelyk Marta en Maria.

Luister na Sy stem

Ek dink Jesus sien Maria as een wat voor Hom moet stil raak en eers regtig luister na wat Hý sê – en seker maak dat dit Sý stem is wat sy hoor – voordat sy uitgaan om te doen. Maria-wees is die dissipline-deel van ons Christenskap. Dis daardie punt in ons geestelike lewe wanneer ons met volle oorgawe aan Christus se voete sit en ons eie wil aan Syne oorgee.

Ons wat elke dag in ons binnekamers by die Here vertoef en by Hom leer hoe om te lewe, moet uitgaan en dit wat Hy van ons vra, gaan doen. Dis die praktiese van elke dag se lewe. Daar is geen filosofiese praatjies en mooi woordjies daar rondom nie. Dis die harde werklikheid. God se opdrag aan Sy kinders.

In die drama, Rondomskrik, van Rachelle Greeff sê die hoofkarakter dat ons uitkyk-anties vir mekaar moet wees. God rig dieselfde appèl tot ons: Wees op die uitkyk vir mekaar. Trek sirkels van liefde rondom dié wat alleen of hartseer of honger of verdwaas is, sodat hulle veilig in daardie sirkels kan vertoef.

 Tussen doen en bid vind ons ons ware roeping as gelowiges. Christus wil hê dat ons die Marta én die Maria in ons sal koester.

Ons moet ons besige dae met Christus omsoom. Wanneer ons dit doen, sal niks lostorring nie.

2017-12-09T15:49:12+00:00