Hartstog

Maak ’n draai by Deltapark

Foto’s Hanneri de Wet

’n Oase vir stilword en perspektief kry is soms op jou voorstoep. Jy moet net móói kyk, skryf Yolandi North.

Sedert ek laas ’n reisartikel vir Lééf moes skryf, en dít oor George en die omgewing waar ek en my gesin toe pas heen verhuis het, het die lewe interessante draaie met my geloop. En vandag besef ek dat ons as gesin inderdaad op ’n hartsreis is. As’t ware ’n tog van die hart.

Ons het vroeër vanjaar weens my man se werk teruggekeer na Johannesburg en woon vandag aan die soom van Deltapark.

In my ontdekkingsreis van die nuwe omgewing waarin ek my nou bevind, word hierdie area vir my daagliks meer simbolies van Johannesburg as stad en ons hartsreis – die positiewe en die potensiaal, maar ook die baie uitdagings en nood.

Vandat ons in Maart vanjaar (2017) terug verhuis het, het ek al dikwels gewonder waarom die Here ons na nét twee jaar in die Tuinroete weer teruggebring het.

Miskien omdat ons eers régtig moes leer dat elke plek en lewensfase soet én sout het. In George is die lewenskwaliteit en veiligheid idillies, maar my hunkering na stimulasie en die stad was oorweldigend. Dit het my ʼn jaar geneem om regtig te aanvaar: hiér moet ek wortel skiet, groei én blom. En toe bring die Vader ons weer terug na die stad van goud waar ons opnuut weer wortel skiet en leer blom.

Ongewone bure

Deltapark is ’n groot boomryke stuk aarde wat tussen gevestigde woonbuurte soos Victory Park, Craighall Park en Blairgowrie uitgesprei lê. Die silwer spoor van die Braamfonteinspruit kronkel regdeur die park en dit is onder meer die tuiste van wilde voëls en ’n natuursentrum wat deur skoliere gedurende die week besoek word. In die herfs is die park oortrek met kosmos, terwyl die lang grasse, wat in oordaad hier groei, in die winter jou laat voel of jy iewers vêr van die stad af is. Oor naweke wemel die park met drawwers en fietsryers, stappers met hul honde en piekniekgangers wat die stilte en die mooi van die natuur hier kom opsoek.

Dis ʼn plek waar stadsmense kan asem skep en dagdroom. Ook diep dink oor die lewe en waarheen jy op pad is. Dis ook ʼn hawe waar jy leer van deernis en terugploeg.

Want sien, Deltapark is ook die tuiste van die REEA-Stigting wat in 1935 by die Lady Dudley Nursing Home in Hillbrow as die Rand Epileptic Employment Association gestig is en steeds ongelooflike 24-uur sorg bied aan mense met epilepsie en ligte neurologiese afwykings. Behalwe vir die 40 inwoners wat in woonhuis-tipe koshuis in Yorkstraat (naby aan die sentrum) gehuisves word, is dit ook ʼn hawe vir die spogbuurt waarin dit geleë is.

Rustig word en diep dink

Selfs ʼn kort besoek aan die REEA- en Delta Cafe-sentrum laat jou voel of jy ʼn dag lank uit die harwar van die stad ontsnap het.

Die kompleks – al die pad vanaf die REEA ingang met die geroeste ou motor by die hek tot by Delta Café laat ons besef dat buiteluglewe en omgee nie nét op die platteland hoef te bestaan nie. Selfs hiér – in die hartjie van ʼn Johannesburgse buurt – is daar tyd vir rustig word en diep dink.

Ons drink graag ʼn koppie koffie of warm sjokolade by Delta Café. Die spyskaart verduidelik dat dinge by Delta Café tydsaam en rustig gebeur. Kinders kan op die klimrame karjakker en honde is ook welkom.

By die pragtige Colourful Splendour Tuinsentrum kry ons graag ʼn paar plantjies om ons tuin op te helder, terwyl kindertjies die hoenders groet of vir perd ʼn appel of wortel voer (jy neem jou eie saam).

Die REEA tweedehandse boekwinkel word deur die dierbaarste vrywilligers, tussen 50 en 89 jaar, beman en bestuur. Jenny Pols, ʼn getroue vrywilliger, vertel hoe die bekwame span en twee REAA-inwoners daagliks die wye verskeidenheid boeke skoonmaak, regpak, alfabetiseer en die finansies behartig. By die DIY Tea Shop (’n paar stoele en tafels buite die boekwinkel aan die kwekery se kant) kan jy teen R10 jou eie koppie tee of koffie maak terwyl jy ʼn tydskrif of boek deurblaai.

Tussen ruig bamboese is een van REEA se heerlikste verrassings: The Bamboo Palace. Dit herinner my aan kunsdorpies soos Rosendal en Nieu-Bethesda met bont houtskatte en unieke olieverfskilderye. Eksentriek en kreatief, met ʼn tikkie misterie. Handverfspesialis, Nicolas de Beer en sy vriend, Kevin Collins, het in Augustus 2014 die Bamboo Palace gebou. Nicolas – wat al die meubel-fluisteraar genoem is – doen komissiewerk en bied groep- of een-tot-een meubelverf werkswinkels aan vir kreatiewe siele.

Met deernis

In ʼn dorp soos George – ons vorige tuiste – is die nood groot en verskeie welsynsorganisasies woeker om ʼn verskil te maak. Daar is geleentheid om by soveel betrokke te raak. Beteken dit dat daar in ʼn groot stad minder geleentheid is om betrokke te raak? Nee, inteendeel. Die vereniging vir dit-of-dat het nét soveel donasie, hulp en gebed nodig soos plattelandse organisasies. Die verskil is dalk net dat ons hier in die stad so besig raak dat ons nie altyd die behoeftes en geleenthede om te help raaksien nie.

Dis juis vandat ons terug is in die stad, dat ek meer en meer bewus daarvan raak dat ons nie slegs hier is vir die werksgeleenthede nie. Ook nie nét vir die lekkertes soos stadsliggies, opwinding, straatkafees en deftige restaurante, winkels, kunsgalerye en teaters nie.

Ons is ook nie hier om bang te wees en agter slot-en-grendel weg te kruip vir dít wat dalk daar buite kan skuil nie. Die Here plant ons baie spesifiek op ʼn plek om te lééf, ʼn verskil te maak en te dien.

Wat die REEA-stigting en omgewing vir ons so uniek en spesiaal maak is dat hier plek is vir neem én gee. Dis ’n plek van deernis. Wanneer jy met besoekers, huurders en vrywilligers by REEA gesels is dit duidelik dat almal hier hul deel doen op ʼn unieke manier.

So word alle fondse wat byvoorbeeld deur die boekwinkel en die Rambling Rose Charity Shop ingekry word, weer teruggeploeg om die gehalte sorg vir die REEA inwoners te verbeter. Die boekwinkel skenk ook boeke aan welsynsorganisasies en skole.

Nicolas vertel ook hoe hyself en Kevin van tyd-tot-tyd ook help met verfwerk of ander klein werkies by die REEA-huis.

Jan-publiek kan by die stalle inloer of perdry-lesse neem. Verskeie minderbevoorregte groepe – insluitend die kinders van Nazareth House – trek ook voordeel uit die perdeterapie-uitreikprogram.

Vriende en familie vra ons dikwels of ons permanent terug is in Johannesburg. Die eerlike antwoord is dat ons nie weet nie. Wat ons wél weet is dat ons op die regte plek vir nóú is. Hy sal altyd voorsien én ons in staat stel om te blom waar Hy ons plant – die lewensseisoen ten spyt.

Nog Delta-doendinge

  • Stap deur die REEA groentetuin (kompleet met voëlverskrikkers) en koop jou vars eiers, organiese groente vir die week en selfs ʼn bossie vars laventel elke Woensdagoggend van 8:00 tot 10:00 of Saterdag van 9:30 tot 10:30.
  • Geniet elke dag (behalwe Maandae) ontbyt, koffie en middagete by Delta Café terwyl die kleinspan op die klimraam baljaar. En loer by die CO2 Pottebakkerswerkswinkel reg langs Delta Café in of bespreek ʼn pottebakkersklas.
  • Teen R20 per kind is ʼn ponierit ’n opwindende en bekostigbare ervaring vir kinders. Dit begin weeksdae by die Craighallpark Scoutsaal van 14:00 tot 16:30 en Saterdae by die Rangers Stables op die REEA-perseel vanaf 08:00 tot 10:30 en 15:00 tot 16:00.
  • Gaan stap of ry ’n ent fiets in die Craighallpark gedeelte van die Braamfontien Spruit. Parkeer op Marlboroughweg en neem jou honde saam. Wees veilig en besoek die Delta laatmiddag voor donker of oor naweke wanneer daar baie beweging is.
  • Op soek na ʼn fisioterapeut of Pilatesklasse? Klop aan by Sue Wadley se pragtige nuwe studio op die REEA-perseel.
  • Kinders tussen drie en 10 jaar is gaande oor die Cherry Tomatoes tuinmaakklub vir kinders by REEA Saterdae vanaf 09:00 tot 11:00.
  • Hou jou volgende partytjie of funksie by die Rambling Rose – ʼn prentjiemooi tuin met klimraam, plek vir ʼn springkasteel, kombuis- en badkamerfasiliteite. Of bespreek die pragtige kelder en lokaal van Gerakaris Family Wines vir korporatiewe funksies, wynproe-geleenthede of selfs ʼn aansit-aandete.

Vir meer inligting

REEA-stigting: 011 788 4745, 011 442 6435, http://www.reea.org.za/

REEA Boekwinkel: 082 372 8211 / 083 252 0625. Maandag, Woensdag, Vrydag en Saterdag: 9:30 tot 13:00. Dinsdag en Donderdag: 9:30 tot 16:00.

Rambling Rose Charity Shop: Dinsdae tot Saterdae van 9:00 tot 12:30

Bamboo Palace: 071 337 0644, theBambooPalace@gmail.com, Maandae tot Vrydae 09:00 tot 16:00, Saterdae 09:00 tot 14:00.

Rambling Rose Venue: bespreek by 072 207 8196

Gerakaris Family Wines Venue: 072 638 7636 of kath@gerakaris.co.za

Cherry Tomatoes Tuinmaakklub: 079 895 1332 of cherrytomatoesgc@gmail.com

Pilates en fisioterapie: https://www.pilates4u.co.za/, 083 655 1069 of swadley89@gmail.com

Perdestalle: rangerstables@gmail.com

CO2 Pottebakkerstudio en -lesse: 011 880 3013 of op Facebook: @CO2LAB

* Yolandi North is leefstylblogger en – joernalis. Besoek haar blog, A Zesty Life, by http://azestylife.co.za/ of volg haar op Twitter by @YolandiNorth of op Instagram by @azestylife.