Ek het ’n vriend, ’n wonderlik-vreemde. Hy hou skool op ’n gehuggie in die diep Karoo. Met skoolvakansies kom hy tuis by sy familie naby die Kaap. Dan kry ek gereeld ’n WhatsApp wat min of meer so lui: “Vr 11:00 by Cassis?” Dit staan vir: “Kan ons Vrydag 11:00 by Cassis in Tuinesentrum koffie drink?” Hy daag jare lank nooit by sulke geleenthede op sonder cadeautjies nie. En dis juis hierdie geskenkies wat my hom ’n wonderlik-vreemde laat noem.

So sit hy al verlede Vrydag met sy cappucino aan een van Cassis se tafeltjie as ek laat opdaag. En, ja, langs hom op tafel is ook vandag se cadeaus uitgestal. ’n Elegante koffiebekertjie versier met artistieke fyn katfiguurtjies, ’n geliefde sjokolade, ’n bolrond opgeblaasde geel ballon en ’n houertjie met seepskuim vir bellen blazen.

Ons praat ’n hond uit ’n bos. Die verstommende stories van ’n wêreldreisiger en eindelose individualis soos hy wat op ’n wegkruipdorpie waarvan byna niks meer oor is nie gaan kuns gee het. Sy dawerende lagbuie weerklink telkens oor die beskaafde Vrydagoggend koffiedrinkers. Wat hoeka vreemderig opkyk na die deinende ballon op die tafel tussen ons.

Tuisgekom, skyn die winterson heerlik deur die balkon se groot glasrame. My twee katte geniet met oorgawe. Lê op die bank wolpense omgekeer in dié saligheid. Toe ek die geel ballon op die grond neersit, kom hulle onseker nader. Ruik versigtig daaraan. As ek dit ’n ligte skoppie gee sodat dit die lug in bons, wyk hulle behoedsaam. Maar die Siamesie se nuuskierigheid kry die oorhand. Sy kap na die ballon. Dit bars met so ’n knal dat al twee onder die bank in verdwyn.

Toe haal ek die botteltjie skuim te voorskyn. Ek blaas die lug vol seepbelle. Die katte – en ek! – vergryp ons aan die skoonheid van die wondermooi gesig. Die belle skitter reënboogkleure  in die sonlig. Ek blaas sonder ophou… Kieters verstom hulle aan die meteensheid waarmee die prag wat rondom hulle land binne ’n oogwenk nie meer is nie. Tot ’n beswaarlik merkbare nattigheidjie gereduseer raak. Chaya kap nie eens na hulle nie. Haar oë volg hulle met blou-groot verwondering.

Skielik is Adonai vir my dáár in die asemrowende skoonheid van kleur en lig. Maar ook in die verganklikheid… Wat is ’n menselewe tog maar ’n asemtog, moet ek dink. Ek onthou een van Sy Name – Adonai Roi – die Here wat sien. Hy sien ons hier in ons klein oomblikke van blydskap en verwondering, verstaan ek. Hy is hier.

Toe ek ná Shabbat my tablet oopmaak, kom die ontsettende nuus uit Israel. Met erev-Shabbat  in Halamish – Neve Tzuf was grootouers, ouers en kleinkinders bymekaar om die Shabbattafel om die geboorte van ’n baba te vier. ’n Terroris het deur ’n raam na binne gekom en verwoed met ’n slagtersmes begin aanval. Die grootvader en die kinders se ouers word dodelik verwond… Die grootmoeder oorleef nét. Genadiglik versteek ’n familielid die kinders. Hulle ontkom toe ’n soldaat uit ’n buurhuis die hulpkrete hoor en deur die raam die aanvaller skiet. Dié oorleef, bevind hom tans in een van Israel se bestoegeruste hospitale.

Ek kyk droef na die ontstellende toneel van die bebloede eetkamer waar die familie bymekaar was. Daar lê ’n sandaal in die bloed. Eenkant ’n veelkleurige speelding.

Op die balkonvloer by my sien ek nog die oorblyfsels van die geel ballon. Flarde. Toe word ek weer van die Here se daar-wees bewus. Wéét ek weer.  Ook in daardie verskriklike Neve-Tzef-oomblikke het  die Here wat sien, gesien. In ons bitterste uur, in ons totale onvermoë om so iets te begryp, is Adonai Roi daar. Síén Hy.