Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Die vingertjies is styf gevries om die bakkie se tralies en kort-kort het wit dampies die lug in geborrel soos hul geskater die helderblou lug inwarrel. Dis wintervakansie in die Karoo en vandag is jagdag!

Die seuns het voor hul gaan slaap hulle jagklere uitgesit. Gekamoefleerde eenstukoorpakke met bypassende musse. Dik sokkies vir die vêr stap in die veld en stewige bruin leerskoene. Jagmesse is geslyp, koeëltjies is afgetel en lê gereed langs die windbukse. Toe die ryp vroegoggend onder die sole knars en die diere se waterbakke solied gevries is, pak die seuns ’n buitevuur vir oggendkos. Slappap met biltong, soet koffie en semel beskuit. Dis wat jagters eet, het hulle besluit.

Die vrouens pak die bakkies met koestergoed vir ’n dag in die veld – mandjies vol kos, komberse, soetwyn, tafels en opslaanstoele vir sag sit – terwyl die mans klaarmaak vir veld toe gaan. Die opwinding en vreugde van ’n dag se uitspan in die veld is tasbaar. Die kinders breek stukke ys uit die waterkrippe uit, skiet teiken, ondersoek elke erdvarkgat en hardloop sporadies terug kamp toe vir ’n soetigheid. Uit die hoek van my oog sien ek hoe die seuns die ‘nuwelinge’ probeer touwys maak. So maak mens in die veld, sus maak mens as jy ’n jagter wil wees. Die jongste niggie is hulle gewilligste gehoor. Haar ogies volg elke aksie, sy drink die ervaring met diep teue in. Ek hoor Darius sê: “As jy nou regtig ’n veldmens wil wees, moet jy hierdie skaapmisbolletjie in jou mond sit tot hy swaar word en dan kyk hoe vêr jy hom kan spoeg.” Haar oë rek effens maar sy vat tog die bolletjie by hom. Ek hou my asem op. Haar hand gaan stadig op na haar mond toe… sy sit wraggies die bolletjie in haar mond! ’n Rukkie en toe spoeg sy – ’n indrukwekkende poging vir die fyne prinses van 6 jaar! Almal klap hande en wens haar geluk met die ritueel van deurgang van “stadsmens na plaasmens.” Sy straal.

 

Om oor na te dink

Dink aan rituele wat mense instel om iemand aanvaarbaar vir ’n groep te maak en hulle deel te laat voel soos ontgroening, gradeplegtighede, kombuistee’s en ooievaarstee’s… selfs katkisasie en aanneming. Die behoefte om uiterlike rituele toe te pas sodat die innerlike transformasie van ’n persoon die groter samelewing uiteindelik sal bevoordeel. Maar te dikwels is ons so ingestel op die uiterlike rituele en voorkoms dat die innerlike werk – die werklike vernuwing wat deur die sagste wasem van die Heilige Gees gedoen word – nie tot volle wasdom ontwikkel nie. Die oorgawe ontbreek. Ons doen wat ons moet. Jesus het nie veel erg aan rituele gehad nie. As jy Hom wil volg: “Kom!”

  • Bly vrae vra wat jou kind se hart bereik.
  • Soek die passie van Jesus se liefde in gewone oomblikke om jou.
  • Selfs tydens Nagmaal – die ritueel word ’n sakrament, word ’n heilige oomblik!
  • Jesus soek veranderde harte en ’n nuwe mens.

Lees meer:

“What did Jesus really mean when He said follow me?” deur David Platt uitgegee deur Tyndale House Publishers.