Lééf in oorwinning

‘Genade genoeg vir my’

Foto’s Christine Ferreira & verskaf

Op 6 Januarie 2013 was Stinnie en Jannie du Plessis van die plaas, Gretna Green, naby Villiers, die slagoffers van ’n wrede plaasaanval. Na meer as vier jaar deel Stinnie dié roerende getuienis.

“Die vraag wat die langste by my gespook het na die aanval was die kwessie van genade. As genade vir my en Jannie genoeg was, waar was die genade dan op 6 Januarie 2013? As genade genoeg is, hoekom het ons dan so van God verlate gevoel?

“In my soeke na genade het ek op dié antwoorde afgekom…

“Die plaasaanval op Gretna Green was ’n haarfyn beplande gewapende rooftog; die aanvallers het van Gauteng af gekom om Jannie te skiet, ons van ons kosbare besittings te beroof en ons uiteindelik in ons instapkluis toe te sluit en ons aan ons eie lot oor te laat.

“’n Paar weke na die aanval lees ek een aand vir die soveelste keer die kruisigingsverhaal, net om vir die eerste keer met ontnugtering te ontdek dat soveel van ons belewenisse in die nag van 6 Januarie 2013 ooreenstem met die wanhoop, versugting en belewenis van Jesus tydens Sy kruisiging.

“Ons het ook gesmeek toe ons die volle konsekwensie besef van dit wat besig is om met ons te gebeur. Ons het soos Jesus gesmeek dat hierdie beker tog asseblief by ons moet verbygaan. Die wanhopige uitroep wanneer mens besef dat hierdie beker geledig sal moet word, druppel vir druppel. Die vernedering, vrees, angs, pyn en wanhoop wanneer mens besef jy gaan hierdie kruis alleen moet dra. Ek het my in daardie oomblikke vereenselwig met die woorde van Jesus aan die Kruis: “My God, My God waarom het U my verlaat.”

“Daar is ook ander aspekte waarmee ek my met Hom kan vereenselwig toe ons daardie nag in ons ruimte van angs toegesluit en aan ons eie lot oorgelaat is. Ek dink Jesus moes só gevoel het toe hy die nag as gevangene in die donker put onder Kajafas se huis moes deurbring, toe hy geboei voor Pilatus verskyn het. Ook toe Jesus gesê het: “Ek het dors” en die aanhoudende gejou van die omstanders wat uitroep; “Kruisig Hom!”

’n Mens loop nie ná so iets in die lig nie, jy strompel dit binne verblind met trane.

“Nog nooit was ek en Jannie so bang as daar in die kluis nie. As mens die dood in die gesig staar wil jy lewe! Ons laaste tye saam op aarde was ure van benoudheid, van vrees, van pyn en sónder die genade waarop ons altyd kon staatmaak.

“Ure later is my man se slap liggaam, halfdood, gedehidreer van sy ‘kruis’ afgehaal en weggeneem na sy plek van skemering, die hospitaal in Alberton.

“’n Mens loop nie ná so iets in die lig nie, jy strompel dit binne verblind met trane. Genadeloos voel dit. ’n Fase volbring. Jannie het gesterf en die halflig baie donker vir my.

“Nou vra mense my en wil hulle van my weet hoe ek daardeur gekom het en hoekom ek terug plaas toe is na ons ‘hoofskedelplek’? Ek verstaan steeds baie min oor die hoekoms en die waaroms van die lewe, maar wat ek wel weet is die volgende:

  • Genade is Boontoe kyk.
  • Genade is ’n ma wat onverpoosd bly bid, onverpoosd bly troos. wanneer jy naïef op ander plekke na genade soek en dit nie vind nie.
  • Genade is wanneer jy kinders en kleinkinders se hande voel stoot wanneer jy voel die opdraande is te steil en die kolle op die ruit te veel om geen landskap aan die anderkant op te merk nie.
  • Genade vind mens in ’n sussie se huis wat vir ses weke ’n veilige sagte hawe is.
  • Genade is vriende en vriendinne wat opreg werk maak om die pad vir ’n mens met rose van omgee te besaai.
  • Genade is wanneer jou ‘kopbeenplek’ verander in ’n geboorteplek van hoop en uitsien.
  • Genade is wanneer jy jou hand uitsteek en aan Jesus se voete raak en aanhaak by Sy belofte dat Sy Genade vir ons genoeg is.

Genade is nie ’n wonderwerk nie. Genade is om te besef, maak nie saak wát nie, met mý God loop ek ’n bende storm, met mý God spring ek oor ’n muur. En as die genade wat Hy vir my vir een dag afmeet het nie genoeg is nie, kan ek staatmaak op ’n voorskot op môre se porsie. Dít is genade genoeg vir my.”

7 lewenslesse wat ek uit hierdie ervaring geleer het:

  1. Hê duidelikheid oor wat geloof in God vir jou beteken. Kies om ten spyte van alles in Hom te bly glo.
  2. Daar waar ek niks kon sien, verstaan of hoop nie, weet ek die Here het my aan die hand gegryp en nie laat los nie.
  3. Professionele hulp is nodig na trauma.
  4. Ek het geleer dat dit nodig is om ander se hulp en bystand te aanvaar.
  5. Ek moes leer om weer klinies en realisties na die lewe te kyk. Die plaaswerk moes aangaan, al was ek nog besig om water te trap en die stukke van my lewe bymekaar te skraap.
  6. Ek weet dat daar nuwe dinge is waarvoor ek my nou moet beywer.
  7. Ek het die liefde van my mense nodig. Ek weet nou dat liefde die grootste is van alle dinge.