Lééf met oorgawe

Erfkos

Deur Christine Ferreira | Foto’s Hanneri de Wet, Myburgh du Plessis, Paul Bransby en Christin Boggs-Peyper

Van die alomgeliefde melktert tot nederige roosterkoek en watertandlekker beskuit. Dié drie vroue (en man) vier ons Suid-Afrikaanse koserfenis met oorgawe.

Tannie Poppie kook weer…

Ons het haar tydens KykNET se tweede seisoen van Kokkedoor leer ken. En het dié gryskop ‘tannie’ kort voor lank diep in die harte van kykers regoor die land gekruip. Soveel so dat ’n rubriek in ’n tydskrif en nou ’n tweede kookboek, Tannie Poppie kook weer, gevolg het.

Tannie Poppie, oftewel Poppie Coetzer, ’n klein vroutjie met ’n groot hart het een van ons land se gewildste kospersoonlikhede geword. Sy voel soos familie, ’n ere-tannie vir almal. Met haar tweede kookboek lewer sy weer eens ’n groot bydrae tot ons kosskatkis. “Ek wil graag die nuwe generasie bekendstel aan die héérlikheid van varsgebakte brood met kaiings, rosyntjiebrood met ‘n dik laag botter en Maltabella-besluit.”

Haar jongste kookboek weerspieel haar liefde vir kook, haar passie vir die kombuis en deel sy wenke en resepte wat jou summier huis toe laat verlang. Tog leef die boek met al sy outydse resepte nie in die verlede nie. Dit helder dinge van gister op en maak dit nommerpas vir vandag. “Ek hou daarvan om nuwe dinge te leer, ook as dit kom by kosmaak” sê die kort vroutjie met haar aansteeklike bruisende jongmens-energie.

Ontmoet jy haar man, Jan, besef jy gou dat hy die groot steunpilaar in haar lewe is. “Behalwe wanner ek moet vlieg! Jan is doodbang vir ’n vlieg. Ek kook natuurlik graag sy gunstelingdisse en van dié resepte is ook in die boek vervat. Dit was vir my baie spesiaal om van my ma, Sarie, en my ouma Lenie en ouma Hester se resepte met lesers te kan deel.”

Plaas ’n paar suikerklontjies in jou koekblik, dan bly die koekies langer vars.

Wenke wat werk

Hiermee ’n paar van tannie Poppie se beste wenke as dit kom by kook en bak…

  • Bruingebraaide aartappels: Laat lê aartappels eers 30 minute lank in melk, droog hulle af en braai. Só word hulle makliker bruin.
  • Vars gebak: Plaas ’n paar suikerklontjies in jou in jou koekblik, dan bly die koekies langer vars.
  • Smaaklike pampoen: Voeg ’n vyeblaar by wanneer jy die pampoen gaarmaak – dit verbeter die geur.
  • Heerlike rys: Plaas ’n brooskorsie bo-op rys wat gebrand het, sodiende trek die brand in die korsie in.
  • Wit geblom: om blomkool mooi wit te hou, voeg ’n koppie melk (250 ml) by die water waarin dit gekook word.

Tannie Poppie se resep vir ’n goudbruin mieliebroodjie bly bobaas. “Die broodjie kan sommer ook so 50-60 minute oor ’n oop vuur gebak word.”

Mieliebrood
Lewer 1 brood
5 x 250 ml vars mieliepitte
250 ml koekmeelblom
7,5 ml bakpoeier
5 ml sout
2 eiers
60 ml sagte botter of margarine

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C (350 °F).
  2. Verwerk helfte (625 ml) van die mieliepitte in ’n voedselverwerker tot glad.
  3. Voeg saam met die res van die mieliepitte in ’n mengbak.
  4. Voeg die koekmeelblom, bakpoeier, sout, eiers en botter of margarien by die mielies. Meng.
  5. Skep die beslag in ’n klein, gesmeerde broodpan of oondbak.
  6. Bak 50-60 minute lank tot goudbruin.
  7. Laat effens afkoel.
Melktert is die ster van menige teetafel, die onbetwiste matriarg van ons baktradisies en die soet-simbool van Suid-Afrikaanse tuisgebak.

Vir die liefde van melktert

“Melktert… net die woord alleen roep ’n herinnering of ‘n tikkie heimwee by die meeste Suid-Afrikaners op. En byna almal het ’n kosbare familieresep wat hulle glo die heel beste is. Daar is mense wat enige iets anders as die tradisionele melktert met sy skilferkors-kraag as ’n sonde beskou!”

Melktert is die ster van menige teetafel, die onbetwiste matriarg van ons baktradisies en die soet-simbool van Suid-Afrikaanse tuisgebak, glo Mari-Louis Guy, mede-skrywer van die boek Die Suid-Afrikaanse melktert-versameling. Mari-Louis is nie net ’n bekende TV-aanbieder nie, maar ook kosskrywer en kosstilis en het hierdie heerlike erfenis-kookboek saam met haar broer, Callie Maritz, aangepak.

“Hoe sterk ons oorkal daaroor voel dat melktert ’n Suid-Afrikaanse ikoon is, is die waarheid dat ons nie kan aanspraak maak op die oorspronklike gedagte nie. Die Romeine het heel eerste die saambindende eienskap van eiers raakgesien. Wat ons melkterte onderskei van Europese vlaterte is dat die melk-tot-eier-verhouding groter is by ons s’n en samaak ons terte dus meer melkerig en  minder eierig. Boonop gebruik ons byna altyd kaneel en soms nartjieskil vir ekstra geur.

“Ons eie melktert se oorsprong kan glo teruggespeur word na die eerste gedrukte kookboek in Hollands, Een notable boecxken van cokeryen, wat in 1514 deur ene Thomas van der Noot geskryf is.”

Met die saamstel van dié boek vertel Mari-Louis hoe verstom hulle was deur die hoeveelheid variasies wat uit eenvoudige aanpassings van die basiese melktertresep ontstaan het. “Nadat ons op die finale 60 resepte besluit het (en heel meer geproe en getoets het), het ons besef dit is eintlik nog net die begin van dié onderwerp.”

Dié resep is ’n aangepaste weergawe van Hope Malau, redakteur van die tydskrif Drum, se resep vir melktertsnye.

Melktertbroodjie
Lewer 1 tert
4 koppies (1 liter) melk
8 eiers, geskei
1 ⁄2 teelepel (2,5 ml) koeksoda
1 teelepel (5 ml) witwynasyn
2 en ’n half koppie (350 g) versiersuiker
225 g botter, gesmelt
2 eetlepels (30 ml) water
2 koppies (280 g) koekmeel
2 teelepels (10 ml) vanieljegeursel

  1. Voorverhit die oond tot 180 grade Celsius. Smeer ’n 17 sentimeter broodpannetjie.
  2. Verhit die melk stadig in ’n kastrol oor matige hitte, dit moenie kook nie. Hou eenkant.
  3. Klits die eierwitte, koeksoda en asyn saam tot stywepunt-stadium. Hou eenkant.
  4. Klits die eiergele en versiersuiker saam tot lig van kleur. Voeg die botter en water by en meng goed.
  5. Voeg die meel by, klits aanhoudend en voeg die melk en vanieljegeursel in ’n egalige straaltjie by. Hou aan klits tot alles goed gemeng is.
  6. Vou die eierwitte liggies by die beslag in.
  7. Skep die beslag in die bereide broodpannetjie en bak vir 45 minute of tot goudbruin bo-op.
  8. Laat afkoel voordat jy dit in skyfies sny.
Ek koester mooi herinneringe aan warm, tuisgebakte brood wat pas uit die Aga-stoof gehaal is; die groot tafel in my ouma se kombuis waar ons ouers heelaand sou deurbring.

Klassiek Suid-Afrikaans

“Vir so lank ek kan onthou, het ek ’n passie vir lekker kos” vertel Melinda Roodt. Melinda is ’n ervare kok en gasvrou en skrywer van die boek Die klassieke Suid-Afrikaanse kookboek wat einde verlede jaar deur Struik uitgegee is. Sy en haar man Gerhard is voltyds in die bediening as senior pastore by die Delta Community Church in Vereeniging. Melinda is ’n ware Spreuke 31-vrou. Dié ma van drie tree gereeld op as openbare spreker, dien op die rade van verskeie liefdadigheidsorganisasies wat mishandelde vroue en kinders ondersteun en is ook ’n musikant wie drie orkeste beheer en dirigeer. Sy bied van tyd tot tyd kookkursusse aan by haar huis en besit boonop haar eie beskuit- en koekiereeks, genaamd Mel’s Kitchen.

“Herinneringe uit my kinderdae is deurspek met groot familiefeeste, en ons was inderdaad ’n groot familie. Van die agt kinders wat vir my grootouers aan vaderskant gebore is, het daar agt en twintig kleinkinders gekom – ’n familiebraai was dus geen klein affêre nie!

“Ek koester mooi herinneringe aan warm, tuisgebakte brood wat pas uit die Aga-stoof gehaal is; die groot tafel in my ouma se kombuis waar ons ouers heelaand sou deurbring; die reuk van varsgebakte skons wat my ouma aan moederskant gebak het; en die klokkie wat gelui is om die etensuur aan te kondig.

“Ná ek getroud is, het ons as leraars in ’n gemeente op ’n klein dorpie in die destydse Oranje-Vrystaat bein werk. Dáár het ek talle geheime eerstehands uit die plaaskombuise geleer.

“Net voordat my dierbare vriendin, Truida van Heerden, na Australië geëmigreer het, het sy my vir ’n paar resepte gevra wat haar aan die huis sal herinner terwyl sy oorsee woon. So het die neerskryf van resepte begin.

“Ek glo dat ’n lekker tuisgemaakte maaltyd nie net familie en vriende bymekaar bring nie, maar dat dit hulle ook die kans gee om tred te hou met mekaar se doen en late. ’n Goeie maaltyd is die hart van ’n huis. Die etenstafel is ’n veilige plek waar kinders en ouers met mekaar kan kommunikeer.

“Vir my gaan kos oor meer as net kook; dit bou herinneringe wat nog vir jare in die toekoms sal bly talm.”

“Ek het ’n paar jaar gelede kersietamaties begin plant en ek was verras deur die buitengewoon ryk oes wat hulle lewer. Wat doen jy wanneer jy volop kersietamaties het? Jy kook konfyt! Sedert ek hierdie konfyt begin kook het, sal ek nooit weer tamatiekonfyt koop nie. Ek maak altyd seker dat ek konfyt gemaak het voor die seisoen eindig. Hierdie konfyt is effens loperig met ’n sweempie gemmer.”

Tamatiekonfyt
Lewer sowat 1,6 liter
1 kg kersietamaties, gehalveer
1 kg witsuiker
2 x 4 cm-knoets gedroogde gemmerwortel
1 ml kremetart

  1. Steriliseer 6 tot 8 skoon 200 ml-glasflessies met deksels deur hulle in kookwater te dompel 10 minute voordat die konfyt se kooktyd verstreke is. Droog met ’n skoon vadoek af net voordat jy die flessies met die warm konfyt vul.
  2. Vir die konfyt, plaas die kersietamaties in ’n ekstragroot kastrol, giet die suiker oor en roer.
  3. Laat staan vir sowat 90 minute tot die suiker opgelos is.
  4. Voeg die gemmerwortel by en laat opkook oor matige hitte.
  5. Maak ’n deegkwassie met ’n bietjie water nat en vee enige suikerkristalle van die kante van die kastrol af.
  6. Prut oor lae tot matige hitte vir 50–60 minute en roer elke 5 minute.
  7. Indien die konfyt baie skuim, kan jy dit met ’n groot lepel afskep.
  8. Voeg die kremetart by en roer goed.
  9. Verwyder die gemmerwortel.
  10. Giet die warm konfyt in die gesteriliseerde flesse en vul dit tot 0,5 cm van bo af. Hou elke fles met ’n vadoek vas sodat jy nie brand nie en skroef dadelik die deksels op. Maak seker dat dit styf pas.
  11. Merk elke fles met ’n etiket met die naam en datum, en laat afkoel.
  12. Bêre op ’n droë plek. Sodra dit oopgemaak is, sal dit tot drie maande in die yskas hou.

Resepte en uittreksels met toestemming gepubliseer uit Tannie Poppie kook weer deur Poppie Coetzer, uitgegee deur Human & Rousseau 2017; foto’s Myburg du Plessis, stilering Sonja Jordt, asook Die Suid-Afrikaanse melktert-versameling deur Callie Maritz & Mari-Louis Guy, uitgegee deur Human & Rousseau 2017; foto’s Paul Bransby, stilering Callie Maritz & Mari-Louis Guy en Die klassieke Suid-Afrikaanse kookboek deur Melinda Roodt; uitgegee deur Struik, Christin Boggs-Peyper @ Penguin Random House South Africa (Pty) Ltd 2016, stilering Melinda Roodt en Marianne Hattingh.