“Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is…” Jeremia 6:16

Die hipster-tendens het my aangenaam verras. En na my mening ’n besliste verbetering oor die vorige neiging tot afgesakte broeke en algemene slonsigheid! Hipsters se baarde, outydse brilrame, gebreide truitjies en wolmusse is kenmerkend van hul manier van aantrek en dui op ’n verlange na die goeie ou dinge (en die goeie nuwe dinge soos die nuutste tegnologie, craft bier en spesialis-koffies)! Die algemene tendens is deesdae mos maar nostalgie – dinge is weer vintage, retro. Ook onder Afrikaanssprekendes is die nostalgie groot: ons troues is nou die ene draad-windpompe en blikbekers, goiing-tafeldoeke en rosette gevou uit ou F.A.K.’s. Dis uniek en waarom sal ons nie terugverlang na die tye toe die wêreld eenvoudiger, égter en gemeensamer was nie?

Nostalgie is egter ’n verleidelike leuen, sê George Ball – ’n baie rooskleurige bril! Die waarheid is dat die verlede nie net maanskyn en rose was nie. Dit was ook swaar, ’n gesukkel – en vir baie was dit onderdrukkend, doodgewoon sleg. Die verlede is ook verby en sal nooit, ooit weer terugkom nie – en dis ook maar goed so! Laat ons eerder uit die verlede leer en daarmee die hede probeer beter maak. Onthou, die hede is ook nie net sleg nie, al klink die sewe-uur nuus elke aand net meer bedroewend. Die moderne lewe is veranderend en kompleks, maar dis ook opwindend en vol oplossings. Hipsters leef die moderne lewe met sukses, hoor, want hulle verstáán hom – en in hul leertassies is daar die jongste rekenaar, met ’n app vir letterlik alles.

Elke tyd bring sy eie probleme en uitdagings. Ons mág maar lekker droom, maar dan moet ons weer terugkeer en in híérdie lewe leef! Leef met geloof – jy’s ’n gelowige. En HY is mos hier by ons!

Gebed

Dankie dat U dieselfde bly: verlede, hede en toekoms!

“Daar is baie beter dinge voor ons as agter ons.” C.S. Lewis

Besoek ww.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.