Kuier by

Potteparadys

deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet

Die berese en belese pottekenner Adriaan Turgel van Liebermann Pottery in Cottlesloe, Johannesburg, begelei ’n besoeker deur sy unieke en kleurryke keramiekkoninkryk met ’n magdom stories.

Al word sy voornaam op die Afrikaanse manier gespel, is Adriaan Turgel (63) gebore en getoë in ’n Joodse, Engelse familie van Johannesburg, waar die goue draad wat oor sowat ’n eeu strek, keramiek is. Waar die Afrikaanse spelling vandaan kom, kan hy nie verklaar nie. “Van ek gebore is, het mense my ook Koos genoem, en sommige doen dit vandag nog,” glimlag hy effe verwonderd.

Hy is ’n formidabele figuur, fors gebou, knus gewikkel in ’n blou hemp, groen baadjie, gestreepte blou, geel en pienk serp, met ’n donkerbruin wolmus oor sy krulhare en ore getrek. Die blouraambril en grys bokbaardjie laat hom soos ’n geamuseerde akademikus lyk. Ons wandel buite in die binnehowe tussen rye, stapels en torings potte en ander keramiekware in ’n bonte karnaval van kleure en groottes op die perseel van die ou gasfabriek wat hy reeds vir 20 jaar huur. Tussen die vaal, vervalle geboue bevind ’n besoeker aan Annetweg 1 hom hier in ’n fantasieplek wat die asem wegslaan en die oog betower.

Sommige potte is massief, ander is beskilder met fyn blompatrone in Oosterse style. Kleiner helder oranje en geel potte is uitgepak op tafels. Die gruisklipperpaadjies wat deur die potparadys kronkel, is nou en mens loop trapsuutjies om niks te breek nie. “Jy kan nie hier aankom en nie vind wat jy soek nie,” meen Adriaan. “Hier is alles wat jy verlang. Kliënte soos bekende binneversierders en ontwerpers weet presies wat hulle soek. Hulle arriveer en wys dadelik na die items wat hulle wil hê.”

“Ek het groot geword met potte en die woordeskat van pottebakkery.”

Diegene wat hier kom snuffel, kan pragstukke en bric-a-brac opspoor wat prysgewys wissel van R5 tot R10 000, insluitend Africana, aromaterapiebranders, basboesstoele en -lere, kershouers, keramiekbottels, Thaise kerrieskottels, kalligrafiekwaste, lampkappe, huisnommers, piekelbottels, saki-koppies, slakborde, sneeulanterns, sushi-borde, waterfluite, wynkraffies, kleipaddas en -seekoeie, juweelkissies en veel, veel meer!

Oor elke soort pot en kunswerk het hy fassinerende stories om te vertel. Daar is ’n verskeidenheid geïllustreerde klei- en mosaïekteëls, speels en humoristies, wat die visie van die kunstenaars Annemarie Berry, Magda Jasinska en Mary Liebermann is. Daar is teëls van die Tang Dinastie en handversierde blou en wit teëls van die Ming Dinastie. Mosaïekteëls is beskikbaar in primêre kleure, pastel- en aardse skakerings, asook gebreekte stukke porselein, krale en ander aardighede wat ingelê kan word. Vir bonsai-entoesiaste is daar die grootste versameling plantpotte op die vasteland.

Putgevuurde ware is handgemaak, sag en aards en word op dieselfde tradisionele manier in Asië en Afrika gevuur. Die kleipotte word gedroog en dan in ’n vlak put geplaas met fyn gras, strooi, blare en stingels en ’n uur lank gebak, gelaat om af te koel voor dit met ’n stok uit die as gehaal word.

Visdamme en monnike

Adriaan beduie na die diepgroen ruigtes en bome agterom die gasfabriek waar sy onderneming gesetel is.“Hierdie omgewing is dekades lank erg deur die gas besoedel, dit het diep in die grond ingesypel,” vertel hy. “Dis hoekom die plante en bome so geil groei.”

In een van die visdamme swenk en duik elegante Koi-visse. “Ons het visdamme van porselein wat spesiaal ontwerp is om Koi, Tilapia en ander visse in ’n klein tuin gelukkig te hou,” lees ek later op sy webwerf. “Die meeste keramiekhouers kan in klein visdamme omskep word deur ’n gaatjie op die regte plek te boor.”

Oplaas betree ons die onderdak-area, ’n ruim stoorkamer waar die tafelware, fyn porselein (antiek, eklekties, modern), kruike, potte en ’n verbysterende verskeidenheid lieflike uitstalware op rakke van die verweerde houtvloere tot teenaan die hoë wit plafon gerangskik is. ’n Mens kan jou net vergaap en raai watter verwoesting ’n verdwaalde bul hier sou saai…

Adriaan se kantoor is aan die een kant van die stoorkamer ingerig, met vensters waardeur hy sy klante in die binnehowe kan bespied. Tydens die onderhoud dwaal die baas se oog gereeld na sy buiteplaas. So kleurryk soos sy seldsame omgewing is sy staaltjies en vertellings van sy grootwordjare en avonture. Adriaan kan land en sand uitwei oor klei, kuns, beroemde kennisse, ’n magdom belangstellings en stokperdjies, oor die verre Ooste, waar vele van sy keramiekware en reuse potte vandaan kom. Hy is ’n onversadigbare outidak, ewige student en ywerige versamelaar van potte. Hy plant sy eie groente en maak kos. “Toe porselein in die vyftiende eeu na Europa gekom het, was dit so seldsaam as wat dit duur was, en antiekware is dikwels in silwer en goud gegiet. ’n Egte 15de eeuse Ming-vaas staan ’n hele paar voet hoog, en sal vandag sowat R6 miljoen werd wees,” verklap hy.

Jeugreise

Sy pa was ’n argitek, sy ma ’n kunstenaar. Hulle het hul eie pottebakkery, Marakesh Pottery, tot die jare sewentig met ’n handelskonsessie van die Pedi-koning Chuene bedryf. Adriaan is een van sewe kinders – “iewers aan die bopunt”.

“Toe ek ses was, het my ma my geleer hoe sy die koning moes aanspreek – as ‘My darling’,” verkneukel hy homself. “Ek het groot geword met potte en die woordeskat van pottebakkery.”

Van 13 tot 15 jarige ouderdom is hy na ’n Rabbynse Skool in Newcastle, Upon Tyne in die Noorde van Engeland gestuur. Nie ’n tyd van goeie herinneringe nie, erken hy. “Die kos was aaklig. Ek het net ’n polonektrui teen die verskriklike koue gehad.”

Met sy terugkeer na Suid-Afrika is hy uit verskeie skole geskors of het hy sommer weggeloop. “’Ek was ’n baie stoute seun. Totaal onregeerbaar!” Nadat hy uiteindelik sy matriek voltooi het aan Damelin College het hy Regte studeer en dit van harte verpes. Antropologie het hom meer aangestaan. Sy belangstellings was toe al wyd; hy het selfs oorweeg om ’n diplomaat te word.

Adriaan het aangesluit by ’n pottebakker, Jean-Paul de Senneville in Johannesburg, en mettertyd het hy saam met die nuwe mentor se familie na Spanje verhuis. “Jean-Paul was ’n groot vernuwer wat in Londen studeer het. Hy is sowat vyf jaar gelede in Mauritius oorlede.” Mettertyd het Adriaan sy groeiende kennis van keramiek by die Camden Arts Centre in Arkwright Road, Londen verfyn.

“Tot op 23 was ek baie entoesiasties oor potte. Ná my weermagtyd by Doornkop, Middelburg het ek ’n tydjie lank klas gegee in pottebakkery. Maar op ’n dag het ek wakker geword en besluit dis nie vir my nie.” In sy rebelse periode was hy totaal “anti-potte”, lag hy. “Ek het meer in metaal begin belang stel. Silwer, koper en smeeyster.”

“Dis moeilik om ’n pottebakker te wees en daarom moet ons saamwerk. Dis ’n klein bedryf en almal weet waarmee die ander besig is.”

Vernuwe heeltyd

In 1956 het sy oom Sammy Liebermann Pottery in Johannesburg gevestig, geskoei op die Bernard Leach Shoji Hamada-tradisie, met ’n uitgebreide reeks van tradisionele handgemaakte tafelware, eetgerei en keramiekprentteëls.

Ná Sammy Liebermann se dood het sy tante Mary hom in 1988 genader om die pottebakkery, wat destyds in Wynberg geleë was, oor te neem. Adriaan het die onderneming na Marlborough verskuif. “Elke jaar moet dit weer gebore word,” glo hy.

Van besigheid het hy niks geweet nie: “Ek kon nie debiet van krediet onderskei nie. Ek het op die harde manier geleer. Daar was probleme met diefstal en die unie,” onthou hy kopskuddend. In die tagtigerjare was Adriaan se bydrae om ’n reeks tuinplanters en tuindekor by te voeg. “Die keramiekbedryf het destyds ineengestort weens te veel Chinese goedere op die mark. In die vroeë negentigs het ek China besoek, die mees opwindende bestemming vir keramiek. Ek het Asië deurkruis: Vietnam, Suid- en Noord-Korea, net nie Japan nie weens visa-probleme.” Shanghai het sy hart gesteel: “So kosmopolitaans, beskaafd, veilig, en die koffie is uitstekend!

“Al was daar mense wat my as deel van die probleem beskou het omdat ek Oosterse keramiek ingevoer het, was my doel altyd om plaaslike pottebakkers in ’n kwynende bedryf te subsidieer en die bedryf ’n beter profiel te help gee. Ons bevorder graag pottebakkers hier. Dis moeilik om ’n pottebakker te wees en daarom moet ons saamwerk. Dis ’n klein bedryf en almal weet waarmee die ander besig is.”

In Junie 2011 het ’n Kaapse tak in Sunnydale naby Kommetjie geopen op ’n lieflike vyf-akker landgoed. Plaaslike kunstenaars, van die stad en platteland, se werk word daar uitgestal, soos dié van Lisa Liebermann.

Die lewe is ’n reis

Adriaan was een keer getroud, daar was geen kinders nie, maar hy is soos ’n pa en raadgewer vir sy broerskind (Shadrach) wat vir hom werk, een van sy span van 30 werknemers. Terwyl hy ’n dekade lank ‘n “kom-en-gaan” inwoner van Los Angeles in die VSA was, het hy probeer om die besigheid vir die familie terug te gee. Hy het begin voel sy ander belangstellings roep.

“Ek wil graag meer reis, al kan dit uitputtend wees. Daar’s nog soveel plekke om te sien: Isfahan in Iran, Georgia (Oos-Europa), Auroville in Indië…” Sy avonture in die pottebakkersbedryf was die onderwerp van ’n lesing by die Goethe-instituut in Johannesburg, waar sy dokumentêre rolprent The Pottery Detective: Adventures of Discovery vertoon is.

Adriaan gesels oor Koreaanse krygsgevangenes wat die Aritha-sentrum in die 1300’s begin het, die geskiedenis van keramiek wat gesetel is in Jingdezhen in Jiangxi-provinsie in die noordooste van China, die middelpunt van waardevolle porselein, en Kaolin, die berg waar die eerste wit keramiek vervaardig is…

Een van Adriaan se landskapskilderye hang in sy kantoor, nog ’n voorbeeld van sy omvattende visuele benadering tot die lewe. Oor motors kan hy nie uitgepraat raak nie. Hy koester ’n passie vir veteraanmotors en stel intens belang in elektriese karre. Hy beduie ingenome deur die venster na ’n elektriese voertuigie wat ingespan word om voorraad te karwei.

Shadrach bring middagete op ’n skinkbord na die kantoor, en ons smul aan gul porsies van ’n geurige hoenderbredie met groente en vars kuie wat Adriaan gemaak het. Ons praat verlaas oor blywende dinge, waarvan potte simbolies is. Die dinge wat mense saambind; diep vriendskap wat strek oor dekades en sielsgenote met wie hy oor die groot onderwerpevan die lewe kan praat. “Soos jy ouer word, weet jy dis wat werklik tel,” mymer hy.

www.liebermann.co.za

liebpott@iafrica.com