Ek deel my hart

 

‘My genadegawe is diensbaarheid’

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

Haar omgee vir ander, lê ten diepste in die hart van dit wat aktrise Hanna Grobler, elke dag vir minderbevoorregtes doen.

Op ’n Dinsdagmiddag in Junie ontmoet ek vir Hanna, haar ma, Marietjie, wat vir ’n dag of twee van die Suidkus kuier by ’n afgeleë plaasrestaurant in die Ooste van Pretoria. Ons kuier in die binnehof tussen welige plantegroei en koel klipmure.

Hanna se heldergroen oë en lyftaal wys die rustigheid van ’n tevrede en vol hart. Vir nou is sy bykans voltyds ma, hoewel haar liefdadigheidsorganisasie, die Hanna Charity and Empowerment Foundation, wat nou bykans 10 jaar lank mense se lewens ingrypend verander, steeds volstoom aan die gang is. “Dankie tog vir die wonderlike mense wat vir my werk wat my in staat stel om tyd saam met my kind te kan spandeer.”

Vir Hanna (35) lê die vreugde van die lewe tans in die gewone. “Ek gaan stap, ek maak kos vir my gesin, ek geniet my kind. Daar was talle geleenthede om weer toneel te speel en te sing, maar ek kies om dit nie nou te doen nie.” Hanna is onder meer weer ’n rol aangebied in die jongste reeks van die sepie, Getroud met rugby, wat sy egter van die hand gewys het. En daar wag ’n platekontrak sou sy wou.

“Tydens my swangerskap het ek ’n rustiger leefstyl begin navolg en het ek besef dat ’n familielewe vir my belangriker is as die industrie. En as jy só voel, moet jy noodwendig nee sê. Soveel van my tydgenote en kollegas kon nog nie by familie en kinders uitkom nie. Daar is altyd nog ’n rol, nog ’n geleentheid wat jy net nie kan misloop nie. Maar ek het vir eers daarteen besluit.”

Vir Hanna lê daar groot vreugde in dié dinge wat die lewe regtig vol maak. Soos om lekker te kan kosmaak saans of sommer net, as die tyd dit toelaat met ’n baba in die huis, ’n goeie boek te sit en lees.

“My genadegawe is diensbaarheid” sê Hanna wat in ’n pastoriehuis in Pretoria grootgeword het en drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het.

’n Hart vir ander

Die gesprek draai noodwendig na die liefdadigheidsprojek waarby sy steeds betrokke is. “Ons help sowat 7 000 mense deur die loop van die jaar. Die organisasie funksioneer daagliks in die weste, ooste en noorde van Pretoria, asook in Benoni en Cloetesville in die Kaap.”

Hanna se hart vir liefdadigheid het reeds op laerskool begin, vertel haar ma, wie as maatskaplike werker opgelei is. “Sy het gereeld vir my gevra om ekstra kossies vir sus en so in te pak. Sy kon tóé al raaksien as iemand swaarkry. Op ’n keer toe haar ouma in die hospitaal was, het Hanna daar en dan besluit om die siek kindertjies in die hospitaal met ballonne en grappies, aangetrek as hanswors, te gaan opbeur. Sy het vir lank daarna nog gereeld hospitaalbesoeke gedoen.”

Op universiteit in Stellenbosch was Hanna bekend onder die straatkinders en vir baie was sy hulle beskermengel. “My genadegawe is diensbaarheid” sê Hanna wat in ’n pastoriehuis in Pretoria grootgeword het en drama aan die universiteit van Stellenbosch studeer het.

“Komedie was nog altyd ’n groot deel van my lewe”, sê Hanna, terwyl sy vertel van die verhoogstuk, Vettie Vettie, waarin sy sowat drie jaar gelede saam met Tobie Cronjé by die Pieter Toerien teater opgetree het. “Selfs by die liefdadigheidsorganisasie is humor ’n belangrike bestanddeel van ons werk. Mense en hul stories verskaf dikwels baie pret, ten spyte van die omstandighede waarin hul hulself bevind.”

Hanna skilder ook graag en het dit oorweeg om na skool kuns te studeer. As leerling van die Pro Arte-skool in Pretoria, het sy ’n beurs losgeslaan om skone kunste by die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Maar het sy eerder gekies om drama te doen. Hanna het egter in haar honneursjaar in sogenaamde “performance art” gespesialiseer waar sy haar liefde vir die skone kunste met drama kon kombineer. Dié kunsvorm is bekend vir die manier waarop dit sosiale kommentaar oordra. Die ideale spreekbuis vir iemand met ’n sterk sosiale gewete soos Hanna. Ons gesels oor die postmodernistiese beweging waaruit dié kunsvorm spruit. Die postmoderniste bevraagteken dinge. “Ek glo soos Plato dat kuns ’n doel het.”

Gewer van genade

Hoewel ons haar ken as Hanna, is sy gedoop as Hanelia, wat gepas beteken – genade van God en barmhartige.

In 2008 is die Hanna Charity and Empowerment Foundation amptelik as liefdadigheidsorganisasie geregistreer. Lank nadat Hanna as student en later jong aktrise die nood van ander raakgesien en sonder ophou bedien het. Sy vertel van ’n tyd waarin hulle huiskonserte gehou het, waar bekende akteurs en vriende kom optree het om geld in te samel vir die werk wat sy onder die armste van die armes doen. Talle sopkombuise is danksy hierdie konserte onderhou.

Die Hanna-stigting fokus onder meer op werkskepping, die voorsiening van klerasie, die onderhou van biblioteke vir die gemeenskap, die omsien na kinders en die bedryf van kleuterskole. As gevolg van Hanna en ander vrywilligers se harde werk, word die lewens van talle daagliks aangeraak. “Ons werk binne die gemeenskap, sáám met die gemeenskap. Ons stel byvoorbeeld iemand binne die gemeenskap aan om die klerebank te bedryf en die persoon verdien dan ’n klein salaris.”

“Die nood in ons land word net al hoe groter. Meer as die helfte van liefdadigheidsorganisasies wat deur die regering onderhou word, moes hul deure sluit. As nie-regeringsorganisasie is ons volkome afhanklik van donasies. Ons kry geen geld van die regering nie en verkies dit so as gevolg van die korrupsie wat heers.

“Ons beleef elke dag wonderwerke. Ek probeer self nie te veel daaraan dink oor waar die geld elke maand vandaan gaan kom nie – net te veel mense is afhanklik van ons. Ons fokus eerder op die Here se voorsiening. Ons werk is om Hom te vertrou. Hoe meer ons vertrou, hoe meer sal Hy gee.”

“Ek hou vas aan God se belofte dat Hy vir ons ’n mooi toekoms in gedagte het. Vir my en vir die stigting.

Saam is ons ons sterker

Hanna is vanjaar weer ’n ambassadeur vir die SPAR Womens’ Challenge Pretoria wat op 5 Augustus plaasvind.

“Die dames van ons gemeenskappe is nou reeds besig om vir die resies voor te berei. Stapgroepies kom bymekaar en hulle word daarvoor beloon. Die resies is ’n groot en opwindende dag in hierdie dames se lewens. Al die vroue uit ons verskillende gemeenskappe kom bymekaar vir die dag. Dis ’n gelag en ’n gesels, ’n pure lekkerte om te beleef. Want selfs al het jy niks nie, kan jy steeds oefen.” Hanna, wat self ’n drawwer is, beplan om vanjaar aan die vyf kilometer-resies deel te neem.

Die tema van vanjaar se resies is gepas #BetterTogether. “Vir my beteken dit om soos die liggaam van Christus te wees. Daar is ’n hand en ’n voet en ’n kop nodig om Sy werk hier op aarde te doen. As almal in die gemeenskap saamwerk en mekaar help, is ons net soveel beter en sterker.”

Hanna se raad aan diegene wat graag betrokke wil raak by barmhartigheidsdiens? “Doen iets wat ’n blywende verskil sal maak. Maak seker dat die instansie wat jy beplan om te ondersteun ’n pad stap saam met die mense wat hulle probeer help. Onthou verder, Jesus het gekom om die slegstes onder die slegstes te help. As ons nie hierdie mense gaan help nie, wie gaan hulle dan help? Die mense met wie ons werk het al moed verloor, hulle dink die Here is teen hulle. Dis vir hulle moeilik om te glo, juis daarom word ons hulle hande en voete, soos Jesus. Al het jy net R100 om te gee, is dit genoeg en kan dit steeds ’n groot verskil in iemand se lewe maak.”

As jy graag ’n skenking aan Hanna se stigting wil maak, kontak hul hoofkantoor info@hannacharity.org of besoek www.hannacharity.org vir meer inligting. Skakel andersins 012 348 3534 of 083 571 3299. Vir meer inligting oor vanjaar se SPAR Women’s Challenge Pretoria besoek www.sparladiespta.co.za.