Goedvoel

Die bekoring van ’n boek

Deur Lizette Murray | Foto Hanneri de Wet

Daar is min dinge so lekker as om tred met tyd tussen die rye boeke in ’n boekwinkel te verloor nie…

Onlangs stap ek kort voor sluitingstyd by ’n boekwinkel in. Die laatmiddagsonnetjie laat die houtrakke gloei. Daar hang ’n wonderlike vredigheid oor alles. Dit voel asof ek van buite af inkyk op ’n stil-film wat teen ’n stadige tempo voor my afspeel. Hier en daar haal iemand ’n boek uit ’n rak. Bestudeer die voorblad. Maak dit versigtig oop. Ruik daaraan. Lees aandagtig die agterkant en die flapteks. Skuif die boek weer saggies terug in sy opening op die rak. Elkeen is in sy eie stil wêreld. Die wêreld van woorde.

Met die rondkyk sien ek die jong seun op die sitbank teen die venster. Hy sit-lê tussen vrolike plof-kussings in die hoek vol son. Hy is totaal onbewus van wat rondom hom aangaan. Hy hoor nie die studente se kwinkslae en skaterlag by die restaurant-tafeltjies op die stoep buite die venster nie. Hy sien nie die motors en fietse in die smal straatjie voor hom verby ry nie. Hy lees. Vir hom het die wêreld gaan stilstaan. Dis net hy en sy boek.

Die boekwinkel loop leeg. Die eienaar maak die glasdeure toe en hang die ‘gesluit’-bordjie in die venster. Toe ek betaal, wys ek met my kop na die seun wat nog droomverlore sit en lees.

Die eienaar kyk my in die oë en fluister: “’n Mens onderbreek nie ’n kind wat lees nie.”

Lees verruim ’n mens se verstand. Dit laat die leser op ver reise gaan – selfs al sit hy ’n hele middag lank in die winterson op ’n klein boekwinkeltjie se leesbank.

Uit my kleintyd

Die woorde draal in my gedagtes op pad huis toe. Ek dink onwillekeurig aan my eie kleintyd. My ma wat my roep om te kom tafel dek. Ek wat muisstil met my boek onder die bed wegkruip. My ma wat my sussie in my plek opkommandeer om die dekwerk te doen, welwetende dat ek êrens skelmpies lees.

Vervleg met die nostalgie van ’n vervloë kindertyd is die herinnering aan boeke. En dié herinnering is een van suiwer liefde en genot. Ek herroep Pa of Ma wat slaaptyd Bybelverhale aan ons voorlees. Die geborgenheid van ’n oupa of ouma se skoot – ’n oop boek die middelpunt van ons saamwees.

Ek verstaan wat Sheila Cussons bedoel het toe sy die volgende oor woorde gesê het: O borrels, blink borrels… Of die Psalmdigter toe hy geskryf het: Mooi woorde roer in my hart. Want woorde gaan dieper as die swart letters op papier. Dit gaan in by die oë; dit vleg deur murg en vesel; dit dring deur tot diep in die hart van die leser waar dit knus en koesterend tot rus kom.

Dr. Seuss, bekende kinderboekskrywer het gesê: The more that you read, the more things you will know. The more that you learn, the more places you’ll go.

Lees verruim ’n mens se verstand. Dit laat die leser op ver reise gaan – selfs al sit hy ’n hele middag lank in die winterson op ’n klein boekwinkeltjie se leesbank.

Onlangs gee ’n vriendin vir my ’n verweerde kopie van ’n kinderboek, Maren se uiltjie, deur die Noorweegse skrywer, Finn Havrevold. Die boek dateer uit ’n gedeelde kindertyd. Met die oopslaan van die boek is ek terug in die koue Noorweë soos ek dit destyds vir myself voorgestel het. Ek voel die koue grys stormwind wat inkom deur die fyn skiertjies in die deure en ruite van Maren-hulle se seehuis. Ek hoor die ou vloerplanke kraak. Ek sien die groen-groener-groenste van die digte woude al rondom die fjords. Ek ruik die naaldwoude en die seebries en die vis op die kaai. Ek is in Oslo, al was ek fisies nog nooit daar nie. Ek proe die vreemde name op my tong: Öygholm. Lillesand. Haldorsen. Ek adem die bekoring daarvan in.

In die film, You’ve got Mail, erf die hoofkarakter – gespeel deur Meg Ryan – haar ma se kinderboekwinkel, The little Bookshop. In hierdie klein boekwinkeltjie ontdek kinders die krag van boeke. Ook die vreugde daarvan. Hulle beleef hoe woorde lewendig word. Hulle ontdek met jubeling Die Boek, wat ’n permanente, geliefde metgesel op hul lewensreis word.

Audrey Blignault, bekende Afrikaanse skrywer, vertel dat sy as sewejarige dogtertjie ná haar mangeloperasie ’n geskenk kon kies. Haar keuse was ’n boek. Haar éérste eie boek. Sy skryf: O, die boeke! So hóóg op die rakke. So blink en glad om aan te vat. So héérlik om aan te ruik as ’n mens tussen hulle stilstaan en jou oë toemaak.

Blignault skryf: Vir my was dit ’n opwindende ontdekking dat ek met elke boek wat ek lees, ’n ander wêreld as die huis en die dorp waar ek woon, kon binnegaan.

Altyd op reis

Boeke het die krag om jou uit die alledaagse hiér en nóú te lig. Saam met boeke reis jy na nuwe plekke. Jy leer kulture ken. Jy ontmoet mense. Jy maak lewenslange vriende.

Wanneer jy ’n boek as metgesel het, is jy nooit alleen nie. Met ’n boek kan jy ontvlug. Tussen die bladsye van ’n vertroude boek voel jy beskut. Jy ontdek dat ’n goeie boek ’n veilige vesting is – sonder enige hoë mure of doringdraad. Dit verskans jou teen die wêreld met sy wrede werklikhede. Terselfdertyd laat dit jou vlieg – ver en wyd en vry.

Dit is presies wat Liesel Meminger, die tienjarige hoofkarakter van Markus Zusak se topverkoper-roman, The Book Thief, ervaar. Liesel se aanneemouers versteek ’n Joodse jongman, Max, in die kelder van hul huis. Wanneer sy smiddae die wasgoed – wat haar ma vir die burgemeestersvrou gestryk het – vir die egpaar terugneem, ‘steel’ Liesel boeke uit die burgemeester se tuis-biblioteek. Dwarsdeur die ongenaakbare winter is dié boeke die kloppende lewensaar wat Liesel en Max aan die hoop op oorlewing laat vasklou. Teen die klam, afgedopte mure skryf Liesel die nuwe woorde wat sy al lesende ontdek. Die grys koue nat kelderverdieping raak hul leeskamer en biblioteek. Die krag van woorde en boeke is hul daaglikse aansporing. Hul sielskos. Hul troos.

Die gedagteprentjies wat ’n mens vir jouself by die lees van ’n boek maak, is so helder dat enige visuele weergawe daarvan dikwels te kort skiet aan die magiese beelde wat die verbeeldingwêreld oproep.

By ’n onlangse leeskringbyeenkoms vertel een van die vroue hoe sy ure in die biblioteek deurgebring het. Eers het sy ’n boek of twee in die biblioteek se leeskamer deurgelees, sodat sy nog genoeg kaartjies oorgehad het om ’n hand vol nuwe boeke te kon uitneem om huis toe te vat. Sy vertel dat een van haar geliefkoosde kinderboekreekse Little House on the Prairie deur Laura Ingalls Wilder was.

“As kind wou ek nooit die televisiereeks kyk wat hierop gebaseer is nie. Ek was te bang my eie prentjies spat uitmekaar.”

Die Woord bring bang harte tot rus. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. (Jesaja 41:10)

Geliefde metgesel

Jare nadat ’n klein kind vir die eerste keer die wonder van boeke ontdek het, bly dit nog ’n getroue saamstapmaat. Mense lees in treine, busse, vliegtuie. Hulle lees terwyl hulle in dokters se spreekkamers wag. Of in ’n ry by die poskantoor of munisipale kantore. Hulle lees opgekrul op ’n bank in die yl wintersonnetjie, of onder ’n sambreel op ’n strandhanddoek langs die see. Kinders lees met ’n flits onder die kombers ná slaaptyd. Mense lees om tydelik uit hul omstandighede te ontsnap. Enige plek. Enige tyd.

Selfs in die grys ouderdom bly die boek ’n mens se geliefde metgesel. Soos jy ouer word, hang jy jou tuinhandskoene op. Jy oorhandig jou motorsleutels vir die kinders. Jy gee jou kaartjies vir musiekkonserte en teater en kunsuitstallings vir ’n jonger kunsliefhebber. Al luister jy na boeke op band, of voorlesings oor die radio, jou vriendskap met boeke taan nie. Jy bly reis. Met woorde.

Audrey Blignault sluit een van haar essays, Die betowering van die boek, so af: “…’n mens lees om die lewe en die mens wat leef… beter te begryp. ’n Mens lees om jou bewustheid te verruim, om jóú ervaring aan die ervaring van ánder te meet. ’n Mens lees uit die dringende honger van die verbeelding wat onophoudelik op die lewe teer. ’n Mens lees omdat jy onvergelyklike vreugde vind in die uitingsmiddel van die woord. Jy lees ook, glo ek, omdat jy die ewigheid in jou hart het sonder dat jy die werk wat God doen van begin tot end kan uitvind.

Vir die Christen-leser is dit juis hierdie honger na God en die verlange om meer van sy Almag en misterie én Homself te ontdek, wat jou die Bybel laat opneem. Al lesende kom ’n mens se siel tot rus. Bekende gedeeltes bly sing in jou hart. Die Here is my Herder. Ek kom niks kort nie.

Die Woord troos en bemoedig en spoor aan: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. (Matteus 11: 28,29)

Die Woord bring bang harte tot rus. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. (Jesaja 41:10)

Die Woord is ’n warm karos vir koue dae. Ons voel hierdie beskutting wanneer ons Hans du Plessis se Psalm 121 in Griekwa-Afrikaans lees:

Ek slat my twee oge op/ my kyk vang die verste kop:

waavanaf sal my hulp nou kom? My hulp is vannie Jirre, van Hom…

Sontyd is Hy hoed op jou kop, innie nag hou Hy gevaarlikeit dop.

Hy’s mos nou da om jou op te pas: jou siel hou Hy tissen jou ribbes vas.

Gan jy nou in of gan jy nou yt: Hy’s oor jou vi ewig an vi altyd.

 Christus Self, die Vleesgeworde Woord, is ewig oor ons. Hy vergesel ons tot by ons laaste rusplek – en verder. Hy is immers die Lewende Woord.