Hartstog

Sirkelreis

Foto’s Anél Stricker-Bessinger

Om dié lande te besoek, was nog altyd iets waaroor sy gedroom het. Anel Stricker-Bessinger deel hoogtepunte uit haar en haar gesin se onlangse reis deur Lapland, Noorweë en Swede.

Die vrou in die klerewinkel in Stockholm se ou stad het my skeef aangekyk toe ek haar vra vir ’n gansdons winterjas. Dit was Meimaand en lente in Swede. Al haar somervoorraad het reeds sonnig en kleurvol in die winkel gepryk. “Ek vertrek môre Lapland toe”, het ek verduidelik. Vol begrip het sy omgedraai en in haar voorraadstoor gaan soek.

Stockholm in Swede is ons eerste bestemming. Dié stad lê uitgestrek oor 14 eilande en is omring deur ’n archipelago van bykans nog dertigduisend omliggende eilande waarvan net 150 bewoon is. Wat ’n verstommende gesig om 48 kilometer per helikopter vanaf Sandham – die verste eilanddorpie, net voor die Baltiese See – tot in Stockholm te vlieg.

Tydens ’n begeleide staptoer deur Gamla Stan, Stockholm se ou stad, word die fikses en waagmoediges genooi om met ’n piepklein spiraaltrap tot heel bo in die kloktoring van die oudste kerkie in die stad te klim. Van hier is daar ’n fantastiese uitsig oor die stad. Terwyl die orrelis speel en die klokke lui, begin dit sneeu en is ons in vervoering oor die vlokkies wat die ruwe gelaatstrekke van dié eeue oue stad versag en omvou in ’n spierwit sluier.

’n Dinee in Stockholm se Vasa Museum is ’n spesiale hoogtepunt op ons laaste aand. Die Vasa is ’n manjifieke Viking-oorlogskip wat bykans 400 jaar gelede op haar nooiensvaart net buite die destydse hawe gesink het. Die skip is in die vyftigerjare wonderbaarlik ontdek waar dit toegepak was onder eeue se slik op die bodem van die huidige hawe. Junibacken, die Astrid Lindgren-museum, lê ’n klipgooi van die Vasa Museum af. Kompleet met Pippi Langkous se huis en perd, was dit nie net vir ons dogtertjie ’n hoogtepunt nie, maar ook vir haar mamma!

Lapland hier kom ons!

Na vyf dae in Stockholm vlieg ons Noordpool toe om Kiruna in Lapland te besoek. Hier funksioneer die wêreld se grootste ysterertsmyn sedert 1900. En dis takbokwêreld. Soos ons verder Noord vlieg, word die wêreld al hoe witter totdat daar net skakerings van grys- en blouwit in die landskap onder ons te sien is. Lapland is nog toe onder lentesneeu en die mere en riviere steeds gevries. My Stockholm-wintersjas het ek van hier af permanent gedra met maksimum-temperature wat wissel van twee tot agt grade Celsius.

Die eerste aand bly ek wakker om kort-kort opgewonde met my jas na buite in die sub-zero koue te gaan staan met die hoop om die Noorderligte te sien. In die warmte van ons chalet begin ek ’n reisjoernaal skep van Finse papier wat ek in Stockholm gekoop het en ’n gebruikte Sweedse geografieboek. Teen drieuur die oggend besef ek dat dit nie veel donkerder sou word as die sterk skemerlig wat al heelnag om ons hang nie. En dat die Aurora Borealis die duidelikste gesien kan word in stikdonker wintersnagte.

Die volgende dag is ons na Jukkasjärvi net buite Kiruna om tyd by die Yshotel deur te bring. Aangesien die ys reeds begin smelt het, was die hotel ontruim, maar is ons toegelaat om rond te stap en selfs in die kamers te gaan rondkyk. Dié hotel word elke jaar van nuuts af met ysblokke uit die Torne-rivier gebou. In die lente word die hotel se mure letterlik in die rivier ingestoot om te smelt.

Jukkasjärvi is ’n nedersetting van die Sami-stam, Skandinawië se enigste ware inheemse volk, met ’n genealogie van bykans 8000 jaar. Die Sami’s is takbokboere wat agter weiding aan trek en in die winter kan toeriste hierdie takbokkampe besoek.

Per motor na Noorweë

Twee dae later toer ons per motor deur die Noordelike Wildernis al met die 70km lange, gevriesde Torneträsk-meer langs tot in Noorweë. Die pad lei ons deur talle tonnels, sommiges selfs ses kilometer lank. Oor brûe, berge, gevriesde mere én oor die see ry ons tot in Kabelvåg, ’n klein dorpie wat deel is van die Lofoten-eilande.

Dié groep eilande lê binne die Arktiese sirkel, ’n entjie van die Noorweegse vasteland af in die Noordsee. Met hul massiewe, witgesneeude berge trosteer dié eilande die genadelose storms uit die Noordsee voordat dit die vasteland tref. Hierdie is ook Noord Atlantiese-kabeljouwêreld. Gróót visvangwêreld. Oral op die eilande staan massiewe houtstellasies in die opelug met duisende gepekelde kabeljoue wat opgehang is om uit te droog. Dié vis is ’n belangrike proteïnryke voedselbron hier.

Ons selfsorghuisie in Kabelvåg is heerlik snoesig, een van ’n ry gerestoureerde vissermanshutte wat op ’n houtkaai in ’n klein baai aan die voet van ’n berg lê. Binne loopafstand is die oorblyfsels van ’n klein Viking-nedersetting en museum, ’n akwarium en kunsgallery. En natuurlik kon ons nie anders as om van die befaamde kabeljou in ’n nabygeleë restaurant te eet nie. Vir ’n ganse reëndag bly ons binne om, te lees en joernaal te hou en oor die berge en die see wat teen huisie klots te staar.

Al met die kuslyn op

Vir twee nagte lank vaar ons suid op die Hurtigruten Midnatsol, ’n boot wat by dorpies op dié onherbergsame kuslyn aandoen. Aanvanklik was dié bote net bedoel vir goedere en pos, maar funksioneer hul vandag as passasiersbote met restaurante, slaapkajuite, sitkamers en winkels. Die volledige sirkelroete neem 12 dae vanaf Bergen tot Kirkeness en word deur skeepsvaart-entoesiaste as die mees beeldskone reis op aarde beskryf. By Svolvaer, Lofoten se hoofdorpie, klim ons die volgende dag op ’n boot om tot buite die Arktiese sirkel uit te vaar. Op dié skepe is daar ’n interessante tradisie. Sodra die skip oor die Noordpoolsirkel se breedtegraad vaar, word passasiers na die dek geroep en voer die kaptein elkeen ’n eetlepelvol lewertraan. Jy kry darem jou eetlepel as geskenk – ’n bewys dat jy dié seremonie oorleef het!

Mý bed was reg onder ons kajuit se patryspoort. Wanneer die skip by dorpies aandoen in die nag, het ek uitgeloer en foto’s geneem. Nuwe passasiers het vaak-vaak met hulle bagasie in ’n rytjie op die kaai gewag om op te klim in die halfskemernag.

Om dié kuslyn met sy geïsoleerde nedersettings, die witgeyste landskap, sonsopkomste en sonsondergange van die water af te sien, was iets besonders. Die andersheid van die Noorse lig was opvallend. Ek kon verder sien. Berge was baie duideliker afgeëts. En die lig skerper.

Verby fjords en skiereilande

By Trondheim het ons die Midnatsol gegroet en verder Suid gery, al met die Noorweegse kus langs. Hierdie is een van die wêreld se mees fragmenteerde kuslyne. Dis bestrooi met fjords en skiereilande. Soos die kraai vlieg is Noorweë se kuslyn sowat 1 770 km lank, maar as mens die ware kuslyn sou kon volg, sou jy min of meer dieselfde afstand aflê as twee keer om die aardbol – sowat 101 388 km. Op ’n enkele dag is ons drie keer met ons motor op ’n ferrie om ’n fjord oor te steek.

Die Geiranger Fjord, ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied, was volgende op die program. Die fjord is 15 kilometer lank, tot 1,5 kilometer breed en die water tot 260 meter diep. Talle watervalle van gesmelte sneeu stort met ’n voortdurende gedruis teen die kranse af. Op ’n dag het ons ’n klein motorboot gehuur om op die fjord mee te vaar. In die piepklein vaartuigie kon ons werklik die enorme skaal van dié natuurverskynsel ervaar. Die weerkaatsing van die berge en kranse op die water was perfek en ’n handvol verlate plaashuise het verbete aan die steil hange vasgeklou.

Keer op keer tydens ons reis het dié woorde uit ’n versie in my kop bly draai; How big is God, how big and wide His vast domain, to begin to tell these lips can only try

Reiswenke

  • Die Noorpoolsirkel lê ongeveer op die 66ste breedtegraad van die Noordelike halfrond. Vir ongeveer twee maande in die somer hang die son snags net bo die horison en word dit nooit donker nie. Daarom word dié area beskryf as die land van die middernagson. In die winter gebeur die teenoorgestelde. In Desember en Januarie kom die son nie op tot bo die horison nie.
  • Wat om aan te trek? Binnenshuis is alles sentraal verhit. Buite kan lente-temperature in die Arktiese sirkel wissel van sub-zero tot agt grade Celsius. Dra laag-op-laag klere met termiese onderklere as basis. Dra ten laaste ’n baadjie of jas wat teen water en wind bestand is, asook handskoene en ’n mus.
  • Die volgende buitelug-aktiwiteite word aangebied; honde-sleeritte, sneeumobielritte, takbok-sleeritte, visvang en ysskaats op gevriesde mere en riviere, nagtelike ekskursies om die Noorderligte (Aurora Borealis) te sien asook staproetes deur die sneeu.

Besoek www.inpursuitofthemuse.blogspot.com vir Anel se volledige reisjoernaal en meer inligting.