Foto Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Dit bly die grootste wonderwerk dat ons elke dag nuutgemaakte mense kan wees. Hoe sou die wêreld andersins tog nie lyk nie?

Ons is van nature “on”-mense: Ontevrede, ondankbaar, onvergenoegd, onrustig … onvergewensgesind. Seker maar omdat die tipiese menswees-dinge in ons DNA’s ingeweef is.

Genadiglik kry ons iewers langs die pad die geleentheid om wéér gebore te word. En om dan as ʼn geloofssuigeling saam met die Gees tree vir tree in die regte rigting te groei. Ánders te word. ’n Beter méns te wees. Met groter liefde te leef.

Omdat ek en jy maar bouvallige ménse bly, is hierdie nooit ʼn afgehandelde proses nie. Veel eerder bly ons onder-konstruksie. Bly ons afbreek- en weer-bou-mense. Mits ons toelaat dat ons harte sagte klei is wat die Vader na sý hand kan blý vorm. Doen ons dit, verander ons nie eensklaps na engel-beeldjies met vlerkies nie. Veel eerder bly dit ʼn proses van verandering. ʼn Proses waarin ons Hom toelaat om ons bietjie-bietjie meer soos Hy te laat lyk.

Dis in hierdie voortdurende proses wat die Gees tog mettertyd iets in ons harte skuif: Wat ontevredenheid vervang word met ʼn diep gevoel van dankbaar wees vir dit wat jy het. Wat onvergenoegdheid vervang word met ʼn vervulling. Onrustigheid plek maak vir vrede en ongeduld tog so bietjie na meer-geduld begin beweeg.

God het ons te lief om ons te los soos ons is. Daarom wíl Hy ons bly byttel. Kom ons gee maar net weer ons lewens vir die Man wie se genade elke dag van vooraf begin. Dis mos immers in sy hande waar ons – ondanks ons omstandighede – ʼn sagte stuk rus ontvang. Dis deur Hom wat ons meer méns word.

Dompel-kind

Soms, Here, is daar dele van my
wat nog kliphard gebak is.
En wat daarom maklik krake maak.
Dompel my sommer weer
vandag in u genadewater
sodat u maklik met my –
u kleimens – kan werk.
Wees sag met my hart.
Sag maar sekuur.
Want hoe anders sal ek
soos U kan lyk?

Om ánders te kyk

Saulus was blindelings besig om die mense van die Pad te vervolg. As sonder-sien-mens is hy oortuig dat hy die regte ding doen om die Christene te vervolg. Totdat God hom in sy spore stop en sy sig heeltemal wegneem. Totdat Hy hom blind maak sodat Hy aan hom núwe oë kon gee. Oë wat sý Lig sien. Sý hart raaklees.

Dan verander alles. Saulus word die Paulus wat die wêreld op ʼn ander manier verander. Wat van gewone mense koningskinders maak omdat hulle in sy liefde gedompel is.

Mag ek en jy dit regkry om elke dag in God se genadewater te val en week te word in sy hande. Week genoeg om deur Hom gevorm te word. Hoe anders sal ons lewens en die van ander dan wees. Hoe mooi kan die wêreld dán word.

Boodskap: Saulus se prediking het al hoe kragtiger geword en die Damaskus-Jode kon nie sy bewyse weerlê dat Jesus die Christus is nie. Handelinge 9:22