Goedvoel

Om in God se ritme te leef

Deur Lizette Murray | Foto Hanneri de Wet

Stel jouself oop vir die lewe se onhoorbare, onsigbare ritmes. Dis ingebou in die skepping. Die ritme van dag en nag. Die patroon van ’n week, elke dag met sy unieke gevoel…

Ek word wakker met die woorde en musiek van ’n ou gesang in my gedagtes: Here hoeveel blye dae vloei soos strome kalm en rein/ sonder kommer sonder klae, vol van vreugd’ en sonneskyn … Die woorde wieg saam met my terwyl ek my oggend-take doen. Dit word deel van my bed-opmaak en wasgoed-ophang. Dit bult saam met die wit lakens in die blou lug en vou die geelwarm son oor my skouers. Dis troostend en reëlmatig soos my hartklop.

Daar pols ritme oral in en om jou. ’n Mens moet net fyn luister. Die ritmes is daar, soos die ligte heen-en-weer beweging van ’n speelparkswaai. Die ligte deining van ’n vars babatjie se asemhaling. Die voetval van ’n vroegoggenddrawwer op ’n nat teerpad. Die metronoom se tjiek-tjiek-tjiek-tjiek op ’n klavier.

Op maat van die natuur

Ons moet ook oop wees vir die lewe se onhoorbare, onsigbare ritmes. Dis ingebou in die skepping. Die ritme van dag en nag. Die patroon van ’n week, met elke dag se unieke gevoel: van ’n strammerige Maandag regdeur tot by Vrydag met sy eiesoortige vrolikheidjie. Saterdag wat soos ’n blink albaster voor jou uitrol. En Sondag, met sy diep rus en vrede in God se heilige teenwoordigheid. Ons beleef die onverstoorbare gang van die seisoene. Lente. Somer. Herfs. Winter. Ons stu vorentoe saam met die lewe se afgemete ritmes. Geboorte. Groei. Wasdom. Ouderdom.

Binne-in hierdie groot skeppingsritme waarvan ons deel is, is daar ook ’n ritme in onsself. Daar is siklusse wat voltooi moet word. Ons persoonlikheid groei. Ons ontwikkel ons talente. Ons berei onsself voor vir ’n beroep. Ons raak deel van die ritme van werk en huis en huwelik en moontlik ook moederskap – met al die ingeboude klein en groot ritmes van elke lewensfaset.

Prediker 3 vertel so mooi van hierdie reëlmaat: Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe, … ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans, ’n tyd om klippe weg te gooi, ’n tyd om hulle bymekaar te maak, ’n tyd om te omhels, ’n tyd om weg te bly van omhelsing af, … ’n tyd om stil te bly, te praat… Ek het gesien dat God aan die mens ’n taak gegee het om hom mee besig te hou.

Wanneer ons die brokstukke van ons onvolmaakte lewens voor God neersit, leer Hy ons hoe om waarlik te wag

Tyd vir treur

Soms is die ritme van ’n sekere tyd in ons lewe sterk en polsend. Soms gly dit geruisloos saam met ons deur ons dae. Soms word die ritme onderbreek, en die lied wat jubel: Here, hoeveel blye dae vloei soos strome, kalm en rein, kom hortend tot stilstand. Dalk word die ritme versteur deur ’n verhouding wat tot niet gaan, of die ideale werk wat nie na jou kant toe kom nie. Soms laat een enkele gebeurtenis jou lewensritme stol. Of dit ruk jou hele lewe van koers af. ’n Miskraam. ’n Baba wat met ’n gebrek gebore word. Siekte. ’n Ernstige motorongeluk. ’n Geliefde wat sterf.  ‘n Huwelik wat verbrokkel.

Elizabeth Kübler-Ross, traumaberader en skrywer, vergelyk gesonde gesinsverhoudinge met ’n bewertjie wat voor ’n venster hang. Die bewer is waterpas en al die figuurtjies draai egalig in die rondte. Die dood van een van die gesinslede illustreer sy prakties deur een van die figuurtjies af te sny. Die een punt sonder sy figuurtjie skiet regop boontoe. Die bewertjie se draadjies koek, en al probeer ’n mens hoe hard om dit weer horisontaal te kry, kry jy dit nie reg nie. Dit bly skeef hang.

Wanneer trauma of dood ’n gesin van balans af ruk, is die ritme versteur. Dit verg nuwe maniere van kyk en doen om weer die gesin in harmonie te kan laat funksioneer. Dit geld ook vir ander persoonlike krisisse. Wanneer ’n mens jou lewensritme verloor, moet jy herbesin.

Dis dan – wanneer alle ander ritmes onhoorbaar is, of uit pas begin raak – dat ons meer as ooit met ons hart moet luister. Ons moet ons stilwordritme terugvind. Ons moet die Skepper van alle dinge opnuut opsoek en weer leer om op die maat van gebed te wieg. Ons moet by die God van ritme gaan sit en wag op wat Hy ons wil leer. En dan ons ritme op sy metronoom se spoed instel.

Die begin en die einde

Ritme begin by God. Hy hou alles wat Hy geskape het in sy hand. Sterre, planete, son, maan, die aarde met alles wat daarop woon, is aan Hom onderworpe. Ons as mense is dit aan Ons Skepper verskuldig om nie God se ritme te laat verval nie. Hy is, soos 1 Korintiërs 14: 33 sê: … tog nie ’n God van wanorde nie, maar van orde en vrede.”

In haar boek, When the Heart Waits, vertel Sue Monk Kidd van haar geloofstryd en middeljare-krisis. Sy het vergeefs probeer om haar vrede en lewensvreugde terug te kry. Tydens ’n naweek van stilte en afsondering het sy probeer om stil te word. Haar gedagtes was egter ’n warboel. Sy was geïrriteerd en ongeduldig. Een middag het sy ’n monnik onder ’n boom sien sit. Hy was ’n prentjie van volkome vrede met homself en die wêreld rondom hom. Toe sy hom later raakloop, vra sy hoe hy dit regkry om so geduldig te kan sit en niksdoen. Hy het sy hande op haar skouers gesit, haar in die oë gekyk en gesê: “I hope you’ll hear what I’m about to tell you. I hope you’ll hear it all the way down to your toes. When you’re waiting, you’re not doing nothing. You’re doing the most important something there is. You’re allowing your soul to grow up. If you can’t be still and wait, you can’t become what God created you to be.”

Die monnik se diep-deurdagte woorde was vir haar die antwoord op haar soeke na God se ritme. Dis daardie langsame, heilige ritme waarin ’n mens se gees ontwaak en deel word van die eb en vloed van geestelike groei. Dit staan teen oor vinnig en maklik, die twee woorde waarna almal in ons samelewing smag.

Om in God se ritme te leef gee egter ook aan ons die toestemming om die goeie te geniet

Kortpaadjies kos jou!

Ons wil hê die lewe moet soos ’n mikrogolf op ons behoeftes reageer. Hierdie behoefte na blitsbevrediging syfer deur na ons geloofslewe. Ons kerke is vol mense wat op soek is na vinnige, pynlose maniere om te verander en geestelik te groei. Of om probleme opgelos te kry. Dietrich Bonhoeffer, die bekende teoloog uit die Tweede Wêreldoorlog, het dit ‘goedkoop genade’ genoem. ’n Kits-regmakertjie. Kortpad-geloof.

In Sue Monk Kidd se soektog na diep, blywende geestelike vervulling het sy op ’n video afgekom: Hoe om jou ware self in minder as dertig minute weer te vind. Sy het besef dat die oplossings wat die samelewing bied, bolangs is. Die voorgestelde kitskure kan hoogstens tydelike verligting – of selfs net ’n gewaande gevoel van verligting – bring. Kitsoplossings – het sy gevind – paai net.

’n Groep konferensiegangers by die Kanunga Episkopaalse sentrum in Noord-Carolina het tydens een van die sessies ’n gekleurde vel papier ontvang. Die opdrag was dat hulle daaruit ’n vorm moes skeur wat hul lewe voorstel. Die vorms is bymekaar gemaak en op ’n groot aansteekbord vasgespeld. ’n Pragtige, kleurvolle collage. Daarna het iemand met ’n bak verby gekom en al die afgeskeurde, weggooi-snippers daarin gegooi. Hierdie snippers is toe op die altaar voor-in die kerk geplaas. Dit was simbolies van almal se wonde en letsels waarvan hulle graag ontslae wou raak. Pyn en verlies moet eers in die oë gekyk word en die flenters as’t ware bymekaar gemaak en omhels word voordat genesing kan begin.

Wanneer ons die brokstukke van ons onvolmaakte lewens voor God neersit, leer Hy ons hoe om waarlik te wag. Wanneer ons sonder haas wag, ervaar ons dat God, ons Vader, instap tot binne-in ons pyn. Hy word ’n skuilplek vir ons en ons smart. En dit maak genesing moontlik. Uit hierdie stil afwagting maak Hy nuwe moontlikhede na geestelike groei in ons oop.

Dis dan dat ’n mens besef: Pyn kan ook heilig wees. Pyn is ook deel van God se ritme.

Elke ding op sy tyd

In Prediker 3 stippel die skrywer die diepte en onbegryplikheid van God se wese uit. Hoe kan ons al Sy weë verstaan? Hy is immers God. Al wat ons met geruste harte kan weet, is dat daar ’n plek vir pyn en verdriet en die groot onverklaarbaarhede van die lewe in God se raadsplan ingebou is.

Salomo skryf: God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is: jy kan daar niks byvoeg nie en jy kan daar niks van wegneem nie. God doen dit sodat die mens vir Hom ontsag sal hê.

Om in God se ritme te leef gee egter ook aan ons die toestemming om die goeie te geniet en met vreugde en blymoedigheid die mooi dinge wat oor ons pad kom teen ons bors te druk en te jubel oor die geskenk van elke nuwe dag wat God gemaak het.

Ons moet saam met die Prediker uitroep: Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ’n gawe van God.

Ons mag voluit lewe! In God se ritme.