Boekuittreksel

’n Liedjie vir Anine

’n Liedjie vir Anine is deel van Elsa Winckler se aangrypende reeks oor die Breedt- en Vos-gesinne se lief en leed. Elsa Winckler is ’n geliefde en gewilde skrywer en het al drie ATKV Woordveertjies gewen vir haar verhale. ’n Liedjie vir Anine word deur Lux Verbi uitgegee.

Zander Breedt is ’n gewilde musiekster. Maar roem het ’n wrang smaak – hy voel as of hy teen ’n muur vasbid; die antwoorde waarna hy soek, kry hy nie in die Bybel nie. En die nuwe aangetroude familield, Anine, maak dinge nie veel makliker nie. Dis duidelik dat Anine nie veel ooghare het vir popsangers nie, Tog is sy die een wat weer die majeurnote in sy binneste losmaak.

Anine Vos is ’n joernalis. Haar redakteur gee haar opdrag om ’n in-diepte artikel oor Zander te skryf. Sy worstel met haar eie hartseer en sien glad nie hiervoor kans nie. Maar sy het vergeet: wanneer sy nie kan nie, kan die Here.

“Tannie Anine! Tannie Anine! Mamma, dis tannie Anine!”

Anine glimlag vir die opgewonde stemmetjie aan die ander kant van die deur terwyl sy op die stoep wag. Sy vryf oor haar nek en kyk nog ’n keer om. Afgesien van ’n wit Mercedes voor die bure se huis, is daar geen ander beweging in die straat nie.

Dis nou al ’n paar weke wat sy kort-kort die gevoel kry iemand hou haar dop. Maar sy verbeel haar seker net.

’n Neurotiese oujongnooi – dis wat sy word.

Die voordeur swaai oop. Haar suster, Lizet, het die jaar oue Marina op die heup; haar hare is in krullers en sy is nog in jeans en ’n T-hemp, terwyl klein Soekie opgewonde van die een been na die ander spring.

“Anine, kom in. Soos jy kan sien, is dit chaos hier,” glimlag Lizet. “Ek sien al so uit na my en Stephen se date-night… ”

“Annie, Annie!” Klein Marina steek dadelik haar armpies uit.

Anina neem haar laggend uit haar suster se arms. Sy vee oor die kleintjie se vuil gesiggie.

“Gaan maak rustig klaar, ek is mos nou hier. Dit lyk vir my ons moet nog bad?”

“En eet, asseblief, tannie Annie. Alles is reg in die kombuis, as jy net vir klein Marina sal help. Zander het vroeër vandag oorgekom, en hy en Stephen werk nog heeltyd aan een van die ander kunstenaars se songs. Dit klink my of dit baie langer neem as wat hulle gedink het, maar ek het tien minute gelede gehoor hulle is glo amper klaar. ’Skies dis so deurmekaar . . .”

Anine ignoreer die skoenlappers wat om ’n onverklaarbare rede op die krop van haar maag begin fladder. Zander is net nog ’n man, aardetjie tog! Een wat sy maande laas gesien het.

“Dis altyd deurmekaar by jou, Zet. Ontspan. Teen dié tyd weet ek wat om te verwag wanneer ek instem om vir julle te kom babysit.

Toe, gaan maak jou mooi, ons gaan solank kombuis toe.”

“Is die babasitter al hier?” hoor sy Stephen se stem en toe sy opkyk, kom haar swaer uit die rigting van sy ateljee. En agter hom, groot, lank en belaglik aantreklik, is sy broer, Zander.

Anine se hart skop wild teen haar ribbes, ’n sensasie wat sy altyd voel wanneer die ellendige man in die ronde is. Goeiste, is dit nou nodig?

Sy het hom die afgelope jaar doelbewus probeer vermy, juis oor hierdie simpel reaksie op hom en, sowaar, die eerste keer wat sy hom weer na seker sewe, agt maande sien, skakel haar hart oor na die volgende rat.

Regtig verspot.

Ja, die man is aantreklik, onredelik aantreklik om presies te wees, maar hy is ’n bekende popster, een met ’n rits gebroke harte agter hom waarvan die pers gereeld vertel. En as joernalis weet sy van elke storie in die koerante, tydskrifte en op die sosiale media.

Nes sy van vandag se storie weet.

Sy is nog vies vir haarself omdat sy hoegenaamd die ponietydskryf gekoop het. Maar toe sy die banieropskrifte teen die lamppale lees, het sy by die eerste koerantverkoper langs die pad gaan staan.

In die artikel vertel een of ander vroumens in kleur en geur van haar nag saam met Zander Breedt. In grafiese besonderhede. Baie grafiese besonderhede. Die sosialemedia-platforms het ook oor die nuus gegons. Platforms waarna sy natuurlik moes kyk.

Zander se reputasie onder vroumense is geen geheim nie, maar goeiste, het die man geen skaamte nie? Wat van sy ouers? Sy broer en suster? Wat moet hulle van die hele petalje dink?

Sy optrede is uiteindelik net nog ’n bewys dat die manlike spesie nie vertrou kan word nie.

Daar is uitsonderings: haar pa, haar broer, Evan, en oukei, ja, Lizet se Stephen is ook heel aanvaarbaar, want hy is ooglopend dolverlief op haar suster.

Maar dan is daar die Ronnie Smits van die lewe. Die mans wat in plaas van beskerm, seermaak en, in haar sus Marina se geval, sommer doodmaak.

Hoe weet ’n vrou die man op wie jy verlief raak, gaan haar nie seermaak nie? Hoe weet mens sy liefde grens nie aan besitlikheid nie? Hoe herken jy ’n psigopaat?

Vandat haar suster Marina dood is, het sy nog nooit weer ’n man in haar lewe toegelaat nie. Min mans, het sy agtergekom, kan hulle humeure beteuel. En sy wil nie in vrees lewe soos Marina kort voor haar dood nie. Nee wat, sy is single en baie gelukkig, dankie.

Sy gaan in elk geval nie ’n woord teenoor Lizet rep oor die debakel rondom Zander in die tydskrif nie. Die storie moet hulle genoeg ontstel.

“Hallo, Stephen, Zander,” glimlag sy in hulle algemene rigting terwyl sy ’n hand uitsteek na Soekie. “Kom, ons gaan eet, skattebol. Ek het ’n nuwe boek saamgebring vir dogtertjies wat hulle kos opeet!” sing sy.

Agter haar hoor sy Zander en Stephen praat, maar sy blokkeer hulle stemme en stap met die kleintjies kombuis toe. Al geselsende tel sy vir Marina in die hoë eetstoeltjie en gaan sit langs Soekie wat reeds op haar stoel geklim het.

Soekie begin land en sand gesels oor haar week by die skool en haar maatjies, en Anine is dankbaar vir ’n verposing om haar ekwilibrium terug te kry.

Sy het nie verwag om Zander vanaand te sien nie, dis hoekom sy so… simpel reageer. Skoenlappers op die maag, hart wat skop – op dertig is dit eenvoudig ’n verleentheid wanneer ’n man so ’n uitwerking op jou het.

“Kom jy reg, Anine?” vra Stephen van die kombuisdeur af.

“Ek is jammer, ons het langer geneem… ”

“Ons girls is gelukkig, gaan maak jy klaar. Jou vrou kan nie wag vir julle date nie.”

Stephen glimlag breed. “Sy’s amazing, weet jy?”

Anine sluk aan die skielike knop in haar keel. Stephen is skaamteloos mal oor haar suster. “Ek weet. En ek is so bly sy het jou gekry. Nou toe, gaan maak klaar… ”

“Ek sien gou vir Zander af… ”

Maar Zander stap die kombuis in. “Ek kan ook help,” sê hy. “Ek is nou hier.”

“Ons kom heeltemal goed oor die weg, dankie,” probeer Anine keer.

Maar Soekie wink hom entoesiasties nader: “Kom help my, oom Zander. Tannie Anine help vir Sussie.”

Anine kners op haar tande. Is dit nou nodig?

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van ’n Liedjie vir Anine wen. Stuur ’n epos met jou naam en kontakdetails aan navrae@leef.co.za saam met die antwoord op hierdie vraag: Deur watter uitgewers word hierdie boek uitgegee? Sluitingsdatum: 11 Augustus 2017