Lééf met oorgawe

Manne wat ’n verskil maak…

Deur Jacqueline Leuvennink & Schalk Schoombie | Foto’s Marsel Roothman & Hanneri de Wet

Van die bou van ’n argitektoniese erfenis, tot die verdieping van ander se gebedservaring tot die verander van jongmense se lewens met die hulp van ’n goeie koppie koffie. Dié drie manne lééf om ’n verskil te maak.

Chris Fick (38) argitek

In ’n tyd wat die winde van verandering dreig om baie ou spore toe te waai, is ’n besoek aan geskiedkundige plekke soos Babylonstoren in die wingerdwêreld van Franschhoek of die plaas Groot Phesantekraal buite Durbanville iets wat jou weer haak aan ’n ander tyd.

Dalk juis omdat ’n mens by beide hierdie bestemmings ook die vars asem van moderne argitektuur bespeur wat strukture wat oor die eeue heen moeg of uitgedien geraak het weer groentetuinvars kom maak het. Iemand wat ’n aanvoeling het vir hierdie sensitiewe pas de deux tussen die hede en verlede is Chris Fick van die Paarlse argiteksfirma Malherbe en Rust . ’n Man wat aansluiting vind by die aanhaling dat Architecture should speak of its time and place, but yearn for timelessness.

Babylonstoren, ’n Kaaps-Hollandse plaas uit 1692, was vir hom “’n ongelooflike, evolusionêre proses, altyd uitdagend en meesal met geen bestaande voorbeelde nie. Die kliënt is natuurlik die helfte van die sukses van enige projek. Dis hulle geld en drome wat dit moontlik maak.”

Dit spreek vanself dat jy eers die nodige navorsing moet doen om te weet waar ’n ding vandaan kom, sê Chris. Jy dons nie sommer in nie. Die veekrippe in die restaurant op Groot Phesantekraal was byvoorbeeld deel van die plaas se verhaal.

“Die gebou is vroeër as donkiestalle ingespan,” sê Chris. “En omdat dit ’n graanplaas was, het hulle ook skaap geskeer daar.” Deesdae is dit ’n lieflike, moderne ruimte gevul met lig, kosgeure en die gekletter van messe en vurke. In sy nuwe gedaante beide funksioneel en ’n estetiese aanwins vir die omgewing.

“Die ontwerpproses is soos om ’n stuk hout te skaaf,” verduidelik Chris terwyl hy met sy hand oor die blad van die tafel voor hom streel. “Dit moet integriteit en ‘n egtheid hê soos iets waaraan jy kan vat. En ons praktyk glo in kontekstuele argitektuur, ’n gebou moet kan inpas waar jy hom plaas.”

Dis die voorreg om te kan skep, ’n liefde vir die Boland en “so ’n bietjie hardkoppigheid” wat hom kan laat deurdruk vandat die eerste bakstene begin rondvlieg tot die blye oomblik as ’n tevrede kliënt sy intrek kan neem. In ’n tyd waarin alles al meer rekenaargedrewe word, ontwerp hy graag steeds met die hand. “Daardie klein skerm kan jou insuig en rekenaarprogramme lei tot massaproduksie.” Hy glo nie in ’n one size fits all benadering nie. “Daar is uiteraard deurlopende goed wat ons werk kenmerk, maar elke projek is, soos elke kliënt, uniek. Anders raak dit soos een wat met ’n koekvormpie die een koekie na die ander uitdruk.”

Die woelige seuntjie wat gedurig nuwe dinge met sy lego-blokkies kon optower en via sy houtwerk-en kunsklasse nog ’n groter skeppingslus ontwikkel het, het eers interieurontwerp by die Design Centre in Greenside studeer “voordat argitektuur my gekies het en ek dit aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer het. Ek leer ook nog steeds baie by my senior vennoot, Johan Malherbe, wat op ’n historiese plaas grootgeword het. ’n Mens is gelukkig as daar mense oor jou pad kom wat jou in ’n rigting stuur.”

En jou eie droomhuis?

“Soms as argitekte in hul eie huis losgelaat word om als te probeer wat kliënte dalk sou afskrik, gaan dinge fout. Ek verkies om ’n bestaande plek te koop en dit dan te verander. My vrou, Anna-marie, is ook ’n argitek en ons hou daarvan om binne en buite met mekaar te versoen. Ons het ’n ou spoorweghuis uit die 1950’s op Wellington gekoop. Die ligging in ’n parkie met vrugtebome gee vir ons ’n lewe buite die werk.”

Jaques Bornman (36), gebedsleier

“My roeping is om gespreksgenoot in die lewe te wees,” vertel Jaques Bornman, leier van die Skool van Gebed by Mosaïek in Randburg.

“Woorde is vir my baie belangrik. Die belangrikste woorde is dié van God – om ag te slaan op dit wat na my toe kom deur die Skrif, en dit lei na ’n gesprek met God.”

Een van die fokusareas van die Skool van Gebed is Praxis, ’n gereelde byeenkoms van gebed met meditatiewe gebedsang, Skrifgebed en stilte. Jacques lei dikwels retreats by Origins – die retreatsentrum van Mosaiek in die Wieg van die Mensdom. “Origins is ’n plek van stilte – waar die stilte om ons ons nooi na innerlike stilte en gebed.”

In die kapel, Poustinia, kan retreatgangers drie keer ’n dag in gewyde stilte kom verkeer.

TYO (The Young Ones) is vanjaar by Origins van stapel gestuur – ’n oorgangsjaar vir jongmense, ’n innerlike reis waardeur hulle kan groei en hul identiteit in Christus ontdek.

Jacques is gebore en getoë in Vereeniging. Op sestien het hy bewus geraak dat God hom roep tot die bediening van pastoor. Van jongs af het hy sy lewe so probeer leef om vriendskappe binne en buite die kerk te bou.

Jacques het sy vrou Lizl (’n nooi Furstenberg), ontmoet tydens sy teologiese studies aan RAU, waar sy B. Com Rek studeer het. Terwyl hy by Secunda se Kruik-gemeente was, is hy na Mosaïek beroep.

“Leer ons om te bid.” Dié woorde van die dissipels aan Jesus, is die inspirasie van die Skool van Gebed. “Alhoewel gebed so ’n natuurlike handeling is, weet ons dikwels nie hoe om te bid nie. Gebed is meer as net om ons versoeke aan God te rig, dit is om ons lewe met God te deel in vriendskapsverhouding. Ons kan alles met Hom deur gebed deel, ook die nietigste dinge, met die uiteindelike doel dat jou lewe self ’n gebed word.”

Die grootste skuif in sy bewussyn was hoe hy na God kyk en hoe God na hom kyk.

“My beeld van God was dalk een van ’n goedgunstige Kersvaderfiguur, iemand wat op ’n afstand boekhou van wat ek reg en verkeerd doen. Al meer ontdek ek God as vriend. Ek behou steeds my respek en agting vir Hom en raak nie familiêr nie.”

Jacques is ’n Renaissanceman met vele belangstellings. Hy geniet ’n goeie fliek, ’n goeie koffie en reis graag saam met Lizl. ’n Onlangse hoogtepunt was ’n leierskapkursus by Willow Creek in die VSA en ’n besoek aan die 9/11 Memorial Museum in New York, ’n roerende ervaring. “Die atmosfeer was swaar – ’n herinnering aan die broosheid van ons menswees,” onthou hy.

Hy blog gereeld op sy eie en Mosaïek se webwerf , en wil nog graag ’n boek aanpak.

“Die kultuur nooi mens om ’n sin van eiewaarde te bou op eksterne dinge soos wat jy het en wat jy ken. Maar dan dryf jy weg van wie jy in God se oë is. Sy siening van jou maak jou vry. Dat jy dit alreeds is, in genade ontvang. Jy hoef dit nie te verdien nie.

“Jy is gemaak na sy gelykenis. God verwys na Jesus as ‘My geliefde seun in wie ek ’n welbehae het’. Ons is ook sy geliefde kinders Dit bring vrymoedigheid en ’n nouer konneksie.”

Anne le Mott se aanhaling is ’n inspirasie, dat daar in gebed nie reg of verkeerd is nie, net om eg te wees.

“Die Koninkryk wat kom en reeds gekom het, nooi ons nou al. Dis nie net vir toekomstige lewe nie, ons kan dit nou al uitleef.”

Sien gerus www.mosaiek.com en www.jacquesbornman.com

David van Berkel (32), koffiemeester

Vele gawe verbintenisse begin by ’n geurige koppie koffie, glo die elektriese ingenieur David van Berkel, eienaar van Grounded in die Moot, Pretoria.

In 1994, toehy nege was, het sy ouers van sy geboortedorp Witbank geëmigreer na Nieu-Seeland, waar hy skool gegaan en studeer het.

In 2008 is hy na Australië, waar hy ingenieurswerk gekry het. Die hunkering was altyd sterk om terug te kom na sy vaderland, en toe die Australiese maatskappy in Junie 2009 met ‘n plaaslike maatskappy saamgmelt, was dit sy kans.

“Ek het duidelike herinneringe van my jonger self in Suid-Afrika gehad,” vertel hy met heimwee. “In vele opsigte was dit ’n nuwe land. En al moes ek Afrikaans leer en uitpluis hoe alles werk, was ek gemaklik tuis.”

Hier het hy sy lewensmaat ontmoet, die grafiese ontwerper Karolien Roux. Hulle is getroud en het saam die maatskappy Indygood, wat leersakke invoer, en die koffiekuierplek Grounded begin.

“Ons is albei kreatief, lief vir kosmaak en die gemeenskap,” verklap David.

“Grounded het begin as ’n koffieplek met ‘n verskil en organies ontwikkel tot ’n kreatiewe spasie, ’n ontmoetingsplek. Daar is ’n muur vir kunswerke, jy kan selfs verniet Zoeloelesse neem.”

’n Tweede perseel het beskikbaar geword, wat hulle as ’n saamwerkruimte ingerig het – ’n groot tendens oorsee; ontmoetplekke vir reisigers, vryskutters, skeppers wat van die huis af wil wegkom.

“Dis glad nie ’n korporatiewe ruimte wat inperk nie, eerder ’n warm, oop spasie waar mense kan gesels en idees deel, mekaar help. Dit bevorder spontane interaksies.”

Die projek gedy met ’n wegneemstasie vir mense wat in die verkeer sit, en daar word ‘n Airbnb-woonstel beplan.

Echo Youth Development, ’n hulporganisasie vir jongmense wat uit kinderhuise kom, op straat of op parool is, het aandele in die onderneming. David en Karolien het mekaar deur die organisasie ontmoet, en dit lê hulle steeds naby aan die hart.

“Die visie was om ’n nie-intimiderende, neutrale spasie vir die teikengroep 14 tot 30 jaar in die Pretoria-omgewing te skep en hulle te help. Ons is lief vir Jesus, maar dis nie ’n voorwaarde om lid te wees nie. Ons streef Christelike beginsels na sonder om dit te adverteer.”

David, die jongste van drie kinders, het al op vyfjarige ouderdom besluit hy volg Jesus.

“Later jare het ek baie dinge bevraagteken. Tog was daar altyd ’n fondasie van geloof en ek was lief vir Jesus se visie, woorde en dade. Maar ek het gesukkel om dit met godsdienstige strukture en leringe te versoen.”

Hy het die eerste keer geestelik tuis gevoel by Pretoria se Ooskerk onder leiding van Marina Strydom en haar man Jaco Strydom, een van stigters van Echo Youth Development.

“Dit was ’n keerpunt in my geloofslewe, want ek het vir die eerste keer vrede ervaar oor die balans tussen leef, werk en kerk. Ek kon terugkyk en duidelik sien hoe God my pad gerig het, en dit gee my vertroue oor die toekoms. Die Here is heeltyd in beheer.”

’n Onlangse besoek aan sy familie in Australië en Nieu-Seeland – die eerste in vier jaar – was rou, met trane van vreugde en hartseer.

“Ek hou nie van kantoorwerk en verslae skryf nie,” bieg hy. “Ek hou van tegniese en rasionele probleme. Met Grounded leer ek die uitdagings van ’n volhoubare besigheid ken; hoe om ’n diep pad met die personeel stap. Dit verg tyd en geduld.”

Romeine 12 en Jesus se bergpreek rig hom. “Dit bied ’n alternatiewe realiteit van hoe die wêreld werk, met die fokus op radikale liefde.”

’n Koppie boeretroos maak hom gelukkig, Grounded se mengsel van bone uit Costa Rica, Guatemala en Brasilië.

“Koffiemaak is meer as om net die maler se knoppie druk,” lag hy. “Dis ‘n kuns. Daar is soveel variasies!”