Lééf in oorwinning

’n Groter plan

Deur Riëtte Grobler | Foto’s Hanneri de Wet

Hoewel sy geroep was om die stories van gewone vroue neer te pen as bewys van God se goedheid, was die onverwagse saamstel van ’n boek ook getuienis van God se groter plan vir háár, vertel Lauren Cronjé (33) van Parkhurst, Johannesburg.

“My passie is om te sien hoe die mense om my, ongeag hul ouderdom, kultuur of agtergrond, die volheid ervaar van wat God vir hul lewe beplan het en om te ervaar hoe hulle wandel in hul ware identiteit.

“My ouers se egskeiding toe ek maar net ʼn paar maande oud was, het vir ʼn stel uitdagings in my eie lewensreis gesorg. Ek het myself vir die eerste keer aan Jesus gewy in die kleedkamerhokkie van die maatskappy waarvoor ek na skool in Londen gaan werk het. Dit was ʼn radikale omwenteling en die begin van my soeke om mý deeltjie van die Vader, Jesus en die Heilige Gees se liefde te ken.

“Ek het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en tydens ʼn sendingsreis het God my in my binnekamer tot voltydse bediening geroep. Twee verskillende pastore het dié roeping in die daaropvolgende weke bevestig.

“Toe ek na my studies ʼn pos by my studentekerk aangebied is, het God vir my gesê die tyd is nie reg nie. Hy wou my karakter ontwikkel en ek het vir sewe jaar ’n korporatiewe loopbaan gehad. Ek is nog altyd lief daarvoor om dagboek te hou van die geheimenisse wat God oor Sy hart aan my openbaar het. Ek het ontelbare dagboeke vol getuienisse oor my eie transformasie en het gevoel God sê vir my ek sal eendag ʼn boek skryf. Dis eintlik ironies, omdat ek veel sterker met syfers as tale is!

“Maar, die Here weet… Toe ek met my man, Stefan, getroud is, het hy my aangemoedig om my roeping van voltydse bediening na te jaag. Ek het uit my werk bedank en vir God gesê ek is nou reg om die wêreld vol te reis, te preek en boeke te skryf.

“God wou egter hê ek moes vir ʼn jaar lank my man dien en leer om in Sy teenwoordigheid stil te word. Om net by hom te ‘wees’ sou nie vir my so maklik wees as om vir Hom te ‘doen’ nie!

“Binne ses maande het ek egter ervaar hoe my verhouding met Hom verdiep tot ʼn verheerliking van die Vader in alles wat ek doen. Kort hierna het ek swanger geword en om eerlik te wees, het enige droom om boeke te skryf, of te preek só ver weg gevoel, dat toe God my geroep het om met ’n boek (getitled Wholeheartedly Free) te begin, ek eintlik in ontkenning was.

“My man is in 2015 vir drie maande vir werk San Francisco toe gestuur en ek is saam. Ek was drie maande swanger en waar my dae in Suid-Afrika vol koffie-afsprake of gim-oefening was, het ek dáár die meeste van my tyd in ons klein woonstelletjie tyd met die Woord deurgebring. Hy was besig om groot genesing in my hart te bewerkstellig.

Ek het egter geweet die tydsberekening kom van God af en het ek in die proses het ek egter geleer om God op ʼn nuwe manier te vertrou en om beheer oor te gee.

“God het my volle aandag gehad en ek het geweet Hy was besig om my voor te berei op iets. Wát dit was, het ek nie geweet nie. Ek en Stefan het besluit om ʼn konferensie by te woon by ʼn bekende kerk in Kalifornië en daar het ek gevoel hoe God my vra om die “werk van sy hande” neer te pen.

“In daardie oomblik het ek geweet ek sou nie die stories van hoë-profiel bekendes neerskryf nie, maar dat God my eerder geroep het om die ervarings en ontmoetings bymekaar te maak wat my tydgenote met Hom gehad het.

“Ek het “ja” gesê en gedink die visie sou oor tien jaar uitspeel wanneer ek daarvoor tyd het. Na ek dit neergeskryf het, het ek daarvan vergeet. God het ander planne gehad en Hy het die perfekte tydsberekening geken toe Hy gesê het, “dit is tyd”, toe my eersteling, Benjamin skaars vier maande oud was.

“As ek die projek op enige ander tyd aangepak het, sou ek diégene om my verwaarloos het en op my eie krag staatgemaak het om dit te laat gebeur, eerder as om God toe te laat om my elke tree van die pad te lei.

“My visie vir die boek was tweedelig. Eerstens het ek van die begin af geweet selfs nog meer mense sou die krag van die Here kon ervaar deur die verhale te lees. Tweedens was my visie om gelowiges wat met soortgelyke uitdagings as die storievertellers worstel aan te moedig. Dit is ook ʼn manier om na mense uit te reik wat nié glo nie.

“Ek het aanvanklik ʼn lys van twaalf temas gemaak waarmee ek geglo het die meeste vroue kan vereenselwig en ek het aan vroue gedink wat getuienisse op dié gebied gehad het. Ek het dié lysie weggegooi toe ek besef het God het reeds die twaalf vroue gekies wat moes deel wees van die eerste boek.

“God het regtig hand aan hand met my geloop deur die hele proses en bewys Hy is meer toegewyd aan die visie as ek. Ek het ook gevoel Hy sê die boek moes bekendgestel word skaars ses maande na ek met die hele proses begin het. Mense het gedink ek is mal.

“Ek het egter geweet die tydsberekening kom van God af en het ek in die proses egter geleer om God op ʼn nuwe manier te vertrou en om beheer oor te gee. Daar is iets kragtigs daaraan om neer te skryf wat God gedoen het. Ek wou reeds in ʼn verhouding wees met die vroue wat hul stories sou deel, omdat ek geweet het hulle sou ʼn seer en donker plek moes herbesoek.

“Baie van die storievertellers het aanmoediging benodig in die loop van die skryfproses en dít is waaroor ek passievol is. Ek het vertrou daar sou groter deurbraak en genesing wees vir elk van die vroue wanneer hulle hul stories deel. Hulle moes ook baie bid oor wat die Heilige Gees wou hê hulle moes met vreemdelinge deel.

“Daar is ʼn paar mense wat die pad met my saamgestap het. My skoonsuster Lenka Cronjé is ʼn illustreerder en het geroepe gevoel om deur middel van illustrasies ‘n bydrae te maak. Ons was albei in verwondering oor God tydens dié reis, omdat baie van haar illustrasies bevestigings was van die storievertellers se persoonlike ervarings.

“En dan was daar my man, Stefan. Hy was nog altyd die een wat my aangemoedig het om dít waarvoor God my geroep het, ten volle na te jaag. Hy was ook die een wat my verantwoordbaar gehou het om die boek te begin skryf, selfs toe ek gedink het God se tydsberekening is effens ongeleë – Benjamin was maar net vier maande oud in daardie stadium; ek was doodmoeg en ek was nog net besig om te leer om op God te vertrou met my emosies.

“Om ʼn boek van getuienisse aanmekaar te sit, het dus onmoontlik gevoel, maar Stefan sou my sagkens herinner om op Genade te vertrou en nie op my bydrae, of prestasie nie.

“Vier dae voor ons drukkers toe is, het ek uitgevind ek is swanger met Caleb. Ons het nie in daardie stadium geweet wat sy naam sou wees nie, maar na ons dit gekies het, het iemand ons gevra of ons weet een van die betekenisse van Caleb is ‘wholehearted’.

“Een van die dinge wat ek geleer het met dié boek, was dat God se weë waarlik hoër as ons eie is. Daar was soveel keer wat ek gevoel het ék moet dinge laat gebeur, maar teen die tyd wat ek by daardie stap in die proses gekom het, het ek gesien God het reeds vooruitgegaan en voorsiening gemaak.

“Ek het geleer God stel meer in my welstand belang as in wat ek vir Hom kan doen of gee. Ek was bloot die projekbestuurder. Dit gaan oor twaalf vroue wat nie skaam is oor wie hulle was en hoe God gekom het om hulle te verander nie. Dit is oor ʼn God wat liefhet en elkeen van ons se harte individueel najaag, eie aan ons unieke samestelling.”

Ek het geleer God stel meer in my welstand belang as in wat ek vir Hom kan doen of gee.

Die lewenslesse wat ek geleer het

1) Wanneer God ʼn droom of visie in jou hart lê, sal Hy dit laat gebeur op Sy tyd. Moenie dié dinge misloop wat Hy in jou hart wil doen terwyl jy wag nie.

2) Deur onafhanklik en in jou eie krag te probeer om iets te laat gebeur, gaan net tot frustrasie, teleurstelling en spanning lei. Sluit vennootskappe met die mense om jou en verbly jou in jou swakpunte. Dit sal jou toelaat om die genade van God te ervaar wat jy nou nodig het om die visie te laat realiseer.

3) God is goed. Hy gee ons nie ʼn opdrag wat dalk mag voel soos om die Ark te bou, sonder om ons ook die hout te gee waarmee ons moet bou nie. Hy voorsien finansieel, geestelik en fisies.

4) Soms dink jy dat dít waarmee jy besig is die hoofdoel is, maar eintlik is God net besig om dit te gebruik as ʼn boublok vir iets veel groter. Ek het deur dié proses geleer dat om die boek met uitnemendheid en geloof aan te pak, is wat God in daardie stadium van my verwag het. Maar noudat ek terugkyk na waar ek nou is, besef ek Hy het ander planne, soos preek-geleenthede, in gedagte gehad.

5) Al is dit wonderlik om in beheer te wees en orde te hê, kan jy nie jou lewe kompartementaliseer nie. Ek was desperaat om aan die boek te werk, dit af te handel en terug te keer daarna om ʼn vrou en ma te wees. Om die koninkryk na te jaag gaan egter vereis om teenwoordig te wees vir hoe ook al die liefde, geloof en bediening in daardie oomblik lyk.

Vir meer inligting besoek www.wholeheartedly.co.za.