Lééf gesond

Help, ek voel depressief

 Foto Marsel Roothman

Depressie raak veel meer mense as wat jy dink en is een van die mees behandelbare psigologiese siektetoestande. Leraar en skrywer, Johan Smith, vertel meer.

 

Volgens SADAG (The South African Depression and Anxiety Group) lyk statistieke in Suid-Afrika oor depressie as volg; ongeveer 20% van die bevolking mag tydens hul leeftyd aan depressie lei. Twee derdes van hierdie persone ontvang egter geen hulp hiervoor nie. Twee uit elke 100 kinders en vyf uit elke 100 tieners, lei aan depressie en 23 mense poog elke 24 uur om selfdood te pleeg. Die goeie nuus is egter dat tussen 80 en 90 persent van alle depressielyers positief op behandeling reageer en verligting vir hul simptome ondervind.

“Depressie is vir die miljoene mense wat in Suid-Afrika aan depressie lei ’n  vloekwoord, omdat dit steeds deur baie as ’n swakheid en selfs skande gesien word. As gevolg van die stigma en vooroordele bly die meeste depressieleiers liewer doodstil hieroor.

Wat is depressie?

“Ek kan my volkome vereenselwig met die woorde van digter, Donald Hall:

Somehow it’s easier for people to accept the idea that depression is a psychological or spiritual problem, not really a physical one. Very often there is a physical component or even a physical cause of depression. Your body may need medical intervention. Somehow we have difficulty accepting the idea that brain cells break down, just like other parts of the body. Like cancer that is caught too late, depression can be fatal.”

“Die beskrywings van persone wat self aan depressie lei of wié mense na aan hulle het wat daaraan lei, som dit dikwels vir my die raakste op. Vir Bonnie Keen, ’n Amerikaanse sangeres wat depressie beveg, beteken dit veel meer as die afleiding van die woord “depressie” van die Latynse woord deprimere wat beteken “om af te druk”. Bonnie beskryf haar eie ervaring as alles behalwe “afgedruk voel”, maar veel eerder as totaal “crushed and left gasping for air”.

Alta Cloete, plaaslike skrywer en depressievegter sê die volgende: “Jy is moontlik depressief as jy oor ‘’n lang tydperk weining vreugde ervaar, geen sin in die lewe sien nie en alles om jou donker lyk ten spyte van die feit dat daar oënskynlik geen rede daarvoor is nie.”

Sien die tekens raak

“Hoe sien jy depressie in ’n ander persoon raak? Wat is die tekens waarvoor jy moet uitkyk? In ons geval, met my seun Dirkie wat as depressielyer gediagnoseer is, het hy min of meer ’n volledige persoonlikheidsverandering ondergaan. Die humor en lag van ’n super-snaakse kind was weg. Die aktiewe atleet en sportman het net op die bank gelê. Die gewilde kind wou nie mense sien nie. Hy het sy lus vir die lewe verloor en wou nie meer leef nie.

Ander tekens kan wees:

  • Slaappatrone wat verander (slaap sleg of slaap te veel).
  • Eetpatroon verander: gewigsverlies of gewigsvermeerdering.
  • Huil dikwels, gereeld hartseer en bekommer hulle baie.
  • Skoolprestasie daal.
  • Tekens van diep lewensmoeg.
  • Sosiale isolasie of antisosiale gedrag.
  • Gedagtes oor dood en selfmoord, pogings tot selfmoord, of selfbesering.
  • Gee nie aandag aan voorkoms nie (gewoonlik baie gesteld op hulle voorkoms).
  • Uiters sensitief vir verwerping of mislukking.
  • Geniet nie meer dinge wat voorheen vir hulle lekker was nie.
  • Misbruik van dwelms of drank, of begin rook (op soek na ’n kruk).

Kry die regte hulp

By die diagnose van depressie word daar gefokus op die balans tussen neuro-oordragstowwe in die brein, naamlik serotonien, dopamien en noradrenalien. Depressie behoort as ’n breinsiekte behandel te word met die regte medikasie wat die balans tussen hierdie oordragstowwe herstel.

Die hulp van ’n professionele span kenners behoort ingespan te word as dit kom by die behandeling van depressie. Begin deur jou huisdokter te besoek. Afhangende van die graad van die depressie, behoort die hulp van ’n psigiater ingeroep te word. Dan is die dienste van ’n psigoterapeut verseker noodsaaklik.

“Doen jou huiswerk om so by ’n bekwame en simpatieke span mense uit te kom. Gebed is onontbeerlik in die proses. Om die Here se stem te hoor as ouer was vir ons noodsaaklik. Ons het ook naby vriende met die fynste detail vertrou en hulle het werklik laer om ons gesin getrek met hulle gebede.

“By jonger kinders kan terapie so suksesvol wees dat medikasie nie eens nodig is nie. Terapie kan voorkomend wees. Tydens suksesvolle terapie word daar ook lewensvaardighede aangeleer.

“Die keuse van die psigiater is net so belangrik omdat onthou moet word dat daar dalk ’n “soeke” kan wees na die regte medikasie. Baie van die medikasie neem ’n paar weke voordat dit werklike positiewe vrug toon. Terselfdertyd het van die medikasie newe-effekte en aanpassings in die medikasie moet dalk gouer as later gemaak word. Deur dit alles is die begeleiding van ’n psigiater baie belangrik en so ’n dokter moet dus vertrou kan word.

Gaan holisties te werk

Daar is ’n paar basiese dinge wat (sáám met die hulp van ’n professionele span) oor die langtermyn kan help om depressie te verlig:

  • Genoeg fisiese oefening van die groot spiere in die liggaam bevorder die afskeiding van endorfiene, wat ‘’n natuurlike antidepressant is.
  • Alkohol, en enige ander kruk, moet liefs ten volle vermy word tydens behandeling.
  • ’n Gesonde dieet en gereeld eet is noodsaaklik. ’n Vaste slaappatroon is ook noodsaaklik.
  • Bestuur die min emosionele energie wat ’n depressielyer het goed. Te veel mense en geselskap kan ’n depressielyer verder dreineer en uitput. Vermy ook algehele isolasie.
  • Goeie psigiaters weet wanneer ’n persoon eerder in ’n hospitaal of kliniek opgeneem behoort te word.
  • Hierdie is ’n spanpoging van die hele gesin en almal word ten diepste geraak. Jou verhoudinge word behoorlik getoets. Kommunikeer daarom gereeld en hê diep gesprekke met mekaar.

Johan Smith se boek oor spanning, depressie en uitbranding In die Donker Put is nou ook in Engels beskikbaar as The Dark Hole of Depression (CUM Uitgewers).