Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Woensdae is dorpdag. Dis die dag wanneer ons hare was en netjiese klere aantrek, lang en lywige lysies vasklem en koelbokse en kratte vir die inkopies agter op die bakkie laai. Ons beplan die dag gewoonlik tot die minuut toe. Hopelik is daar tyd vir ’n vinnige geselsie of kuiertjie saam met vriende, anders gesels ons sommer so langs die trollies in die supermark se gangetjies.

Daar is natuurlike die lysies van buurmense of plaasmense wat dringend goedjies van die dorp benodig. In kort, die platteland se dorpsdae het sy eie unieke gewoontes wat mens aan die einde van so ‘n uitstappie meer uitgeput laat as wat enige stadsgejaag ooit kan!

Dit was dan ook met die terugkom van een so ’n moordende dorpsdag dat die seuns my laatmiddag by die bakkie bestorm het. “Wat het mamma vir ons saamgebring??!!” kom dit uit een mond en hulle begin gretig deur die sakkies krap. Ek staan botstil by die kar se deur. “Groet julle nie eers nie?” betig ek suur. Ongestoord woeker die hande steeds deur die sakke en hulle blyk my nie eens te gehoor het nie. Ek klem die pakkie wat ek wel vir hulle saamgebring het styf onder my arm vas en stap sonder ’n verdere woord die huis in.

Hulle kom neulend agterna. “Wat het Mamma vir ons gekoop?” “Waar is dit Mamma? Toe sê nou!” Die teleurstelling stoot in my op. Van wanneer af is hierdie kinders so eiegeregtig? Hoe durf hulle eis dat voorregte hulle reg word? Hoe maak jy dankbare kinders groot in ’n wêreld waar eiegeregtigheid die kultuur van die dag is? Elke uitset vereis ’n inset. Punt. Daarsonder tuimel die sisteem ineen. As my kinders iets wil hê, moet daar ’n inset wees; van watter aard ook al. Goeie gedrag en maniere, nederigheid, samewerking, selfwerksaamhied, respek, selfloosheid.

Ek maak die pakkie op die kombuistafel oop, haal die eerste stel houtblokkies vir een kind uit. “Is dit al?” Die woorde tref my op die krop van my maag. Is. Dit. Al. Woorde wat van Skeppingsdae in die Tuin vandag nog in my eie huis weergalm. Romeine 3:10 sê, “Niemand is goed nie – selfs nie een enkele een nie. Daar is nie een wat werklik verstandig is nie… Ons het almal gesondig.” Kinders is selfsugtig van geboorte af – babas vereis dat hulle behoeftes onmiddellik na omgesien moet word en ouers strompel moeitevol en uitgeput agter veeleisende kleutertjies se giere en geite aan. Maar op ’n dag word almal groot en besef die wêreld wentel nie net om jouself nie. Dan kom daar ’n dag wat ouers moet sê, “Ja, dit is al. En dit is genoeg.” Ek het die pakkie toegemaak en in my kas gaan bêre. Hulle het verstom aan die tafel bly sit. Tot eendag, wanneer hulle weer met blink oë die wonder van ’n voorreg kan verstaan.

Leer jou kind:

  • Geld kom met moeite. As jy iets wil hê, moet jy dit verdien.
  • Deernis vir ’n ander se situasie, maak van ons beter mense.
  • Ons is verantwoordelik vir ons keuses. Goeie gedrag word beloon, terwyl verkeerde keuses sy eie gevolge dra.
  • Moenie toegee aan eise soos “Nou!” nie.
  • Luiheid en swak werksetiek kom agv ouers wat ingee en vir kinders alles doen.
  • Kinders moenie verwag dat ouers al hulle probleme moet oplos nie.

Lees meer:

Kristen Welch: “Raising grateful kids in an entitled world.” Uitgegee deur Zondervan.