Dagboek

Vir Junie

Lééf so… met hart & siel

Iets om te ontdek

Verbeel jou jy is by die see! Pak ’n slag kaste reg en ontdek die vergete skatte wat in jóú huis versteek is.

 

 

 

Êrens heen om te stap

Stap strandlangs vanaf Muizenberg tot by Kalkbaai en laat die pragtige uitsig oor Valsbaai jou bekoor. Adem die vars seelug in en sê dankie vir elke seëning uit Sy hand.

 

Iets om te proe

Kasselshoop se “Boet se botterkaas” word volgens die Kassselman-familietradisie met die hand van ryk en romerige Jersey-melk gemaak. Proe dié lekker kaas, sowel as ’n verskeidenheid ander kase, by Kasselshoop se proekamer. Die proekamer is oop van Maandae tot Vrydae van 10h00 tot15h00.

 

 

Iets om aan vas te hou

Ons vier tans Pinkster, ’n spesiale tyd om Jesus se beloftes aan ons te onthou. Hy is altyd met ons. Sy Gees laat Hy ons na soos geskryf staan in Handelinge 2:17: “Ek sal my Gees uitstort op alle mense…”

 

Iets om te doen

Wynplase en restaurante in die pragtige Helderberg-streek stel op Donderdag 15 Junie met trots hul plaaslike kos en wyn aan die publiek bekend. Die Taste The Helderberg-epikuristiese fees vind plaas van 17h00 tot 21h00 by die bekende NH The Lord Charles Hotel op Somerset-Wes.

 

Iets om te skep

’n Skulpie hier, ’n bakkie daar. Dek ’n slag mooi tafel met dit wat in en om jou huis is. Verras jou huismense met jou kreatiwiteit!

 

 

Iewers om te gaan eet

La Parada Del Mar is ’n nuwe eetplek in Kampsbaai met ’n Spaans-Kubaanse atmosfeer. Hier word hoofsaaklik tapasstyldisse bedien wat geniet word terwyl jy oor die see uitkyk. Die restaurant is geleë by 35 Victoriaweg, Kampsbaai.

 

Iets om te drink

Wynmaker, Bertho van der Westhuizen, het pas die Alto Rouge 2015 bekendgestel. Die robynrooi wyn het ’n boeket van bessies, sigaar, donker sjokolade, vanielje en speserye en proe heerlik saam met rooivleis, wild- en eendgeregte. www.alto.co.za

 

’n Plek om te besoek

Hou gerus stil by Klein Soebattersvlakte op na Stilbaai waar die Kasselman- familie hul handgemaakte Kasselshoop-kase maak. Hier word daar reeds vier geslagte lank met Jersey-koeie, bekend vir hul ryk en romerige melk, geboer. Besoek www.kasselhoop.co.za om meer hieroor te wete te kom.

 

Dagboek

  • Van 2 tot 4 Junie word ’n Inner Healing Seminar aangebied deur Roly en Amanda Buys by Die Weg Christelike Gemeente op Nelspruit. Vir meer inligting skakel 083 288 9398 of stuur ’n epos aan geestelikeberading@dieweg.org.za.
  • Op 4 Junie kan jy aan die FNB Platinum Trail Run wat by die ATKV Buffelspoort-oord in die Magaliesberg-omgewing afskop deelneem. Vir meer inligting besoek www.stillwatersports.com
  • Boekherstelspesialis, Peter Packery, bied van 5 tot 7 Junie ’n inleidende kursus aan oor die herself van ou hardebandboeke by die Taalmonument in die Paarl. Die kursus kos R1 500 per persoon en geen vooraf kennis is nodig nie. Vir meer inligting kontak kommunikasie@taalmuseum.co.za.
  • Op Saterdag 7 Junie hou die Magdalena Huis Beradingsentrum ’n damesontbyt om 11h00 by Rusticana, Proteaweg, Paarl om die sentrum se 115e bestaansjaar te vier. Kontak elsa@magadelena.org.za om te bespreek. Koste R280 per persoon.
  • Die jaarlikse Touching the Heart gala-aand word op 10 Junie by die Cavalli Wine & Stud Farm naby Somerset-Wes aangebied deur die Daniel and Friends Fund en die I Am Special Ministries. Hierdie instansies is daaraan toegewy om na kinders in minderbevoorregte gemeenskappe om te sien en om die gesinne van kinders met spesiale behoeftes en chroniese siektetoestande te ondersteun. Die gasspreker is Hein Wagner (Blind man with a Vision). Bespreek by justine@danielandfriends.co.za
  • Kom geniet ’n ware plaasfees op 11 Junie by die Avondale Field to Feast-middagete wat van 11h00 tot 15h00 plaasvind. Die oggend skop af met ’n trekkerrit en plaastoer waarna daar aangesit word vir ’n driegang-plaasete. Die ete kos R550 per persoon en sluit drie glase Avondale-wyn in. Bespreek aanlyn by http://avondalewine.co.za/faber/ of skakel 021 202 1219.
  • Op Dinsdag 13 Junie vind die jaarlikse Look Good Feel Better Gholfdag by die Randpark Gholfklub in Johannesburg plaas ten bate van dié organisasie wat na vroue wat met kanker gediagnoseer is omsien. Bespreek by glenda@lgfb.co.za