Geloof het ’n adres

By Bosjes-kapel…

Deur Jacqueline Leuvennink | Foto’s Jan Ras

Die kapel staan op ’n plaas wat geslag op geslag die Here se sorg beleef het, iets wat die huidige eienaars tydens ’n besoek aan Israel laat besluit het om weer iets in die plaaslike gemeenskap terug te ploeg.

“As ’n mens vir ’n wyle hier kan kom sit, vervaag die res van die dag se bedrywighede. Dis vir my soos een, diep asemteug.” Waar ons in die Bosjes-kapel staan, waai Carlen Vorster met haar regterhand na waar jy die son vanuit die Bosjes-kapel in die oggend oor die Witzenberge in die ooste kan sien opkom. “En dáár,” beduie sy na die westekant, “sien jy hom in die aand wegsink.” Vir ’n paar oomblikke bevind ons ons in die wit stilte anderkant woorde. Dis eerder die gestroopte eenvoud van die glasmuurkapelletjie met sy treffende, moderne wit kurwes wat die praatwerk doen. Selfs blomme sou hier half oorbodig wees. Want dag vir dag tuimel ’n rondommooi landskap in al sy wisselende luime en seisoene van buite af deur die hoë vensters. Waar jy ookal mag kyk, adem dit iets van Psalm 36 se “Here, u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke, u geregtigheid tot op die hoogste berge…”

Onder Sy vleuels

Dit was om die waarheid te sê die Engelse vertaling van vers 7 wat aanvanklik die inspirasie vir die bou van die kapel was. “How precious is your steadfast love, o God. The children of mankind take refuge in the shadow of your wings.” Baie dink en beplanning later herinner die ongewone struktuur met sy weerkaatsing in die water by die ingang jou dan ook aan ’n groot voël wat enige tyd kan opvlieg om met groot, swaar vlerke oor die landskap te sweef.

Vir Carlen wat as bemarkings-en funksiebestuurder van die begin af deel was van al die nuwe roeringe op die historiese plaas Bosjes, is al die groei wat die afgelope tyd in hierdie amper vergete hoek van die Breederivier-vallei plaasgevind het, iets wat haar met hoop en verwondering vul.

Die kapel staan op ’n plaas wat geslag op geslag die Here se sorg beleef het, iets wat die huidige eienaars tydens ‘n besoek aan Israel laat besluit het om weer iets in die plaaslike gemeenskap terug te ploeg. ’n Damwal wat oorloop, moet iewers heen gekanaliseer word. Hulle het in ’n stil, ou klipkerkie in Kapernaum opnuut onder die indruk gekom van God se seën oor hul lewe en Sy ewigdurede liefde in kontras met die vervlietendheid van die mens. In daardie oomblikke het ’n droom ontstaan. Hulle wou op hulle familiegrond in die Breederivier-vallei ook iets tot stand bring waarheen besoekers, moeg van die nou klipgangetjies en lang opdraendes van mens-wees, kon kom om gelaaf te word.

Carlen het as kind graag by haar ouma in die vallei kom kuier en het altyd daaroor gedroom om ook eendag hier te kom woon. Met die nuwe verwikke-linge op die plaas het die familie haar met haar agtergrond in skakelwerk, bemarking en joernalistiek vier jaar gelede nader getrek.

Die 41-jarige ma van ’n negejarige tweeling het die geleentheid met groot geesdrif aangegryp maar beklemtoon dat alles vanuit die staanspoor ’n spanpoging van die familie was. “Almal se kennis en kontakte word gebruik om saam te dink, droom en doen. Wie ookal die beste oorredingsvermoë oor ’n spesifieke saak of aanstelling het, wen,” vertel sy vrolik.

’n Ryke geskiedenis

Die Breederivier-vallei se geskiedenis is een waar beide die landbouers en hulle werkers oor geslagte heen omring deur die eeue-oue berge sy aan sy gewoon en gewerk het. Die ou kerkie by die ingang van Bosjes is deur ’n voorsaat gebou en die bouwerk aan ’n nuwe skooltjie vir tweehonderd kinders het reeds begin. ’n Créche en bewaarskool word ook in die vooruitsig gestel.

Iewers op die plaas lê die grafte van die Hugo’s wat in 1790 die eerste grondbesitters was. “Daar woon nou nog Hugo’s langsaan,” vertel Carlen. Bosjesman’s Valley Farm, ’n plaas wat tans wyndruiwe, olywe, perskes en proteas verbou, is egter sedert 1831 in die Botha/Stofberg familie se besit. Bosjes beteken “klein bossies” in Nederlands en verwys na die natuurlike plante van die omgewing.

“In een generasie het twee Stofberg susters en hul broer met twee Botha broers en hul suster getrou. Ons is vandag so verstrengel dat niemand meer weet waar die een familie begin en die ander een eindig nie,” lag Carlen, self ook ’n nasaat. Hulle is steeds ’n familie met noue bande met mekaar én die grond in die vallei. “Vyf-en-veertig van ons hou elke jaar in Desember saam vakansie op Onrus en saans word daar saam geëet,” vertel sy. “Elke een kry ’n beurt om kos te maak!”

Almal is welkom!

Die idee was van die begin af om die plaas so te ontwikkel dat dit oopgestel kan word vir die publiek. As jy deesdae van die R43 afdraai en in die rigting van Breedekloof naby Ceres ry, begroet nie slegs die kapelletjie jou as jy by die grondpad indraai nie.

Die netjies versorgde Botha-begrafplaas naby die kapel is byvoorbeeld nou ’n voortsetting van die meditatiewe tuin wat rondom die kapel uitgelê is. Volgens Carlen begin die Stofbergs nou “ook stadig inkom.” Hul oorspronklike begraafplaas op ’n ander deel van die plaas het nie meer plek nie.

Onderweg na die gesonke teetuin, wat soos die restaurant van Woensdae tot Sondagaande oop is, bespeur ’n mens bordjies by plante waarna daar in die Bybel verwys word. Die teksgedeeltes is ook in braille ter wille van die Pionierskool vir Blindes in die nabygeleë Worcester.

Orals is daar balans en simmetrie. Die tuinpaadjies is byvoorbeeld baie onopsigtelik in die vorm van ’n kruis uitgelê. Nes die kruise by die kapel en die enkele kruis op die gestroopte dog glansende koperkateder oftewel preekstoel is dit subtiel deel van alles. ’n Labarint nooi jou om teen ’n koppie uit te stap vanwaar jy ’n uitsig oor die hele uitleg het. Olyfbome, granate en sipresse dra sy aan sy saam met ‘n groot verskeidenheid ander plante by tot die Mediterreense en dus ook Bybelse prentjie.

Modern en stylvol

Die kontemporêre, lig-gevulde ruimte van die restaurant is, soos die kapel, deur ’n skoolmaat van Carlen, Coetzee Steyn van Steyn Studio in Londen, ontwerp. Met sy ontblote dakbalke, die warmte van handgemaakte houtmeubels en koper en indrukwekkende dakvensters is besoekers hier ook heeltyd van die omringende panorama bewus terwyl hulle heerlike seisoenale, moderne trooskos geniet. Die geurige spyskaart is opgestel deur hoof chef, Kim Cox en konsultant-sjef Pete Goffe-Wood.

Die vriendelike kelnerinne kom almal van omliggende plase. “Ek geniet dit om al die stelsels mettertyd in plek te kry,” sê Carlen. “Ons kry binnekort ’n gastehuisbestuurder en ’n restaurantbestuurder maar tot dusver moes ek maar met my beperkte kennis inspring en self die mense oplei. Dis ontsettend bevredigend om te sien hoe mense wat andersins dalk werkloos sou wees, mettertyd begin gedy en selfvertroue kry. Niemand hier doen net dit waarvoor hulle aangestel is nie, en daar is ’n trots in wat hulle doen. Die restaurant is smiddae vanaf twaalfuur oop. Half-twaalf verdwyn almal in die badkamer in en as hulle terugkeer, is almal se hare weer netjies en die gesigte gegrimeer. Heeltemal op eie inisiatief.”

Buite op die terras met sy lieflike berg-uitsigte val ’n 6x6m blou-en-wit muurteëlkunswerk (“so groot soos twee Afrika-olifante op mekaar”) jou dadelik op. Dit bestaan uit 366 blou-en-wit handgeverfde teëls. Die kunstenaars Michael Chandler en Lucie de Moyencourt het hul inspirasie gevind in die porseleinskerwe wat op die plaas opgegrawe is. Kinders kan op ’n plekmatjie die name vind van sommige van die meer as ’n 100 fauna en flora spesies wat op die plaas voorkom en ’n plekkie op die teëls verwerf het – “die siel van die plaas groei uit die grond,” soos die inligtingbroshure lui.

By die ou plaasopstal uit 1790 gooi ’n majestueuse koraalboom, deel van die geskiedenis van die plaas, verwelkomende skaduwees. Binne sluit die kalm, minimalistiese interieur deur ontwerper Liam Mooney ook geslaagd aan by die romantiek van antieke elemente soos die muurkas wat van waboomprotea, geel-en stinkhout gemaak is, een van drie in die vallei. Die voorkamer kan nou vir klein dagkonferensies en privaat raadsaal-styl vergaderings gebruik word.

Carlen-hulle het ’n niggie se troue as ’n oefenlopie gebruik nadat hulle in Maart oopgemaak het maar die besprekings begin nou in te rol vir later vanjaar. Bosjes bied ’n aantreklike trou-of funksiepakket aan en gaste kan oornag in Die Skuur, ’n vyfslaapkamer-gastehuis met komplimenterend kontemporêre interieur.

Besoekers kan benewens ’n verkenning van die wingerde, die kapel, die tuin en die Bosjes-kombuis met sy nabygeleë kinder-speelgrond ook vir vyf of twaalf kilometer staptogte in die berge gaan.

“Die kanse is goed dat gaste ’n springbok, sebra of volstruis sal sien maar ons springbokke verdwyn. Dis vermoedelik ’n luiperd se werk,” vertel Carlen.

Op die Herehuis se gewel pryk ’n pynappel, iets wat in die agttiende eeu as ’n simbool van gasvryheid beskou is. Ná ’n oggend op Bosjes met sy kombinasie van skoonheid, kundigheid en keurigheid weet jy dis deel van die skering en inslag van hierdie plaas. Iets wat dit nou weer opnuut ’n seën gaan maak vir die persoon wat in die grondpad afdraai.