Boekgesprek

Lééf gesels met skrywer en tentmakerleraar, Riekert Botha, oor sy jongste boek, 300 Geloofsvrae en Bybelse antwoorde, waarin hy Bybelsgebaseerde antwoorde op moeilike vrae en etiese kwessies gee.

Wat het Kersbome met Kersfees te doen? Het diere siele? Kan ons vandag nog engele sien?

Etiese vrae soos dié maal daagliks in Christene se koppe. En dan is daar nog geloofsvrae ook soos: Wat beteken erfsondes? Wat is die regte manier van “rus” op die Sabbat/Sondag? Is dit verkeerd om Paasfees vir my kinders eiers in die tuin weg te steek?

In 300 Geloofsvrae en Bybelse antwoorde gee Riekert Botha Bybelse antwoorde op 300 kopkrap-vrae. Om naslaan te vergemaklik is die vrae onder 13 verskillende afdelings geklassifiseer wat insluit: die Bybel as Woord van God; kerk en gemeentelede; etiese kwessies; die wil van God; engele, gerubs en serafs; hemel en hiernamaals; sonde, verlossing en redding; en lyding.

Dié boek is van onskatbare waarde vir almal wat daarmee worstel om hulle geloof en daaglikse lewe met mekaar te versoen.

Vraag: Riekert, waar het jou liefde vir skryf begin?

Antwoord: Ek is nie soseer lief vir skryf nie. My liefde lê eerder in kommunikeer. Skryf is lekker as dit ’n 400-woord opstel is of ’n kreatiewe beskrywing van ’n situasie of emosie, maar wanneer dit ’n 40 000-woord boek is, is dit harde werk! Ek sal baie eerder ’n boek práát as ’n boek skrýf! My skrywery het begin met daardie heel eerste Pleister vir die Siel-boek in 2009.

Vraag: Ons wil graag weet wat dit is wat jou inspireer?

Waarheid inspireer my. God bedien ons met waarheid oor Jesus, die lewe, die mense om ons, onsself, en dít roer my. Daar is niks so bevrydend en inspirerend soos die waarheid nie. Dit bring egtheid, liefde en veiligheid.

Vraag: Wat is die moeilikste aspek van die skryfproses vir jou?

Antwoord: Vir my is dit die sit en skryf! Ek dink vinniger as wat ek kan skryf en dit frustreer my. Ek wens ek kon goeie sagteware hê wat skryf wat ek sê – so vinnig as wat ek kan praat.

Vraag: Jy het nou al ’n hele paar boeke op jou kerfstok. Raak ’n mens ooit daaraan gewoond dat jou boek gepubliseer word?

Antwoord: Ja, mens doen. Die eerste boek is soos ’n eerste soen – dit is besonder spesiaal. Die boeke (en soene) daarna is ook kosbaar en spesiaal, maar nie soos daardie eerste een nie.

Vraag: Kom ons gesels bietjie oor jou jongste boek. Vertel ons ʼn bietjie meer van 300 Geloofsvrae en Bybelse Antwoorde?

Antwoord: Die uitgewer het die behoefte vir so ’n boek geïdentifiseer en my gevra om daaraan te werk. Ek reken dit was na aanleiding van my vraag-en-antwoord-styl program op RSG met Derrich Gardner so ’n paar jaar gelede. Die behoefte was na ’n boek wat diep genoeg is om inhoud aan die antwoorde op belangrike vrae te verleen, maar toeganklik genoeg sodat enige iemand dit kan verstaan. Dit is natuurlik nie ’n maklike opdrag nie, maar ek reken ons kon tot ’n groot mate daarin slaag. Ons het vrae van oraloor ingewin om dit aktueel te hou. Daar was ’n hele paar lekker moeilike vrae! My uitgangspunt vir die antwoorde was die Bybel as geïnspireerde Woord van God in die lig van Jesus Christus se persoon, karakter en bediening.

Vraag: Waarom ʼn boek wat spesifiek kyk na so wye reeks kwessies?

Antwoord: Daar is ’n groot behoefte na waarheid in die wêreld – ’n soeke na standvastigheid en fondasie, veral in geloof. Die mens soek na lewe – na dit wat reg is. Die idee was om ’n boek te skep wat as rigtingwyser kan dien vir baie van die antwoorde. Die antwoorde in 300 Geloofsvrae en Bybelse antwoorde is nie omvattend nie (daarvoor is die boek te dun!), maar bied meestal ’n wegspringpunt.

Vraag: Wat hoop jy ontvang lesers uit 300 Geloofsvrae en Bybelse antwoorde?

Antwoord: ’n Waardering vir die Bybel as Woord van God en ook vir die identiteit en bediening van Jesus Christus.

Vraag: Is daar ’n volgende boek in die pyplyn waarna lesers kan uitsien?

Antwoord: O ja! Dit is ’n Bybelstudie oor Kolossense waaroor ek baie opgewonde is. Ek het reeds ’n Bybelstudie oor Habakkuk, Filippense en Openbaring gedoen, en Kolossense is vir my die kersie op die koek.

Riekert Botha is ’n tentmakerleraar en was voorheen leraar van die Baptiste-gemeente op Vredendal in die Wes-Kaap. Riekert beskik oor die grade BTh (Hons) van die Global University en ’n MTh van die Northwestern Theological Seminary, waar hy ook sy PhD in berading ontvang het. Riekert is die skrywer van die bekende Pleisters vir die siel-reeks. Hy is getroud met Pippa en hulle het drie kinders.

 

300 Geloofsvrae en Bybelse antwoorde word versprei deur Christelike Uitgewersmaatskappy in Suid-Afrika. Bestel jou kopie by CUM Books by http://www.cumbooks.co.za/300-geloofsvrae-en-bybelse-antwoorde-sagteband.