Kuier by

Uit die grond, op die bord

Deur Riëtte Grobler | Foto’s Hanneri de Wet

Net soos hul voorsate het Peter en Jenny de Luca van die Casalinga Ristorante Italiano in Muldersdrif ʼn noue band met die natuur se ryke oes en die vreugde van eet.

Draai jy af op die grondpad na die Rocky Ridge-plaas in Muldersdrif, is dit so asof jy na die Italiaanse platteland weggevoer word. Die Johannesburgse stadslandskap maak plek vir sagte groen heuwels en lowergroen grasperke so ver as die oog kan sien. Uit die mooi klip-opstal wat die Casalinga-restaurant huisves en wat Peter en Jenny de Luca sowat 28 jaar gelede so te sê eiehandig gebou het, klink die vrolike gelag van gaste op en in die indrukwekkende groentetuine werskaf tuiniers tussen groente en rose. Dit is dié groentetuine wat hy deur die jare met soveel liefde gekoester en ontwikkel het, wat die geheim agter Casalinga se sukses is, glo Peter.

Al die varsprodukte wat in die restaurant se kombuis gebruik word, word daagliks daar geoes. Boonop word groente, vrugte en kruie ook mildelik voorsien vir Leafy Greens, die vegetariese restaurant wat die De Luca’s se dogter Antonia ʼn paar jaar gelede op Rocky Ridge geopen het.

Soos ouma se kombuistuin
Peter het sy liefde vir groentetuine en permakultuur by sy Italiaanse ouma geërf. Dié kosfilosofie moedig die ontwikkeling van volhoubare (en eetbare) ekosisteme en ʼn sinvolle verhouding met die natuur aan.

“Ek onthou hoe ek as kind onderdeur vyebome en boontjieranke geloop het in haar tuin en hoe my nonna my geleer het hoe om groente reg te pluk en te plant om die bes moontlike oes te verseker,” vertel Peter. Dié tipe leefstyl is die norm in Italië.

“Daar is oral kombuistuine in Italië en dit is die mense se trots om vars produkte uit hul eie en hul bure se tuine in hul kombuise te gebruik.” Daarom dat Peter en Jenny die kostuin wat welig om hul woonhuis op Rocky Ridge groei, as hul eie stukkie hemel beskryf. “Dit is regtig vir ons spesiaal om in ons tuin te kan werk en die vrugte van ons harde arbeid te kan pluk,” sê Peter. “Niks maak ons so gelukkig as om kaalvoet in ons tuin te werk nie,” voeg Jenny by.

Dié tuin is ʼn lushof. Daar is lietsjie- en avokadopeerbome, makadamias, vye- en suurlemoenbome; tamaties, lemmetjies, piesangs en ʼn verskeidenheid bessies en kruie soos roosmaryn, salie en basielkruid wat welig in groot houtkiste groei.

“My ouers is gaande oor die konsep van ‘koswoude’ en my pa is al vir meer as 35 jaar aan die sade bymekaar maak. Soms gooi hy sommer ʼn verskeidenheid sade langs mekaar in die grond om te kyk wat daar sal opkom,” sê Antonia.

“Dit is regtig vir ons spesiaal om in ons tuin te kan werk en die vrugte van ons harde arbeid te kan pluk,” sê Peter.

Om die tafel
Met dié dat hulle twee restaurante bedryf, is bestanddele, resepte en die allerheerlikste kos die spilpunt van die De Luca’s se lewe, net soos dié van die talle ander Italiaanse families.

“Dit is tipies van Italianers om soggens by die ontbyttafel reeds te bespreek wat ons vir middagete gaan eet,” vertel Peter laggend. “Terwyl ons middagete eet wonder ons al wat ons vir aandete gaan kry en met aandete praat ons oor die volgende oggend se ontbyt!” Die vreugde van saameet dra by tot die genot wat Italianers uit kos put en Peter vertel van ʼn Italiaanse gesegde wat verklaar waarom sy landgenote lang, uitgerekte etes so geniet: “Ons sê: A tavola non si invecchia’, wat beteken jy sal nie oud word wanneer jy om ʼn tafel sit nie.” Dit is nie verniet dat Casalinga “gasvrou” en “tuisgemaak” beteken nie.

Dit was nog altyd vir Peter en Jenny heerlik om te onthaal en Antonia onthou hoe haar pa selfs laatnag, wanneer sy en haar vriende na ʼn aand uit sou tuiskom, vir hulle potte vol pasta in die kombuis gereed sou hê. Deesdae sal jy egter glad nie pasta of vleis in die De Luca’s se kombuis kry nie, hoewel dit steeds by Casalinga bedien word.“Ons is ʼn spul gesondheidsbewuste Italianers,” grinnik Peter. Jenny voeg by: “In die restaurantbedryf is jy gedurig aan die gang. Ons het sommer so in die hardloop ʼn bak pasta geëet en het heeltemal te veel espresso’s gedrink.

“Ons het op ʼn stadium konstant gewerk, maar mettertyd begin smag na ʼn meer gebalanseerde leefstyl.” Deesdae beplan die De Luca’s hul etes na gelang van wat in hulle tuin groei en voel hulle meer gelukkig en gesond as ooit tevore. “Die idee om van die plaas tot op die tafel te leef geld regtig hier,” sê Antonia trots. “Mense het meestal nie ʼn benul waar hulle kos vandaan kom nie, maar ons probeer om in voeling met die aarde te bly.” Vars, seisoenale bestanddele is nie net mooier om na te kyk en lekkerder om te eet nie, maar gesonder ook, voeg Jenny by.

“Gister se middagete was reguit uit ons eie tuin. Van die knoffel en tamaties, tot die gestoomde murgpampoentjies en die wortels met ʼn glaseersel van heuning uit ons eie byekorf.” Niks wat op die plaas geoes word, gaan verlore nie en eie aan hul Italiaanse wortels, is die piekel, fermentering en inlê van varsprodukte vir Peter en sy dogter soos tweede natuur.

“My ouma Marguerite Anserimo het haar kennis aan ons oorgedra,” vertel Antonia voordat Peter die deur van die spenskas oopgooi.
Die inhoud van dié klein buitegeboutjie is om van te droom. Pragtige bottels vol ingelegde en gedroogte lekkernye staan die rakke vol en Peter raak liries oor die gebruike van elke bestanddeel.

Daar is gepiekelde artisjokke, soetrissies, eiervrug, brandrissies en zucchini-pampoentjies; gedroogte sampioene wat op die plaas geoes is; helderrooi songedroogte erfstuk-tamaties vir die heerlikste Napolitaanse-sous; bottels vol gespikkelde boerbone vir pasta fagioli, ʼn Italiaanse- boon- en -pastagereg en delikate skyfies songedroogte vye van hul spogbome. Peter maak selfs wyn van die katôbadruiwe wat aan die digte prieel op hul huis se stoep groei. Hul passie vir organiese groente en vrugte vorm selfs deel van hul reisplanne en wanneer die De Luca’s elke sowat drie jaar na Italië reis, is hulle lief daarvoor om by varsproduktemarkte rond te snuffel.

Hul gunstelingbestemming is Ravello, ʼn klein dorpie aan die Amalfikus.
“Ons bly altyd by ons vriend Luca Culce se hotel Salvatore’s. Die uitsig vandaar is asemrowend en ons geniet dit om die omgewing op bromponies te verken,” sê Antonia. “Luca maak die heerlikste kos in sy restaurant met bestanddele uit die omliggende heuwels en die see, en verwelkom ons in sy kombuis om by hom te leer,” voeg Jenny by.

By Casalinga, wat vanjaar sy 28ste bestaansjaar vier, streef hulle na dieselfde Italiaanse hartlikheid. Peter sê hul visie was van die begin af dat dit ʼn plek moes wees waar mense eenvoudige, lekker kos met net die beste bestanddele kon eet. Toe hulle destyds die spyskaart beplan het, het sy ma Marguerite Anserimo hand bygesit om die Italiaanse spyskaart te ontwikkel en die sjefs op te lei om outentieke Italiaanse disse voor te berei.

“Ons carpaccio, minestrone, vissop, lasagna met pesto, crème brûlée en pavlova het deur die jare gunstelinge op die spyskaart gebly,” sê hy. Buiten vir die lekker kos, is Jenny gaande oor die feit dat Casalinga ʼn bestemming geword het waar gesinne, nes hul eie, sommer vir ʼn hele dag lank onder die bome kan kom uitspan.

Deur die jare was daar talle aanbiedinge om die restaurant uit te brei, maar Peter en Jenny het dié versoeking weerstaan, omdat oordaad hulle nie aanstaan nie. “Ons is vrye geeste en verkies om na ons harte te luister,” sê Jenny. “Dít is die rede waarom dinge altyd uitwerk soos dit moet.”

“Ons het op ʼn stadium konstant gewerk, maar mettertyd begin smag na ʼn meer gebalanseerde leefstyl.”

Gister se brood, vandag se middagete
Volg die klippaadjie wat agter Casalinga verbyloop om by Leafy Greens, Antonia se vegetariese restaurant uit te kom. “Ek het die restaurant geopen omdat ek passievol is oor kos en gesondheid,” sê Antonia, wat ʼn MBA én ʼn kwalifikasie aan ʼn Amerikaanse kookskool agter haar naam kan skryf.

“My grootwordjare was kosgeoriënteerd en boonop het my ma my entrepreneursgees geprikkel deur my van jongs af toe te laat om saans na toemaaktyd met die restaurant se geldsake te help.” Buiten dat haar passie vir bestanddele en waar dit vandaan kom deur haar Italiaanse grootouers aan haar oorgedra is, skryf sy ook haar liefde vir ʼn gesonde leefstyl aan haar oupa Gary Player, die bekende gholfspeler en Jenny se pa, toe.

In haar kookboek, Leafy Greens Café: Recipes from our Organic Garden, wys sy onder meer hoe om gesonde weergawes van Italiaanse-gunstelinge te maak. “Italianers herbenut bestanddele graag en ek wys byvoorbeeld met my Panzanella-slaairesep hoe om die vorige dag se goeie brood te gebruik saam met tamatie en roket, om die allerheerlikste ete aanmekaar te slaan.”

www.casalinga.co.za/ 011 957 2612

www.leafygreens.co.za/ 010 595 4563.