Boekgesprek

Lééf gesels met skrywer, Esther Fleece, oor haar nuwe boek No More Faking Fine Ending The Pretending, ’n boek wat pyn en verlies aanspreek en die leser tot ’n lewe van openheid en eerlikheid lei. Esther is ’n internasionale spreker en skrywer oor millennials, geloofsleierskap en die gesin.

Vraag:

Voordat ons begin gesels oor jou wonderlike nuwe boek en ook alles waarmee jy tans besig is, kan ek nie nalaat om te sê hoe beïndruk ek is dat CNN het jou aangewys as een van die topvyf-vroue in godsdiens om dop te hou nie!

Antwoord: 

Wel, ek waardeer dit. Ek is nie heeltemal seker hoe daardie eer my te beurt geval het nie, maar dit is ’n groot eer.

Vraag:

So, hulle het jou nie gekontak en gevra om iets te doen wat vir jou daardie posisie gegee het nie! Hulle het maar net ’n ogie oor jou doen en late gehou en besluit… sjoe, jy is iemand wat dinge laat gebeur!

Antwoord: 

Ek dink so, en jy weet, ek het voorheen gewerk vir ’n organisasie sonder winsbejag wat soortvan wêreldwyd bekend is. Hulle het my gevra om ’n verhouding met die media te bou aangesien baie Christene dikwels misverstaan word wanneer dit kom by wat gekommunikeer en geartikuleer word in die media. Ek het dus net begin bou aan ’n verhouding met mense wie se wêreldbeskouing baie van myne verskil het. Dit het gelei tot ware vriendskappe waar beide partye mekaar respekteer, al stem ons nie noodwendig oor alles saam nie. Dit was ’n baie groot eer.

Vraag:

Ja, dit is so wonderlik om ons geloofsoortuigings en die Koninkryk van God in die wêreld in te neem en op daardie vlak invloed uit te oefen. Ek sien dit is presies wat jy doen en dit is wat ons as gelowiges geroep word om te doen.

Antwoord:

Ek dink so, en dit bring vir my groot vreugde. In plaas daarvan dat ek na mense kyk en dink hulle verstaan my nie regtig nie, probeer ek werklik vir hulle verduidelik wat ons glo. Dit gee ons ’n geleentheid om die hoop wat ons het, te deel. Ek hou baie daarvan.

Vraag: 

Esther, ek het ’n vriendin wat deur ’n baie, baie slegte tyd gaan en sy sê nou die dag vir my: “As nog een persoon vir my sê alles sal regkom, gaan ek die persoon met die vuis slaan.” Dit is min of meer wat sy gesê het, ek parafraseer. Jy is iemand wat dit verstaan en daaroor skryf dat wanneer dinge regtig sleg gaan daardie woorde die laaste woorde is wat jy wil hoor.

Antwoord:

Dis waar. En ons sien dit in die Bybel in die boek Job. Jy weet, Job het alles verloor, nie net sy rykdom en vee nie, maar ook sy gesin. Hy is diep bedroef en sy vriende kom dan na hom toe en treur vir sewe dae saam met hom. Sy hartseer was so groot dat hulle net by hom gesit het – hulle het nie geweet wat om te sê nie en God wys hulle nooit tereg daaroor nie. Wat God uiteindelik wel bestraf, is die woorde wat hulle later begin spreek terwyl Job nog treur. Ek dink dus daar is ’n voorbeeld in die Bybel dat wanneer iemand swaarkry dit nie die regte tyd is om ’n les in teologie te gee nie, dit nie die tyd is om vir iemand te sê hulle moet hulle regruk en oor die pyn kom of dat God alle dinge ten goede laat meewerk nie. Dit is tyd om net by hulle te wees en saam met hulle te huil.

Vraag:

En dit is in wese waaroor No More Faking Fine gaan – die boek wat jy pas gepubliseer het. Ons moet verby betekenislose woorde beweeg, want iemand wat in ’n beter posisie is, verstaan dit en voel nie daardie angs en wanhoop nie. Jy praat baie oor “treur”. Wanneer ek aan die woord dink, dink ek aan ’n hartseer liedjie. Ek verstaan die woord waarskynlik nie soos jy dit verstaan nie, so help ons asseblief verstaan wat jy bedoel en hoe dit werk.

Antwoord: 

Ja, om te treur in hierdie konteks is soos ’n uitroep van jou hart. Dit is ’n uitdrukking van smart. Dit kan dalk iets in jou wees wat jy dikwels te skaam is om hardop te sê of te bid. Deur die hele boek beskryf ek treur hopelik as ’n uitdrukking van smart wat God vertroos. Die rede daarvoor is omdat ek nêrens is die Bybel ’n voorbeeld kan vind waar God nie aangeraak word deur iemand se klaaglied nie. Hy sê Hy nader tot dié met gebroke harte; Hy bied vertroosting aan dié wat dit nodig het; Hy sal vir jou vrede gee ver bo jou begrip, maar ons moet eers met ons klaaglied tot Hom nader. Ons moet eers vir Hom sê ons verkeer in nood.

Ek dink dus treur moet deel wees van elke Christen se woordeskat hier op aarde. As ons nie op die oomblik deur ’n treurfase gaan nie, sal ons dit wel in die toekoms ervaar, of dalk moet ons ons naaste vertroos wat tans deur die fase gaan. Ek dink dit is deel van genade en groei, en dit is deel van die noodroep aan hierdie kant van die sondeval, totdat ons in God herstel is en totdat Hy terugkom na ons toe.

Vraag:

Maar om te treur – is dit ’n subjektiewe ding, persoonlik? Een mens kan tog nie vir ’n ander mens sê hoe om te treur nie. Is dit dus net ’n persoonlike noodroep? Hoe jy dit doen, sal verskil van hoe ek dit doen, maar dit sal ewe nodig wees?

Antwoord: 

Ek is so bly jy vra die vraag, want ek dink jy is reg. Ek dink wat my dalk kan laat treur, sal dalk nie my naaste laat treur nie. En ek dink dit is hoe ons mense probeer oorhaal om verby die hartseer te beweeg. Ons bied vir hulle oppervlakkige woorde soos: “Dit sal beter word” of: “Kyk na al die goeie dinge wat daar in jou lewe is.”

Ek het ’n vriendin wat onlangs ’n miskraam gehad het. Sy het reeds drie kinders, maar het haar baba verloor. Almal het vir haar gesê: “Wel, ten minste het jy drie kinders… God het jou met drie kinders geseën.” Die realiteit is egter dat sy die verlies van haar baba betreur het – sy het smart ervaar. En vir God het haar smart saak gemaak, en ek glo God het saam met haar gerou, want God rou ook oor die dood.

Die dood was nie deel van God se oorspronklike plan nie; daarom dink ek ons moet meer genade aan ons naaste begin betoon; aan ons kollegas, miskien selfs ons huweliksmaat, sodat as hulle swaarkry of oor iets treur, ons dit nie as niks sal afmaak of dit wegwens nie. Ons moet hulle herinner dat God hulle hulpgeroep hoor.

Vraag:

In jou boek No More Faking Fine lyk dit of jy impliseer dat ons alles onder die mat probeer invee, of probeer om dit van God af weg te steek, wat regtig laf is, want ons glo Hy is ’n alwetende God. Ons verstaan dus dat Hy alles weet, maar ons ervaar hierdie geestelike blokkasie en probeer dan ons ware gevoelens en wat ons ervaar van God wegsteek. Jy sê ons moet net ophou daarmee – Hy weet alles so voel maar sleg.

Antwoord: 

Absoluut, en ek praat in die boek van my jare lange wandel met God en hoe lief ek die Skrif het en dit graag bestudeer en weet dit sê jy moet jou verbly. En ek weet die Skrif sê ons moet dankbaar wees en ek weet dit sê ons moet nie vrees nie, en al daardie dinge is waar. Maar ek het die konteks waarin hierdie verse geskryf is, misgekyk. Ek het na die boek Klaagliedere gekyk en “U trou is groot” gesien, maar al die klaagliedere misgekyk wat Jeremia tot by hierdie punt gebring en in staat gestel het om dit te sê. En ons leer dikwels in die Skrif dat hierdie beproewings lig en van korte duur is, maar dit is eintlik wanneer mense uiterste vervolging ervaar.

Vraag:

Hoe gebruik ’n mens die boek prakties? Hoe neem ’n mens alles in en pas dit dan prakties toe om tot by ’n punt van vryheid te kom?

Antwoord: 

’n Goeie vriendin van my is onlangs geskei. Sy is ’n bekende bedieningsleier en het nooit gedink sy sal skei nie. Dit is baie hartseer en toe lees sy die boek. Aan die einde van elke hoofstuk is daar gebede. Nadat sy dit gelees het, het sy vir my gesê: “Dit het my toestemming gegee om hierdie dinge te bid en uit te roep: ‘Here, waar is U? Hoekom het dit gebeur? Here, gaan dit altyd so seer wees?’” Sy het die boek dus gebruik as ’n hulpmiddel om haar te leer bid toe sy ellende ervaar het. Iemand anders kan dalk bemoedig word deur die derde afdeling van die boek wat gaan oor die goeie dinge wat uit treur kom.

Ek dink die vyand maak ons bang om ’n tydperk van hartseer binne te gaan. Ons dink dalk as ons daaraan begin dink, sal ons nooit ophou huil nie, of onsself nie kan regruk voordat ons werk toe gaan nie. Maar die Here gee vir ons kosbare skatte: Hy gee vir ons ’n nuwe loflied; Hy gee vir ons krag; Hy gee vir ons vrede wat ver bo ons begrip is wanneer ons treur. Sommige sal die boek dus lees net omdat hulle hoop nodig het dat hierdie hartseer nie die laaste lied sal wees nie.

Vraag:

Esther, is dit reg om te sê as jy eers een keer deur No More Faking Fine gewerk het en waarskynlik soveel dinge uit die verlede en hede hanteer het, jy wyser en slimmer is en skielik sal besef ek het nog nie alles hanteer nie en dan vir ’n tweede of selfs ’n derde keer deur die boek kan werk? Dink jy dis hoe dit sal werk?

Antwoord: 

Ek hoop so. Die meeste mense wat my gekontak het, sê hulle werk baie stadig deur die boek, omdat dit vir hulle amper ’n nuwe boodskap is. Ek dink wanneer ons ’n nuwe taal leer – as jy byvoorbeeld Frans gaan leer – gaan dit tyd neem. Aan die begin gaan dit nie baie gemaklik wees nie, en jy sal jouself dalk in die Franse kultuur moet verdiep om dit meer vlot te kan praat; dieselfde geld vir treur.

As ons in ’n kerk grootgeword het wat ons geleer het ons moet sterk wees en voorgee alles gaan goed, gaan hierdie ’n nuwe manier wees waarop God ons bedraad. Hy gee vir ons toestemming om ons diepste nood en hartseer voor Hom uit te stort. Soveel mense lees die boek stadig sodat hulle dit kan verwerk en inneem en God toelaat om in hulle eie seisoen met hulle te praat.

Vraag:

Wat lê volgende vir jou voor? Is daar enigiets op die horison? Namate ek deur No More Faking Fine gewerk het, het ek besef Esther Fleece weet waarvan sy praat. Ons het nog meer nodig – wat kan ons verwag?

Antwoord: 

Ek waardeer dit. Vir nou het ons ’n webwerf, www.estherfleece.com, waarop daar ’n treurblad is waar mense hulle getuienis kan gaan deel, want ek weet ons elkeen se getuienis verskil; dit is wat God so wonderlik maak. So ek dink daar gebeur iets omdat mense begin besef: “Wag, ek hoef nie te maak of alles oukei is nie!” My rol op die oomblik is dus om net ’n fasiliteerder daarvoor te wees en ’n model te skep van “dit is wat dit beteken om nie oukei te wees nie, en dit is oukei om nie oukei te wees nie”.

Ek doen op die oomblik ook baie praatjies – ek sal graag Suid-Afrika toe wil kom. So ek praat en skryf op die oomblik nogal baie, en weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet hierdie nuwe taal van treur is ’n goeie handleiding om my deur die volgende fase te help loop.

No More Faking Fine word deur CUM Books in Suid-Afrika versprei. Bestel jou kopie vandag nog by http://www.cumbooks.co.za/no-more-faking-fine-paperback.