Kuier by

Skuilplek

Deur Jacqueline Leuvennink | Foto’s Marsel Roothman | Produksie Marselé Prinsloo

Catherine Groenewald, ’n kunstenaar van Stellenbosch, teken kinderboekillustrasies met dieselfde oorgawe waarmee sy haar nukkerige boerbok vang en hul gesin se plasie behartig.

God is my veilige fort en my hoë boomhuis. Ek kan soontoe gaan net wanneer ek wil, begin illustreerder Catherine Groenewald se weergawe van die geliefde Psalm 91 in nog een van haar boeke vir kinders, My Skuilplek. Catherine (45) was self die jongste van vier, die soort kind wat haarself soms begin soek het in die algemene familiegedruis. “As die luide gepraat, gelag en gekibbel te veel geword het, het ek hoog bo in ’n boom gaan wegkruip. Anders het ek in die pakkamer onder die trappe verdwyn of in die berg agter die huis. Altyd gewapen met my jongste boekvonds: grusame historiese verhale, asembenewende oorlewings op see of intense Russiese romans.”

Sulke tye was die jonge juffer doof vir enigiemand wat haar geroep het, afgesluit en veilig in haar wêreld van oorlewing, avontuur en intriges. “Gewigtige familie-aankondigings en argumente het dikwels by my verbygegaan.”

Sakgeld

Catherine se Britse ma, Elizabeth, het geglo in harde werk en heelgraan-pannekoek. Sy was nie een vir kortpaaie nie. As haar kinders êrens wou kom, moes hulle maar die 10 kilometer vanaf hul plasie in die idilliese Jonkershoekvallei na Stellenbosch op ’n fiets aflê. “Ma was op ’n skeepsvaart na Afrika om te kom onderwys gee toe sy my Afrikaanse pa, David Engelbrecht, ontmoet het. Ons het haar mooi breekware uit Engeland bewonder, maar dit nie altyd met die nodige versigtigheid hanteer nie. Dan sou sy dit maar net weer versigtig aanmekaar las, vasbeslote dat mooi goed gebruik en geniet moet word.”

Elizabeth het aangepas en ’n punt daarvan gemaak om David se taal, kultuur en familie in dié van haar en haar kinders se lewens in te weef. Haar dogter onthou haar pad met die Here as ’n oop, eerlike een: “Ma het nooit ’n geheim gemaak van haar mislukkings, openbarings en God se beloftes aan haar nie.” Die jong Catherine het vroeg vir haar ’n motorfietsie aangeskaf. “Ek het dit sorgvuldig uitmekaar gehaal en bout vir bout skoongemaak en geolie. My onafhanklikheid het afgehang van my vermoë om dit weer reg aanmekaar te sit, ’n besliste motivering. Ek het ook twintig hoenders aangehou sodat ek eiers aan die bure kon verkwansel, ’n manier om my begrotingsbewuste ouers se idee van sakgeld te subsidieer.” Sy het uitskot-slaaiblare by OK Bazaars gaan kry. Dit het beteken dat sy noodgedwonge in haar kunsklas moes instap met ’n groot swart sak onwelriekende groente oor die skouer, nou nie juis iets wat die seuns in die klas gaande had nie. Haar ouers wou vreeslose individue van hulle maak… “iets wat ek vandag waardeer. Maar destyds was ek oortuig ek gaan op die rak beland. Ek het gesmag na witbrood, Weense worsies en winkelklere!”

Skryf alles neer

Nog ’n groot invloed was haar pa se ma wat van 80 tot met haar dood op 95 by hulle gewoon het. “Ouma het altyd haar gehoortoestel met ’n pienk doekspeld aan haar moeë boesem vasgemaak. Sy kon ons boei met verhale uit die Boere-oorlog en het vertel hoe sy tydens die groot Depressie blomme langs die pad verkoop het. En van Mr Dean. ’n Engelsman wat op aandrang van haar ouers vir die Afrikaanse kinders diep in die Sederberge ’n liefde vir die Engelse letterkunde kom gee het. “Ouma sou in haar muwwerige ou leunstoel sit en gesels oor die swoeg en swaar van haar lang lewe en hoe sy daarna uitsien om haar Maker te ontmoet. Ek was trots op my Afrikaanse erfenis en het as kind alles sorgvuldig neergeskryf.”

Met hul jaarlikse vakansie het die gesin gaan kamp. Catherine onthou die jaarlikse ritueel soos volg: “Ons groot, bosluisoortrekte, kwylende en liefdehonger Doberman het op die voorste sitplek tussen my ouers gesit. Ons vier kinders en tien dae se proviand was agter op die 1300 (sekerlik die kleinste enjin ooit) Datsun-bakkie vasgemaak. Met ons aankoms by my pa se gasvrye Afrikaanse boereneefs is ons klokslag vergas met iets wat vir ons die ware begin van ’n vakansie versinnebeeld het: ’n yskoue Fanta. Ons is steeds in die skuld by die familie vir die geduld waarmee hulle ons totaal ontoereikende voertuig altyd weer uit die los seesand moes trek waar ons kamp opgeslaan het. Die neefs het ook vir my pa, ’n skrander man wat omtrent alles kon doen behalwe swem, kreef uitgeduik. En gesien hoe hul Engelse familie beetrooi verkleur in die skroeiende Weskus-son.”

‘Elke kind wat dit lees, moet met selfvertroue kan sê, ‘God verstaan hoe bang en eensaam ek soms voel. Hy sal deur dik en dun by my bly omdat Hy lief is vir my.’

Oop deure

Catherine het ’n beurs losgeslaan om mode-ontwerp te studeer nadat sy deelgeneem het aan ’n kompetisie om ’n matriekafskeidrok te ontwerp. “Die beurs het my gehelp om ’n keuse tussen mode-ontwerp en boek-illustrasie te maak. Ek het eersgenoemde gekies totdat illustrasie my tien jaar later gekies het.” Sy was in 2004 een van die wenners in die Nasionale Sappi Isiqalo Boekkompetisie, iets wat allerlei deure laat oopgaan het. Nadat sy haar groot vriendin, Sarah Oosthuizen, se boek Nosipho comes to stay geïllustreer het, was dit ook een van Bookchats se Boeke van die Jaar vir 2011. Die eerste drie boeke wat sy self geskryf het, het die verlies van ’n ouer aan die dood, MIV/VIGS en armoede as temas gehad. Met die navorsing wat sy gedoen het, het sy toenemend besef sy as ’n Suid-Afrikaner behoort ook meer begrip te hê vir die res van ons nasie se stories. Met My skuilplek, Psalm 91 vir kinders, wou Catherine verskeie kulture uitbeeld om iets van God as Vader vir die hele mensdom te wys. Dit is die helder, eenvoudige boodskap van God se liefde en bewaring in moeilike omstandighede.

“Met Ouma in my agterkop wou ek kinders laat sien dat ’n leeftyd se vertroue in God soveel vrede in jou ouderdom kan bring. Elke kind wat dit lees, moet met selfvertroue kan sê, ‘God verstaan hoe bang en eensaam ek soms voel. Hy sal deur dik en dun by my bly omdat Hy lief is vir my.’ Sy het ook pas die verhaal van Spreuke 31 voltooi waarin kinders uit verskillende kulture eer betoon aan hul ma’s, tantes, susters en oumas. “Dis ’n manier om kinders te herinner aan watter brawe dinge hulle kan doen as hulle net op God bly vertrou.” Die ma van drie (Hannah 19, Rachel 17 en Ruth 11) bly verruk en vermaak deur die skeppende proses. Sy voel om te sê soos die Skotse atleet Eric in die rolprent Chariots of Fire wat toe hy gevra is hoekom hy hardloop, geantwoord het: “Dan ervaar ek God se vreugde.”

‘Ouma sou in haar muwwerige ou leunstoel sit en gesels oor die swoeg en swaar van haar lang lewe en hoe sy daarna uitsien om haar Maker te ontmoet’

Kruispaaie

“Dit is soms swaar om my werk eenkant toe te skuif om weer ma, vrou en kosmaker te wees. Maar die Here herinner my baie sagkens daaraan om nie ’n afgod daarvan te maak nie. My gesin is vir my baie kosbaar. Wanneer ons saam kosmaak en buite onder die bome om die tafel kuier, is dit van my gelukkigste tye. Die kinders kan nes ek as kind hier in die afsondering van Jonkershoek in hul ou klere rondloop en net hulleself wees.

“My gebed is dat hulle die Bybel as die lewende, persoonlike Woord van God sal ken. En ek voel sterk daaroor dat ons elke dag lewe, hoop en voortdurende vergifnis oor ons land moet spreek.” Sy behartig die plasie, dink en besluit oor dinge soos die oprig van heinings en mure. Haar man, Graham (49), is ’n loodgieter en “die liefste mens op aarde”. As hulle soms ’n argument het en dit lyk of hulle mekaar nooit weer gaan verstaan nie, bely hulle hulle is sonder hulp van Bo nie opgewasse vir ’n huwelik nie. “En dan help Hy weer sodat dit nog beter en kosbaarder is as tevore. Ek voel steeds dat ek hierdie man wil leer ken wat reeds twintig jaar so ’n geduldige vriend vir my is…”

Die Here was altyd in haar lewe, maar sy moet steeds by kruispaaie opnuut vir Hom sê: Here, ek kies U. Ek kies U manier om getroud te wees, ma te wees, te lewe… “My boerbok, Lucy (Miss Houdini-the-escape-artist), het nou die dag weer die pad gevat. Die eerste keer het ek haar aan die been gegryp. Ek was huiwerig en sy het my teen die grond gesmyt, ’n pynlike ervaring. Die tweede keer het ek haar aan die horings beetgekry en geskreeu: ‘Jy is myne en ek vat jou nou huis toe!’ “Sy het dadelik bes gegee. Terug in haar kampie het sy aan my hand gesnuffel en my toegelaat om haar rug te vryf. Dit het my laat besef ek moet ook my sonde by die kruis neersit om weer by daardie gelukkige plek van vrede in die Vader te kom. “As als verkeerd begin beur, gaan lê ek op my slaapkamervloer en sê vir die Here wat ’n selfsugtige, onvergewensgesinde gemors ek is. Dan herinner Hy my hoe diep Sy liefde vir my lê. As ek later weer kan voortgaan om te leef en te skep, dink ek: Hoe op dees aarde leef ’n mens hierdie lewe sonder om God te ken?”

Sy engele sal my hoog optel as ek dalk sou struikel of val. God help my om diep in my hart dapper te wees…