My hart is in die herfs
Dis die seisoen van genade. Van grasie. 'n Tyd waarin die dinge wat werklik saak maak, by jou kom aanklop.
Die herfs hang stofbruin in boomlanings vol duiwe.
Hy's daar tussen die treinspore by Modderspoortstasie. In die louwarm skemerte bokand die platkopkranse by Clarens. op die Breë kuierstoepe van sandsteenopstalle.
In 'n laaste perske aan die boom. 'n Oulaas-roos in die voortuin...
Herfs vra dat ons gaan stilstaan by mekaar. Rustig hopies herinnerings bymekaarhark. Vir later seonthou op 'n koue, alleen wintersaand. Dit stroop dinge tot die essensie... Tot eenvoud. Saamwees. Gewone dinge.
Soos om brood te bak vir jou mense. Saam met die deeg word herinnerings ingeknie wat kinders hopelik later deur alleen- of hartseertye sal dra. Daardie vaste wete dat hulle behóórt en dat daar 'n plek is waar hulle veilig is en onvoorwaardelik aanvaar word.
In Derek Prince se boek Entering the Presence of God skryf hy oor Elia se ontmoeting met God op die berg Horeb. Die Here was nie in die aardbewing nie. Ook nie in die vuur nie. Eers in die stilte ná die vuur kon Elia se Skepper se stem hoor. "'n Fluistering in die windstilte," sê die Bybel.
Wanneer ek God se stem hoor, en Hy my seën, moet ek dit aangee. Die goedheid van die herfs behoort my aan te spoor om uit te reik na ander. Pleks daarvan om weg te kruip agter ontoeganklike mure of traliehekke, kan ek gerus die moeite doen om 'n skugter buurvrou oor te nooi en my deure oopte swaai dat sy oor my drumpel kan stap tot in die warm beskutting van my huis.
Laat die herfs jóú inspireer
- Bak 'n goudbruin poeding en gee dit sommer sonder rede vir iemand.
- Bel 'n vriendin wat ver bly.
- Gaan sit by jou kinders en luister na hul stories. Wys vir hulle die geel flertsies herfs in bome waat gister nog net diepgroen somerblare was.
- Gooi 'n rooi-en-wit tafeldoek op die gras oop en pak 'n feesmaal uit om saam die koms van hierdie gul seisoen te vier. Pampoenkoekies en geelperskes. Borrierys met rosyne. Hoenderpastei Sjokoladepoeding en roomys. Liefhê-kos.




![[foto: Stock Exchange]](/images/2009/11/4/15/1235779_40191361_130x130.jpg?1257339858)




Kommentaar - Geen kommentaar sover