Resessie en geloof

Geloof en ekonomiese krisisse

deur Schalk Schoombie Deel met ander Kommentaar
 
0/5.0
Geloof en ekonomiese krisisse

Al word jy môre wakker sonder 'n werk, of verloor jy alles wat jy besit, kan jy as gelowige weet - in God se ekonomie word daar vir jou gesorg, ongeag wat.

Die wêreldwye ekonomiese krisis raak ons almal - of dalk nie. Opportuniste en optimiste wat glo die glas is halfvol, en gelowiges wat glo in 'n alternatiewe ekonomiese bestel. Die Christelike ontleder Paul L Cuny skryf so daaroor: Soos alle regeringstelsels het die Koninkryk van God 'n ekonomiese stelsel. As burgers van hierdie Koninkryk het ons die geleentheid om onder dié ekonomiese beginsels en riglyne te funksioneer. Al is dit belangrik dat ons weet die twee ekonomiese stelsels (die wêreld s'n en God s'n) is hedendaagse realiteite, bly ons hoop, toekoms en bestemming gewortel in ons burgerskap van God se Koninkryk.

"Hy sorg vir ondernemings en regerings. Hy sorg vir mense. Hy verwag van ons om beleid te beïnvloed as Sy verteenwoordigers op alle kulturele gebiede. In God se ekonomiese stelsel kan jy te midde van die huidige ekonomiese onrus vrede, vreugde, vryheid en regverdigheid vind.

Lees maar weer, die Bybel loop oor met voorbeelde van wonderbaarlike uitkoms en gelowiges wat nie in krisistye verpletter word nie.

"Jou werk is nie jou bron nie. Jou hemelse Vader is jou bron en Sy skeppende krag en hulpbronne is onbeperk!" skryf die evangelis Joel Osteen. "God kan jou inspirasie gee vir 'n uitvinding, 'n boek, 'n lied of 'n rolprent. Hy kan jou 'n droom gee. Een idee van Hom kan jou lewensloop vir altyd verander. Met God aan jou kant is dit onmoontlik om te verloor. Hy kan 'n weg baan wanneer dit lyk asof daar geen uitweg is nie."

Wat besit jy nou eintlik?

Johannes die Doper het later in sy loopbaan besef dat sy gewildheid taan. Namate Jesus se bediening gegroei het, het die skares nie meer op hom toegesak soos voorheen nie. Hieroor was Johannes geensins beangs nie. Inteendeel, hy was bly. "Hy moet meer word en ek minder" (Johannes 3:27-30)

Die Christelike skrywer Gordon MacDonald sê Johannes se skare mense kan ons loopbane wees, ons bates, ons natuurlike en geestelike gawes, ons gesondheid. Word hierdie goed besit of bloot bestuur in die naam van die Een wat dit gegee het?

"Gedrewe mense beskou dit as besittings, geroepe mense nie.

Alles is tog Syne!

Ouditeur en skrywer Danie Vorster meen dat hoewel mense van hul vals sekuriteit ontneem word in die huidige klimaat - hetsy in hul geloofslewe, hul werk of hul papiergeld, het niks werklik verander nie.

"Psalm 24:1 verklaar dat álles aan die Here behoort - hy is die Eienaar van álles - die mens, die diereryk, die voëls, die visse, die aarde en see en riviere...

Verder is ons Skepper ook die Groot Voorsiener volgens Filippense 4:7, nie ons of die banke of werkgewers nie.

Ons moet wel kennis neem van die chaos en verwarring op wêreldmarkte en in ons eie land, maar nie om beangs te word nie, sê Danie.

Vertrou en hou aan gee

God kan krisistye gebruik om ons te help om goeie bestuurders te wees, meen Andries Enslin, predikant van die Albertonse Lewensentrum.

"God kan die nuus en media gebruik om ons oor sakeverwikkelinge te waarsku, maar Hy kan jou ook heeltemal téén ekonomiese tendense in lei."

"Ons is gespek om te gee, nie net om onsself te behaag nie," sê Joel Osteen. "As jy nie dié waarheid insien nie, sal jy nie die oorvloedige lewe wat God vir jou bestem het, ervaar nie. Ons moet soek na geleenthede om Sy liefde, gawes en goedheid met ander te deel. Dis 'n feit dat hoe meer jy ander mense help, hoe meer sal God sorg dat jy gehelp word."

Lees verder

Kommentaar - Geen kommentaar sover

Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na