Jou tiendes
My geld of Syne?
Martin Luther het eeue gelede gesê: “Christene gaan deur drie bekerings: eers van die verstand, dan van die hart en uiteindelik van die beursie. Die derde bekering is die bewys van ware bekering.
Patrick M Morley onderskei tussen drie hoofstroom-benaderings: die armoede-teologie, waar aanhangers besittings eerder as ‘n oorlas beskou. Hulle sal dit maklik prysgee en dit regverdig dit met tekste soos Lukas 18:18-30, waar Jesus die ryk jong man uitdaag om sy goed te verkoop en die geld vir die armes te gee.
Aan die ander kant is welvaart-teologie, waar mense redeneer dat welvaart net verdien word deur diegene wat daarop geregtig is, en gee hul tiende in die hoop dat dit vir hulle meer seëninge sal meebring.
Die derde, groepering kyk na geld vanuit ‘n rentmeestersbeskouing. God vertrou sy besittings aan mense toe en ons is die bestuurders van Sy bates. Enige vorm van rykdom is ‘n voorreg, nie ‘n reg nie. Dié denkskool is gegrond op Jesus se gelykenis van talente in Matteus 25:14-30.
“Ons moet verantwoordelik optree met God se geld en goed, sodat Hy ons met goed van geestelike waarde kan vertrou. As ons verantwoordelik is met die bietjie wat hy aan ons toevertrou het, sal hy ons ‘oor baie aanstel’,” sê Danie Vorster, ‘n geordende leraar en pratiserende geoktrooieerde rekenmeester.
Lééf so:
- Spaar elke maand ‘n vaste persentasie van jou salaris. Mik vir 10%, maar minder is ook ‘n begin.
- As jy rekeninge het, betaal dit betyds en vermy boete-rentes. Moenie uitstel nie!
- Los jou kaarte by die huis wanneer jy winkel toe gaan. Neem net genoeg kontant vir jou inkopielysie.
- Internetbetalings van jou rekeninge is nie net gerieflik nie, maar ook baie goedkoper as tjeks.
Craig Hill en Earl Pitts skryf in "Wealth, Riches & Money" dit is belangrik om te onthou dat God jou geldbron is, en dat ‘n salaris bloot een van vele moontlike kanale is waardeur Hy vir jou voorsien. God vra vertroue in Hom, nie die kanaal self nie. Mens moet ook besef dat God te eniger tyd kan besluit om van kanaal te verander.
Om jou werk te verloor beteken dus nie dat God ophou voorsien nie – Hy beoog dalk net om voorts deur ‘n ander kanaal te voorsien.
Vrywillig of verpligtend?
Hoekom word daar nooit in die Nuwe Testament uitdruklik van ‘n tiende gepraat nie? “Jesus wou ons leer om ‘n kopskuif na barmhartigheid te maak en die fokus te plaas op wat in ons harte aangaan as ons gee,” verduidelik pastoor Theo Geyser van die Stellenbosch Gemeente. Danie meen dis nie ‘n “elfde gebod” wat presies uitgewerk moet word tot op die laaste sent nie. Die geen van ‘n tiende behoort te getuig van ‘n spontane liefdesverhouding met God, een met wedersydse vertroue. “Het jy al daaraan gedink dat die Here jou eintlik met nege tiendes van sy geld toevertrou? Maar dan gebruik ons dikwels die Here se deel om ons maandelikse begroting te laat klop. Os dit ‘n wonder dat ons met ons geldsake sukkel? Die vrywillige gee van ons tiende aan die Here is ‘n geloof-in-aksie-stap. Hoekom vertrou ons die Here met ons siele, maar nie met ons geld nie?”
Waarheen met die tiende?
Moet jou geld na jou gemeente gaan? Pastoor Reon Louw van die Johannesburgse bediening conneXions for life en aanbieder van finansiële seminare sê ja en grond sy antwoord op Maleagi 3:10 waar die Here beveel dat die geld na die skatkis gaan. Maar dr ST Potgieter van die NG Gemeente Alberton-Oos verskil: Dis iets waaroor jy met die Here moet ooreen kom. Jou tiende behoort in die eerste plek aangewend te word ter verligting van nood. Dit kan iemand wees wat jy ken, of dalk ‘n ander gemeente wat sukkel.”
7 Goue beginsels vir geldsake
Pastoor Reon Louw van die Johannesburgse bediening conneXions for life en aanbieder van finansiële seminare gee die volgende riglyne oor geldsake:
- Leer om tevrede te wees met wat jy het (Filippense 4:11-12)
- Hou op begeer (Eksodus 20:17)
- Leef eenvoudig (1 Tessalonisense 4:11-12) Onderskei tussen lekker-om-te-hê en kan-nie-daarsonder-oorleef-nie.
- Pasop vir skuld (Spreuke 22:7) Bruce Howard, Amerikaanse professor in ekonomie sê dis nie die maklik verkrygbare krediet wat ons in die moeilikheid kry nie, maar eerder ons gierige geaardheid. “Krediet is maar net die petrol wat jou gierigheid aanvuur.”
- Betaal jou skuld (Romeine 13:8)
- Spaar! (Spreuke 21:20) Werk volgens die “geslote sirkel” beginsel. Dit beteken dat jy presies weet hoeveel jy nodig het om van te leef en dan streng by jou begroting hou. Alle bykomende inkomste word belê, eerder as wat jy dit uitgee en só jou sirkel pal bly vergroot.
- Pasop vir kitsrykwordskemas en dobbelary. “Spreuke 28:20 waarsku ons daarteen,” waarsku Reon. “Dis nie die oplossing wat die Here vir ons lewe in gedagte het nie. As die Here in jou geldelike behoeftes voorsien, is sy oplossing stap vir stap sodat jy in jou sukses kan ingroei.”







Kommentaar - Geen kommentaar sover