Verstaan jou manlike kollega

deur Engela Duvenhage Deel met ander Kommentaar
 
0/5.0
Verstaan jou manlike kollega

Dis nou maar eenmaal so: in die werkplek, waar tradisioneel Adamgerigte reëls oor die algemeen nog geld, kan verskille tussen mans en vroue maklik ‘n gemoedelike kantoorstemming in ys verander. Dit is nodig om die sakie met sensitiwiteit te hanteer. 

Het jy al opgelet hoe twee mans besonder sterk standpunt teen mekaar kan inneem, met die spreekwoordelike hare wat waai soos wat hulle ‘n saak beredeneer, net om ‘n half uur later weer soos ou vriende rondom die koffiemasjien krieketspankeuses te bespreek?

Dikwels, wanneer ‘n man en ‘n vrou egter in ‘n soortgelyke situasie is, loop gemoedere nog hoog lank nadat die gesprek verby is.

Victoria Simon en Holly Pedersen, Amerikaanse kommunikasiekonsultante, stel voor:

  • Moenie hom aanvat as jy ontsteld is nie
  • Kom vinnig tot die punt
  • Hou by feite, aksieplanne en probleemoplossing
  • Moenie by hom skinder oor kollegas nie
  • Probeer luister met jou intellek.
  • Vermy ‘n magspel.

Kom met voorstelle

Erken dit maar, jy's heimlik jaloers op die byna terloopse manier waarop jou manlike kollegas hulself gereeld genooi kry na ‘n kliënt se rugbylosie of geborgde gholfdag, en vir hulself die reg toe-eien om in werktyd te ontspan. 

Margaux Reitsma, ‘n Kaapse menslikehulpbron-konsultant, stel voor jy brom nie net agteraf oor die af-middae nie, maar dat  jy proaktief soortgelyke ontspanningsgeleenthede binne werkure skep.

“Gaan na jou baas met goed deurdagte voorstelle oor ‘n troeteldag vir die vroue by jou werk waarvoor jy tyd afvra, soos ‘n ontbyt of ‘n dag by ‘n spa. Reël waar moontlik met ‘n kliënt of verskaffer om dit te borg.”

Leer sê jou sê

As jy volgende keer weer in die teekamer is, luister ‘n bietjie na die dinamika van gesprekke en hoe daar beurte gemaak word met die praatwerk – of juis nie. Let veral op hoe gereeld man mekaar onderbreek nog voordat iemand se punt behoorlik gestel is.

Vir die meeste vroue is dit glad nie goeie maniere om iemand in die middel van ‘n sin te onderbreek nie, maar hierin lê ‘n groot verskil tussen die geslagte.

In die boek Sex Differences in Human Communication (Houghton Mifflin Company) deur Barbara en Gene Eakins, gee sosio-linguis Nancy Henley die teenvoeter om te keer dat sulke onderbrekings jou tot stilte intimideer:

  • Stel jou saak en hoofpunte met selfvertroue
  • Dwing jouself eenvoudig om te bly praat as iemand jou wil onderbreek.

So maak jy die punt dat dit jou spreekbeurt is, dat jy gehoor wil word en dat dit onbeskof is om jou te onderbreek.

Weet wat jy werd is

Baie vroue wat as diensverskaffers of konsultante hul eie onderneming bedryf, kla dit voel asof hul manlike kliënte hul intimideer as dit by finansiële onderhandelings kom. Hier is Margaux Reitsma se praktiese riglyne om te keer dat jy nie so maklik geïntimideer word as dit by jou geldsake kom nie:

  • Kry afstand tussen jou en jou geldsake. Laat iemand anders jou fakture, kwotasies en navrae daaroor hanteer – streng volgens jou instruksies, tarieflyste en tydskale.
  • Moenie gedwing voel om dadelik ‘n mondelinge kwotasie vir iemand te gee nie.
  • Wees gedetailleerd in die uiteensetting van jou tariewe, sodat die kliënt presies sien waarvoor hy betaal.
  • Wees bereid om te onderhandel, maar hou ‘n minimum tarief in gedagte.

Kommentaar - Geen kommentaar sover

Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na