Bryan Habana gesels oor sy geloof

Vyf vrae vir Bryan

deur Dawid Brand Deel met ander Kommentaar
 
0/5.0
Vyf vrae vir Bryan

Groot dinge het die laaste tyd in Bryan Habana se lewe gebeur - nie net op die veld nie, maar ook in sy hart.

Jy't 'n bul van 'n jaar agter die blad...

Ja, ek's in September verlede jaar getroud, ek het van die Blou Bulle na die WP geskuif en ek en Janine het in 'n nuwe huis ingetrek. Die hoogtepunt was egter dat ek die afgelope jaar my hart vir die Here gegee het. Ná 'n groeipad het ek 'n baie besliste geloofsbesluit geneem.

Vandaar die vinger na Bo ná elke drie?

Beslis. Ek het in 'n Christelike huis grootgeword, elke Sondag kerk toe gegaan, gebid, Bybel gelees, maar van 'n verhouding met God was daar nie sprake nie. Geloof gaan vir my nou oor meer as 'n daaglikse roetine van gebed en stiltetyd. Dit gaan oor 'n deurlopende verhouding. Oor algehele oorgawe aan God om die talent wat ek ontvang het tot Sy eer aan te wend. En om 'n verskil in ander se lewe te maak.

Hoe wil jy eendag onthou word?

As iemand wat met oorgawe geleef het; wat áls gedoen het om sy drome te laat waar word; wat geweet het waar sy krag vandaan kom; en wat 'n verskil in mense se lewe gemaak het. Iemand wat besef dat God Sy liefde eerste vir my gegee het - onverdiend.

Wat is die wanpersepsies oor wie jy regtig is?

Ek plaas 'n premie op privaatheid. Miskien kan dit as arrogansie oorkom. Ek's ook iemand wat huil. Oor armoede. Iemand wat hou van kuns en teater... Ek sal nooit vergeet hoe mooi Janine op ons troudag gelyk het nie - sy's alles waaroor ek nog altyd in 'n vrou gedroom het. Ons probeer werklik fokus om te groei as mense, as egpaar. Met God as middelpunt. Ons hoop ook om later met 'n gesin geseën te word.

Geld, politiek en sport kan nogals 'n plettervat word...

'n Mens moet nugter en wakker wees. Jy kan nie God én geld dien nie. Dit bly 'n keuse. 'n Negatiewe houding kan 'n mens laat struikel. Daarom is dit belangrik dat elke Suid-Afrikaner positief en patrioties is.

Kommentaar - Geen kommentaar sover

Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na