Binnelanders se Zetske van Pletzen oor geloof
Vyf vrae vir Zetske
Danksy die voorbeeld van haar ouers kyk sy vandag met oë van geloof na die “onmoontlike” sê Binnelanders-aktrise Zetske van Pletzen.
Wat het jou ouers se geloofsreise jou geleer?
Ek het in ‘n huis grootgeword waar die Here ‘n groot rol in ons lewe speel. Ons is nogals onkonvensioneel – ons sal byvoorbeeld Nagmaal tuis gebruik, nie net in ‘n kerk nie. My biologiese pa, Pierre van Pletzen, het gereeld Bybelverse teen die kombuismuur opgesit en ons laat saam bid. Hy’t ons geleer dat dit nie nodig is om met hoë woorde met die Here te praat nie, want Hy verstaan jou en ken jou hart.
Pa Joseph (Clark), ma ma se tweede man,se groothartigheid en die feit dat hy nooit sal sleg praat van enigiemand nie, is vir my ‘n inspirasie.
Ma Elzette (Maarschalk) het my geleer om die Here te loof en prys in alle omstandighede, nie nét wanneer dit goed gaan nie. Sy glo met passie dat niks vir God onmoontlik is nie.
En jou eie paadjie saam met God?
Ek’s in 2003 wedergebore. Die doop was vir my die volgende logiese stap. Ek en pa Joseph is op dieselfde dag gedoop. As kinders is ons van kleins af geleer om God te vertrou en Hom in alles te ken en gereeld met Hom te praat. Ek glo ook sterk aan die leiding van die Heilige Gees.
Wonderwerke – wolhaarstories of waar?
Ek glo dat niks vir God onmoontlik is nie. Hy kan énige slegte situasie ten goede vir jou laat uitdraai. Moenie kla nie, maar loof en prys hom – selfs vir die dinge wat vir jou moeilik lyk. Daar gebeur elke dag wonderwerke, ‘n mens moet net leer om jou oë oop te hou en jy sal die hand van die Here sien!
Wat maak jou werklik gelukkig?
Dankbaarheid. Ek glo geluk lê nie in jou omstandighede nie, maar in jouself. Al kan jy nie altyd jou omstandighede verander nie, kan jy jou persepsie daarvan verander!
’n Bybelvers wat jy na aan jou hart dra?
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee...” (Matteus 11:28-29)







Kommentaar - 2 opmerkings
Leona
Dit is wonderlik dat jy al van kleins af geleer het om op die Here te vertrou. Dit maak die lewe net makliker ten spyte van die moeilikhede en hartseer wat op 'n mens se lewenspad kom, want jy weet Wie in beheer is en Rom 8 se beloftes kan vir jou werklikheid wees. Ek wens dat ek op 'n vroeer ouderdom tot bekering gekom het sodat my voorbeeld aan my kinders beter kon wees en ek persoonlik geweet het na Wie toe om te gaan met my 'probleme'. Ek hoop baie mense lees jou storie, en dat dit 'n verandering in hulle persepsie sal bring.Bets Opperman.
Zetske, Ek het jou boodskap gelees en het nog nooit meer waar woorde as joune teegekom nie-ek stem heelhartig met jou saam en praat ook van ondervinding. Ons dien n God vir wie NIKS onmoontlik is nie-ek is baie lief vir Hom. Groete.