Aanlyn-selgroep: Gebed, deur Philip Yancey.

Hoofstuk 12: Die begeerte om vlot te bid

Deel met ander Kommentaar (1)
 
0/5.0
Hoofstuk 12: Die begeerte om vlot te bid

Jy moet jou eie manier kry van bid, nie iemand anders s’n nie.

Lees bladsy 173-186 van ons studieboek, "Gebed", deur Philip Yancey.

Selfs Philip Yancey het erken hy het ‘n tyd ervaar wat gebed vir hom betekenisloos voorgekom het. “’n Hele jaar lank kon ek aan geen egte gebede van my eie dink nie. Ek het eenvoudig gebede uit ‘n gebedeboek gelees en God gevra om daardie geskrewe woorde as my gebed te aanvaar, of ek dit opreg bedoel of nie. Toe het die wolk op ‘n dag weggetrek en ek het gewonder wat my probleem in daardie tyd nou juis was.”

Pas jou verwagtings aan

Wanneer elke gebed soos ‘n plig voel, soos ‘n huiswerkopdrag, bly hoop ons dat dit tot iets meer kan groei; dat daar iewers ‘n versteekte skat is as ons dit net kan uitgrawe. Yancey sê egter dat wilskrag nodig is vir gebed.

Lees bl 77 oor die sendingdokter in Ecuador.

“Dit bly vir my moeilik om te bid, maar so ook om iemand te vergewe wat my benadeel het, lief te wees vir my naastes en om te sien na behoeftiges. Maar ek volhard omdat ek daarmee God se opdrag gehoorsaam en ook omdat ek glo ek doenwat vir my die beste is, al voel ek nie altyd daarna nie.”

Selfs die dissipels het, na maande in Jesus se geselskap, ook gevra “Here, leer ons bid”.

En in die woorde van Moeder Teresa: “As jy beter wil bid, moet jy meer bid.” So eenvoudig soos dit.

Kies ‘n roetine

Lees bladsy 178  van Henri Nouwen se gebedsgewoontes. “Net soos Nouwen,” skryf Yancey, “waardeer ek gebed hoofsaaklik agterna eers. Die proses self voel soos werk... [maar] Ek is regtig meer geneig om gebeure en mense wat ek teëkom, vanuit God se perspektief te sien.”

Hier lê die crux: Jy moet jou eie manier kry van bid, nie iemand anders s’n nie. Die enigste noodlottige fout is as jy ophou bid en nie weer begin nie.

Daag op

Dit is asof die gejaagdheid van die hedendaagse lewe saamspan teen ‘n gereelde, bevredigende tyd vir gebed.  Die geraas van die inligtingsamelewing is ‘n hindernis en gebed kan maklik uitgedoof word.

Lees bladsy 181 van Yancey se proses van fiks word om saam met Peter Jenkins oor Texas te stap. “Ek het gou geleer om nooit vir myself te vra of ek lus is vir hardloop nie. Ek doen dit net.”

Soos met liggaamlike oefening berus baie van die voordele van gebed om bloot elke dag op te daag en dit te doen.

Twee wêrelde

Dit kan lyk of ek my wêreld verklein wanneer ek my uit die werklike wêreld onttrek om in ‘n kamer met ‘n toe deur te bid, soos Jesus gesê het. Eintlik gaan ek dan na ‘n ander wêreld wat net so werklik is, hoewel onsigbaar.

Gebed beteken deels om ons denke te vernuwe en dit behels twee stadiums. Eers reinig ek my gedagtes van dinge waarvan God nie hou nie en wat my benadeel (wat dieselfde blyk te wees) en dan laat ek God toe om my gedagtes met baie belangriker dinge te vul.

As ek gereeld bid, voel ek vry en sterk, gereede vir die uitdagings en versoekings van die dag.

Kortom, gebed nooi God in my wêreld in en gee my toegang tot Syne.

Soos baie ander mense het Yancey gevind dit help om ‘n vaste plek te hê waar hy kan bid. Henri Nouwen het ‘n instapkas in sy kamer tot ‘n bidvertrek verander. “Die blote feit dat ek daar is, beteken ek bid.”

Kommentaar - 1 opmerking sover

Koti

Alles is so waar wat hier geskryf is. Ekself is ongeveer die heeltyd in gebed en praat met die Here oor enigiets in my lewe. Maar dan het ek ook meer spesifieke gebedstyd waartydens ek met Hom praat oor die betekenis van 'n teksvers of 'n groter gedeelte in die Bybel wat ek beter wil verstaan en/of van toepassing wil maak op myself en my huidige situasie op daardie ooblik. Dit is asof daar breinselletjies oopgaan en ek inhoud van die Bybel met nuwe oe sien en verstaan. Dit veroorsaak dat ek die skrif ook makliker kan memoriseer en die plek waar dit is kan onthou. Hierdie tipe van gebed veroorsaak ook dat ek met minder persoonlike versoeke kom en meer genot vnd in die feit dat Jesus vir my 'n Rabbi word tydens gebed bo en behalwe dat Hy my verlosser en skepper en koning is.
Uitgesit op Do., Apr. 8ste 2010, 22:45
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na